LANDSDIENS skop vanjaar op hoë noot af deur die ‘Facta non verba’-toekenning te wen vir die kwaliteit aktiwiteite wat die klub aanbied. Suid-Natal Primêr se landsdiens klub is dan nou dié klub wat KZN op nasionale vlak sal verteenwoordig. Vyf personeellede, naamlik Kate O’Dwyer, Veronika Marx, Celeste Nel, Rencia en Chris Morrison, het die afgelope naweek opleiding te Illovo gehad en die skool is baie trots op hul landsdieners.

Die rugby, netbal en hokkiespanne vir die aandreeks by Gelofte Skool in Durban is gekies en almal sien baie opgewonde uit na Donderdagaand. Die deelnemers word alle sukses toegewens en die skool vertrou dat hulle Suid-Natal Primêr se naam hoog sal hou.
SNPS se O11 krieketspan het verlede week teen Creston gespeel en eerste gekolf. Na albei spanne se 20 beurte wen Suid-Natal met 39 lopies. Baie goeie kolfwerk gedoen deur Jaco Victor, met 52 lopies en Juan-dré du Preez met 58. Welgedaan aan hierdie spannetjie.
