Johannesburg-Wes Distrik spog met top matriekprestasie
Groot opgewondenheid het by Hoërskool Florida geheers met die aankondiging dat die Johannesburg-Wes Distrik weereens die top presterende distrik in die land is.
Johannesburg-Wes Distrik is vir die derde agtereenvolgende jaar as die top presterende distrik in die land aangewys, met ’n matriekslaagsyfer van 96.2%.
Hierdie aankondiging is met groot gejuig verwelkom tydens ’n funksie op Dinsdag, 13 Januarie, in Hoërskool Florida se skoolsaal.
Senior amptenare van die Johannesburg-Wes Distrik Onderwysdepartement en skoolhoofde uit die hele streek het reeds vroegoggend by die skool byeengekom om hul onderskeie skole se uitslae amptelik te ontvang.
In sy toespraak het Julius Katzke, hoof van Hoërskool Florida, elke onderwyser, skoolhoof sowel as die direksie van distrik opreg bedank vir hul harde werk en toewyding.

Die direkteur van die distrik, Lehlohonolo Ramokhoase, het beklemtoon dat hierdie distrik reeds vyf jaar agtereenvolgens onder die top vyf presterende distrikte in Gauteng en die land val.
“Ons verrig hierdie werk nie vir die lof wat aan ons geskenk word wanneer ons distrik goed presteer nie, maar ter wille van die kinders wat die toekoms van hierdie land is.

“Vandag is al ons gebede, harde werk en toewyding beloon, en ek bedank elke skoolhoof en onderwyser, want ons besef dit is nie ’n maklike taak nie,” het hy gesê.
Na afloop van die toesprake is skoolhoofde van regoor die streek met geesdriftige sang verwelkom toe hulle een vir een na vore geroep is om hul skole se uitslae amptelik te ontvang.



