NewsSchools

Suidie graad 1s ontvang tassies

Vanjaar word 4 600 skooltassies by Helpende Hand regoor die land aan graad 1s uitgedeel.

SOLIDARITEIT Helpende Hand het hierdie week splinternuwe skooltassies, volgepak met al die nodige skryfbehoeftes vir skoolbeginners, aan die graad 1s van  Suid-Natal Primêr in Port Shepstone uitgedeel.

Altesaam agt skole in Helpende Hand se KwaZulu-Natal-streek het aansoek gedoen en 120 tassies is in Januarie uitgedeel. Laerskool Suid-Natal het tien tassies ontvang. Al die nuwe graad 1s by díe skool is bederf met skyfies en ‘n klein geskenkie, en selfs ‘Mandy die Nar’ het haar verskyning gemaak om die kleingoed te vermaak met ‘n kulkunsvertoning, vasvrakompetisie en vuurdansvertoning.

“Met die nasionale 2014 Skooltassieprojek dra Helpende Hand by om behoeftige Afrikaanssprekende graad 1s te ondersteun om hulle skoolloopbaan op ‘n gelyke vlak met klasmaats te begin,” sê Dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê. Vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige gereedskap vir hierdie kinders skep.”

Elke tassie bevat ‘n skêr, gom, liniaal, witbord, inkleurpotlode, uitdraaikryte, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal. Vanjaar bevat die tassie ook die Bybelgenootskap se ‘My eerste Bybel doen en leer boek’, ‘n leesboekie van 30 bladsye wat kinders deur middel van Bybelverhale blootstel aan letters, syfers en woorde. Dit word deur die Bybelgenootskap geskenk.

Sedert die projek in 2007 begin is, is meer as 21 000 tassies reeds landswyd uitgedeel. Die skole word deur Helpende Hand se vrywilliger-gedrewe takke geïdentifiseer. Vanjaar word 208 skole deur die projek bevoordeel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button