Onnies en werkers pak mekaar in Havie Sokker Wêreldbeker
Leerders, onderwysers en werkers geniet 'n dag vol sokkerpret.
Die sportveld by Laerskool Dr Havinga was op 24 Junie ‘n miernes van bedrywighede toe onderwysers en algemene werkers mekaar die stryd aangesê het in ‘n sokkerwedstryd tydens die Havie Sokker Wêreldbeker.
Die wedstryd was nie net ‘n feestelike afsluiting van die kwartaal nie, maar het ook deel gevorm van die skool se Wellness to Life-aktiwiteite, wat by die Lewensvaardighede-leerplan inskakel. Gedurende die kwartaal het leerders aan verskeie sokkerwêreldbekerverwante aktiwiteite deelgeneem.

Volgens Lizelle Kies, departementshoof van die Grondslagfase, het elke klas ‘n land gekies en soveel moontlik navorsing daaroor gedoen.
“Die leerders het onder andere die groetvorme, kossoorte en unieke eienskappe van die land geleer. Hulle moes ook die land se vlag en die span se sokkertrui tydens kuns inkleur. Daar het groot opgewondenheid geheers toe die groepsfasewedstryde begin het, want elke klas het bankvas agter sy span gestaan. Die klasse het ook daagliks die geleentheid gehad om teen mekaar sokker te speel en sodoende hul grootmotoriese vaardighede op ‘n ander manier te ontwikkel,” het sy gesê.

Die hoogtepunt van die projek was die wedstryd tussen die personeel, waartydens almal met groot entoesiasme hul gunstelingspan ondersteun het.
“Die spanne het pragtige sokkertruie ontvang en die dag het seepglad verloop danksy die uitstekende organisasie van Junique Beyer,” het Kies bygevoeg.

Die skool se voormalige hoof, Leon Visser, was die spesiale gas by die geleentheid.
“Hierdie tipe aktiwiteite is baie belangrik, nie net vir die leerders nie, maar ook om die moraal van die personeel te versterk. Ek onthou nog die wedstryd wat ons tydens die 2010-Wêreldbeker gespeel het,” het hy gesê.

Die skoolhoof, Hugo van As, het gesê die positiewe gees en gesindheid onder personeel en leerders is vir hom ‘n riem onder die hart.

“Havies is soveel meer as net ‘n skool waar ons die gewone dinge doen. Ons is baie trots daarop om te weet dat hierdie skool ‘n koesterende omgewing vir ons leerders, personeel en ouers is. Vandag se aktiwiteite is weereens ‘n bewys dat Havies om die regte redes op almal se lippe is,” het hy afgesluit.



