Ballies bereik hul eindbestemming na oor die 2 000km op die pad
Die Drie Ou Ballies het 'n epiese fietstog vir 'n goeie doel voltooi.
Die gewilde Drie Ou Ballies het hul epiese fietstog van Pretoria na Windhoek suksesvol voltooi.
Die Roodepoort Record het vroeër berig dat die Drie Ou Ballies vanjaar met twee nuwe gesigte op pad was: Geraldt Kok, wat die ondersteuningsvoertuig beman het, en Vernon Dinkleman, wat saam met die oorspronklike Ballie, Eddie Steyn, die avontuur per fiets aangepak het.
Die Drie Ou Ballies maak sedert 2024 naam met hul langafstand-fietsritte wat hulle jaarliks ten bate van verskeie welsynsorganisasies onderneem.
Vanjaar se rit na Namibië, wat op 16 Mei by Castle Walk-winkelsentrum in Pretoria afgeskop het, is ten bate van die Orthocross Amputee Foundation aangepak. Die organisasie beywer hom daarvoor om prosteses aan minderbevoorregte kinders te voorsien.
• Lees ook: Drie Ou Ballies pak hul grootste fietstog nóg aan
Volgens Geraldt het die drietal hul tog op 1 Junie voor ‘n groot skare ondersteuners by Bossa in Windhoek voltooi.
“Ons was 15 dae op die pad en het een dag gerus,” vertel Geraldt.
“Dit was ‘n totale afstand van 2 026km per fiets.”
Hy voeg by dat die fietsryers naby Vryburg by ‘n oorstroomde gedeelte van die N14 hul fietse kaalvoet deur die water moes stoot.
“Die N14 was vir verkeer gesluit en ek moes met die Kombi en sleepwa ‘n ompad van 205km ry om weer by Kuruman by hulle aan te sluit.
“Ons is dank aan ons Hemelse Vader verskuldig vir Sy bewarende hand oor ons gedurende die hele reis.
“Ons het in beide Suid-Afrika en Namibië die meeste van ons verblyf gratis gekry en van die vriendelikste mense denkbaar ontmoet.
“Elke dag het ons vertrek sonder om te weet waar ons daardie aand sou slaap. Iewers deur die dag sou ons ‘n oproep ontvang van iemand wat van ons avontuur gehoor het en verblyf aangebied het. Ons uitgangspunt was om te fokus op wat ons moes doen en te vertrou dat daar voorsien sou word.
“Dit is baie lekker om in geloof en vertroue te leef.”



