Local news

Ouma Koekie word 100!

Ouma Koekie van Witpoortjie is 100 en steeds perdfris en gesond.

Hendriena Pieterse, alombekend en geliefd as Ouma Koekie, het op 2 Desember haar 100ste verjaarsdag gevier.

Natuurlik is dit vir almal ‘n groot mylpaal om te bereik, behalwe vir Ouma Koekie self.

“Ek verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie,” sê sy kamma-kwaai. “Ek het immers al baie verjaarsdae gehad. Diè is net nog een.”

Volgens haar dogter, Ansie Blignaut, self al in haar 70’s, is haar ma nie gek na al die aandag wat haar gevorderde ouderdom aan haar besorg het nie, en het die verjaarsdag-euforie van haar honderdste jaar lank reeds getaan.

“Vir haar was die grootste geskenk die feit dat haar kinders en baie van haar kleinkinders van regoor die land gereis het om haar verjaardag te kom vier,” sê Ansie.

“Dit was ‘n wonderlike dag en oudergewoonte het almal gesmul aan die heerlike kos wat natuurlik onder haar streng instruksie voorberei is.”

Ouma Koekie vertel hoe sy en haar oorlede man – sy is al 30 jaar ‘n weduwee – eers op ‘n blommeplaas in Stubensvallei, op die huidige ligging van Clearwater Mall, waar hulle hoofsaaklik met Krisante en Angeliere geboer het, woonagtig was, en later na Hekpoort verhuis het.

“My kinders het daar skoolgegaan,” sê sy. “Daar was nie geld vir huiswerkers of elektrisiteit nie en ek het trots daarin geneem om my eie huiswerk te behartig en bakwerk in die kleioond te doen.”

Ouma Koekie is vandag nog wyd bekend vir haar bakvernuf.

Volgens haar seun, Marius, is sy ma ‘n meester in die bak van brood, beskuit en soetkoekies.

“Haar souskluitjies is die beste wat daar is en ek het haar onlangs eers omgepraat gekry om die resep met my te deel,” sê Marius.

Sy geniet dit steeds om in die kombuis bedrywig te wees, alhoewel dit deesdae meer in ‘n toesighoudende kapasiteit is.

“Sy kan nogal kwaai raak met daai kierie,” lag hy. “Gelukkig kan sy nie meer so vinnig hardloop nie.”

Ouma Koekie was in haar tyd ook ‘n meester hekelaar, en haar tafelnette was in groot aanvraag by vriende en familie.

“Die ou hande wil nie meer so lekker nie,” sê sy. “Anders het ek seker steeds gehekel.”

Verder, sê Ouma Koekie, is haar gesondheid goed, “Ek makeer niks. Drink nie eens bloedrukpille nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button