Vinnig oor die grondpad

Ruan de Lange, een van Randfontein Oval Renbaan se jongste deelnemers, droom daarvan om eendag 'n professionele drywer te wees.

Ruan de Lange is een van die Randfontein Oval Renbaan se jongste drywers, maar hy het baie potensiaal en groot drome.

Die 17-jarige is ‘n leerder by Hoërskool Fochville en hy het op net 12 jaar oud op dié sport verlief geraak tydens ‘n byeenkoms by die Randfontein Oval Renbaan. Nes sy pa wat aan sleeprenne (drag racing) deelneem, was hy van die begin af baie gemaklik agter die stuur van die vinnige karre, en volgens Ruan ondersteun sy familie hom ten volle.

Ek was 12 jaar oud toe ek begin ry het, en ek ry nou in die 1660’s-klas. Dis vir my die opwindendste en kompeterendste klas, en dis ook gewoonlik die klas met die meeste inskrywings,” het hy gesê.

“Vir my is die lekkerste deel van wedrenne die adrenalien en die bestuurservaring wat mens opbou om so saam met mense te ry. Die slegste deel vir my is dat ons op grondpad ry wat beteken dat jy nie altyd ten volle beheer oor jou kar het nie, dan stamp en stoot mens soms teen ander karre, wat ‘n bietjie skade aan jou kar aanrig.”

Ruan de Lange is nog jonk, maar hy het baie potensiaal op die renbaan. Foto: Truter Prinsloo Photography

Hy was baie opgewonde om einde Augustus vir die eerste keer in vyf maande aan ‘n byeenkoms te kon deelneem. Volgens Ruan was dit baie moeilik om gedurende die grendeltyd nie sy passie te kon uitleef nie.

“Ek het in 2018 aan ‘n nasionale kompetisie in Bloemfontein deelgeneem en negende uit 25 karre in my klas geëindig. In 2019 het ek in Newcastle aan ‘n nasionale kompetisie deelgeneem, maar dit het nie daar so goed met my gegaan nie.

Dit was vir my regtig ‘n hoogtepunt om op 15-jarige ouderdom in Bloemfontein te kon deelneem, en in daardie selfde jaar is ek aangewys as die 1660’s kampioen van Randfontein Oval Renbaan,” het Ruan vertel.

Ruan het reeds meer as 40 trofeë gewen en mis nie sommer ‘n oefensessie by Randfontein Oval Renbaan nie.

Ruan de Lange het al meer as 40 trofeë bymekaar gemaak. Foto ingestuur.

Sy grootste doelwit is om eendag die titel van Suid-Afrikaanse Kampioen by ‘n nasionale kompetisie te verower. Hy het ook gesê dat hy al baie vriende deur hierdie sport gemaak het omdat almal op die renbaan ‘n passie vir vinnige karre deel.

By die skool neem hy graag deel aan verskeie sportaktiwiteite en hy deel ook sy pa se liefde vir sleeprenne.

Ek wil eendag ‘n professionele drywer word en my droom is om op Zwartkops of Kyalami V8’s in die SA Wesbank Modifieds te ry,” het die jongman bygevoeg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button