Bekroonde akteur en skrywer bied verhoogstuk aan
Die toneelstuk maak hierdie naweek sy debuut op die verhoog by NG Quellerina.
NG Kerk Quellerina bied hierdie naweek, in samewerking met Quellerina Uitreik Teater, ’n inspirerende vertolking van akteur en skrywer Simon Bruinders se verhoogproduksie, Die Voorhangsel Skeur, aan.
Volgens Simon handel die toneelstuk oor die kruisiging, opstanding en uitstorting van die Heilige Gees.
“Ek het al ’n paar jaar in my gees gevoel dat ek die drama moet skryf,” sê Simon, ’n bekende gesig in Suid-Afrikaanse TV-reekse, rolprente en verhoogproduksies sedert die 1980’s, en ook ’n lidmaat van NG Kerk Quellerina.
Simon het ook die regie van die produksie behartig.
“Ek wou die drie gebeurtenisse – die kruisiging, die opstanding en die uitstorting van die Gees – in een drama saamvat.
“Hierdie is die eindproduk. Daar het soveel gebeur, soveel smart en lyding, maar ook groot wonderwerke.
“Ons vertel uiteindelik die storie rondom die ongeloof van die dissipel Thomas.
“Belangrike insette word verskaf deur twee mense wat werklik verstaan wat gebeur het, naamlik Jairus se dogter en Lasarus.
“Albei is immers deur Jesus opgewek nadat hulle gesterf het.”
LEES OOK: Drie Ou Ballies pak hul grootste fietstog nóg aan
Volgens gemeentelid Emil Gryffenberg, wat die produksie help organiseer het, het die idee vir die toneelstuk in 2024 ontstaan nadat die gemeente Rick Warren se Die doelgerigte lewe-reeks behandel het.
“Die opdrag wat uit die boek voortvloei, was duidelik: Ons doel op aarde is om siele vir die koninkryk te wen,” sê hy.
“Soos ons selgroep deur die reeks gewerk het, het ons voortdurend gebid en die Here vir leiding gevra oor wat ons kan doen om sy opdrag uit te voer.
“Op die laaste aand van die reeks het Simon die idee vir ’n drama gedeel wat hy al jare lank wou skryf. Die konsep het almal in die selgroep aangegryp en opgewonde gemaak.
“Ons het vir Simon gevra om daardie Desember die drama te skryf.
“Ek en Simon glo dat ons deur die Gees gelei is om deur middel van hierdie drama siele vir die koninkryk te wen.”
Die drama vorm deel van NG Kerk Quellerina se 50ste bestaansjaarvieringe.
“Ds Barry van Rensburg het die teks vir ons nagegaan om seker te maak alles is in lyn met die Woord.
“Ons gebed is dat hierdie toneelstuk mense se harte sal aanraak, die saadjie van geloof sal plant en dat hulle deur verhoudings met diegene wat hulle genooi het, deel sal word van die gemeenskap van gelowiges.”
Die opvoerings vind plaas op Saterdag, 16 Mei om 16:00 en Sondag, 17 Mei om 15:00. Toegang is gratis.
Belangstellendes word versoek om vooraf te laat weet hoeveel mense in hul groep sal wees.
Vir meer inligting kan Emil Gryffenberg by emil@gryffen.co.za of 082 783 0087 gekontak word.



