Bokke moet Saterdag wen om hul seisoen te red
Daar is net een onderwerp waaroor ek vandeesweek kon skryf, naamlik die toetswedstryd Saterdag teen Nieu-Seeland op Eden Park in Auckland. Daar is verskeie faktore wat my ’n effense beklemming om die hart gee. Die Springbokke se vertonings hierdie seisoen was nie naastenby so dominerend en selfversekerd soos verlede jaar nie. Ons het een wedstryd
Daar is net een onderwerp waaroor ek vandeesweek kon skryf, naamlik die toetswedstryd Saterdag teen Nieu-Seeland op Eden Park in Auckland. Daar is verskeie faktore wat my ’n effense beklemming om die hart gee. Die Springbokke se vertonings hierdie seisoen was nie naastenby so dominerend en selfversekerd soos verlede jaar nie. Ons het een wedstryd sleg teen die Australiërs verloor nadat ons na 20 minute 22-0 voorgeloop het, en ja, ons het die ander wedstryde gewen, maar ek dink nie daar is ’n ondersteuner in die land wat totaal oortuig daarvan is die Bokke gaan Saterdag wen nie.
Hul sg. ‘bomb squad’ het vanjaar nog nie vonk in hul lont gehad nie, verskeie sleutelspelers van verlede jaar, soos Frans Malherbe en Gerhard Steenekamp, is beseer, Siya Kolisi se kanse om Saterdag te speel was met die skryf van hierdie rubriek baie skraal, en die belangrikste faktor van almal is die wedstryd is op Eden Park, waar die Bokke laas in 1937 gewen en die All Blacks laas in 1994 verloor het.
Met die moeilike wedstryde later vanjaar teen Ierland, Frankryk en Argentinië, is hierdie volgende twee weke uiters belangrik. ’n Nederlaag Saterdag gaan die Bokke ’n knou gee vorentoe, en vrae sal beslis gevra word oor die vertonings van sekere, veral die ouer spelers, en indien die ‘bomb squad’ weer oneffektief is, sal dit ’n baie spesiale poging van Rassie en sy manne verg om ’n week later die bordjies in Wellington te verhang.
Die terugkeer van Bongi Mbonambi na Suid-Afrika om aandag te gee aan ’n familiesaak, is geen groot verlies nie want hy is nie naastenby die speler van verlede jaar nie. Dis interessant dat hy, ’n haker, deur Faf de Klerk, half vergete, vervang is, wat beteken dat daar nou vier skrumskakels in die span is. Hy speel deesdae nog goeie rugby en dalk gaan hy Saterdag een van die sterre wees, veral weens sy ondervinding.
Met Handré Pollard op losskakel en ander ervare manne in die agterlyn sal ons die All Blacks dalk kan klop – mits ons voorspelers ook hul kant bring. Ek besef wat ek hier geskryf het, is inderwaarheid algemene kennis, maar dis kardinale faktore wat die gang van die wedstryd gaan beïnvloed. En dan het ons nog niks gesê oor die All Blacks self nie.
Hulle het ook hul probleme gehad, teen Argentinië verloor in ‘n wedstryd waartydens van hul tekortkominge duidelik was, maar die feit bly staan tot nou toe was hulle jare lank op Eden Park onoorwinlik. Myns insiens die belangrikste wedstryd vir die Springbokke vanjaar.
Oom Pottie kou al klaar aan sy naels. Vroulief het onderneem om ’n klompie van haar valiums aan die Watergat te skenk vir diegene wat teen Saterdagoggend twaalf-uur in sak en as is. Dit laat my dink aan die studente-uitdrukking ‘tiekie-wawiel’. Mense van my ouderdom sal weet wat dít beteken.
Ons loopstorie kom van Piet Jansen van Umtentweni: Jan en Koos van Brakpan kan nie selfone beskostig nie en gebruik posduiwe. Jan stuur vir Koos ’n duif sonder ’n nota. Koos stuur terug: “Waar’s die nota?” Jan skryf: “Jou dom ding, dis ’n missed call!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
