Local news

Drie Ou Ballies pak hul grootste fietstog nóg aan

Die Drie Ou Ballies vertrek binnekort op hul mees uitdagende liefdadigheidsfietstog nóg.

Die Drie Ou Ballies, bekend vir hul liefdadigheidsfietstogte deur Suid-Afrika, vat binnekort weer die pad – dié keer vir hul grootste uitdaging nóg: ’n rit van Pretoria tot by Swakopmund in Namibië.

Volgens oorspronklike Ballie-lid Eddie Steyn was hul eerste rit in 2024 Kaap toe (1 640km), asook verlede jaar se rit na Port Edward (875km), niks in vergelyking met wat hulle vanjaar aanpak nie.

“Verlede jaar was ons nie drie ou ballies wat gery het nie, aangesien my twee mederyers dit nie kon maak nie. Hierdie jaar het ek ’n hele nuwe span ingetrek, en kan ons onsself weer met trots as die Drie Ou Ballies voorstel.”

Vernon Dinkleman, wat vanjaar saam met Eddie die tog aanpak, sê hy berei hard voor vir die rit.

“Ek het al in matriek ernstig begin fietsry toe ek en ’n vriend Kaap toe gery het,” sê Vernon.

“My laaste groot rit was die Joburg2c-bergfietswedren vir my 50ste verjaardag 10 jaar gelede.”

Die Drie Ou Ballies: Geraldt Kok, Eddie Steyn en Vernon Dinkleman.Foto: Johan Meyer

Vernon voeg by dat hy ongeveer ’n jaar gelede in ’n ernstige motorfietsongeluk betrokke was en 17 dae in intensiewe sorg deurgebring het, waarna hy verskeie operasies moes ondergaan.

“Ek is omtrent die bioniese man met al die skroewe wat my lyf aanmekaar hou,” lag hy.

Eddie (69) het ook al verskeie mediese uitdagings oorkom en het reeds vier rugoperasies en ’n heupvervanging ondergaan.

Geraldt Kok, wat vanjaar die ondersteuningsvoertuig bestuur, sê die rit word, soos gewoonlik, ten bate van ’n liefdadigheidsorganisasie aangepak.

“Ons ry hierdie jaar ter bewusmaking en om geld in te vorder vir die Orthocross Amputee Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat hulle beywer om mense te help om kunsledemate te bekom.

“Die doel is om soveel mense as moontlik te help om die prostese wat hul lewens ten goede sal verander te kan kry.”

LEES OOK: Ruimsig parkrun veteran celebrates 250th milestone

Volgens Geraldt kan moderne prostese soveel as R200 000 kos.

“Daar is tegnologie wat tans ontwikkel word wat die prys moontlik kan halveer, maar dis steeds ’n aardige bedrag geld om mee vorendag te kom.”

Die rit begin op Saterdag 16 Mei by die Castle Walk Winkelsentrum in Pretoria, met die eerste skof wat by Constantia Kloof eindig.

“Sondagoggend spring ons weg na Potchefstroom, en ons beplande oornagstoppe sluit Delareyville, Vryburg, Kuruman, Olifantshoek en Upington in, voordat ons die grens by Nakop na Namibië oorsteek.

“Daarvandaan beweeg ons deur Namibië tot by Windhoek. Die rit eindig in Swakopmund.”

Eddie voeg by dat die beplande reistyd tussen 22 en 26 dae sal wees, afhangend van onder meer die weerstoestande.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Johan Meyer

"Johan is an internationally published journalist and editor with extensive experience in news and industry reporting. His work has featured in numerous publications over the years. He cut his teeth at the Roodepoort Record and Northside Chronicle as proofreader, swiftly progressing to junior journalist. He later joined Randfontein Herald as journalist and eventually worked his way up to becoming editor. During his years away from Caxton, he fulfilled journalist and editor positions for various industry publications at the once mighty Malnor Media House right up to their closure in 2019. This position saw him traveling all over the world on writing assignments. Since 2019, he has worked as a freelancer for various publishing houses, and had a year-long stint as senior editor for a large stable of retail and medical B2B titles, until rapid growth of his own small business required his fulltime attention. At the end of 2023, with his own business now fully staffed, Johan decided to dedicate himself to his first love, working as a local journalist for the good of his community. "

Related Articles

Back to top button