Ons Plek sê dankie
Ons Plek Horison bedank hul donateurs en die gemeenskap na nog 'n suksesvolle jaar.
Ons Plek Horison het of 16 November hul jaarlikse dankseggingseremonie vir donateurs by die Gereformeerde Kerk Ontdekkers gehou.
Die geleentheid is deur ‘n wye verskeidenheid gemeenskapslede, sowel as Solidariteit Helpende Hand-bestuurslede, bygewoon.
Tydens haar toespraak het Ons Plek Horison se Laetitia Boerssen beide die bestuur, sowel as donateurs, hartlik bedank vir hul bydraens tot die sukses van die sentrum oor die afgelope jaar.

Sy het benadruk dat hierdie sentrum vir kinders vanuit die plaaslike gemeenskap nie net ‘n naskoolsentrum is nie, maar ook ‘n toevlugsoord.
“Ons kinders weet dat hier mense is wat vir hulle omgee. Ons kyk nie net na hul fisiese behoeftes nie, maar ook na hul persoonlike en geestelike behoeftes.

“Hier word hul taal, geloof en kultuur nie net verstaan nie, maar ook gevier. Jul bydraes stel ons in staat om hierdie uiters belangrike werk in ons gemeenskap te kan doen.”
Op haar beurt het naskoolonderwyser, Ivana Meyer, beklemtoon dat die sentrum nie sonder die ondersteuning van hul gemeenskap sou kon bestaan nie.

Sy het ook uitgewys dat geldelike donasies, alhoewel welkom, nie die enigste manier is waarop gemeenskapslede hulle kan help nie.
Na die formele program het kinders verbonde aan Ons Plek die gaste vermaak met prettige liedjies en danspassies, waarna ‘n heerlike ete bedien is.



