Mev Doeminie skryf ‘n hygroman
‘n Predikantsvrou wat hygromans skryf? Ontspan daai frons en die kreukels in jou neus… ons almal kan doen met ‘n bietjie pret en plesier in die lewe!
Plaaslike blogger, oud-joernalis en predikants-vrou, René van Zyl, se eerste hygroman (of Romanza soos die litirêre wêreld dit noem), het pas op die boekrakke verskyn en ‘n tweede volg in Junie.
“Ja, dit sal dalk een of twee mense verbaas dat Mevrou Doeminie so iets sal waag, maar ek glo sulke verhale is nodig om mense vir ‘n wyle na ‘n ander, vrolike dimensie te verplaas en die hede te vergeet,” sê René wie se rubriek Mev Doeminie gereeld in Kormorant verskyn.
Lapa Uitgewers beskryf dié genre so: Het jy geweet wanneer jy ‘n romanse lees, veroorsaak dit ‘n chemiese reaksie in jou brein wat jou goed laat voel?
“Dit was ‘n drastiese verandering van genre. Ek is gewoond aan navorsing en feite wanneer ek skryf en skielik kon ek my verbeelding laat gaan. Ek moes maar diep krap in my jong verlede toe ek nog jonk en jukkerig was,” lag sy.
Dit is in totale kontras met haar vorige pennevrugte, soos die interaktiewe Bybelboekwurm wat sy geskryf het om kinders die Bybel van voor tot agter met behulp van speletjies en aktiwiteite te leer, of die jaarlikse Christelike blyspele wat sy in Hartbeespoort op die planke bring. Sy het ook ‘n paar jaar gelede ‘n aksie-avontuurverhaal Wee Monk’s Tale gepubliseer.
“Dit was nie aanvanklik my bedoeling om Romanzas, of hygromans, soos die publiek daarna verwys, te skryf nie. Ek het aanvanklik ‘n misdaadroman aan die uitgewers voorgelê en toe stel hulle voor ek verander dit in ‘n Romanza. Ek het nog nooit dié tipe boeke gelees nie. ‘n Ou getroude vrou wat romanse lees? Ek het ‘n paar by HAWS se boekwinkel gaan soek en tot my verbasing was dit sommer net heerlike ontvlugting.”
René het ‘n Romanza skryfwerkswinkel bygewoon en besluit om haar pen aan dié genre te slaan.
“Omdat ek as joernalis en skrywer van Bybelboeke gewoond is aan feite en baie navorsing, was dit vir verrassend hoe gemaklik ek die liefdesverhale geskyf het. Dit was heerlik bevrydend. Ek het so begeesterd geraak dat ek vier boeke in vier maande geskyf het,” lag sy. “En tot my grootste verbasing word twee onmiddellik aanvaar!’
Die eerste boek Liefdesafari is pas vrygestel en Alice se Ierse Avontuur is Junie op die boekwinkelrakke. “Dit word onder Lapa se Romanza-vaandel uitgegee en is gemik op die breë leesmark, veral vroue wat weer iets van die wonder van die liefde wil beleef.”
Haar ryk verbeelding, wat stories in alles sien, is ‘n groot hulp. “Omdat ek ‘n breingestremde kind het met al die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, leer mens om jou lewe met ‘n huppel en ‘n lag te hanteer. Ek dink hierdie tipe boekies is daarop gemik om die leser vir ‘n rukkie te laat vergeet van die werlikheid en sommer net die verhaal te geniet en bietjie te lag.’
Waar krap sy die storielyne uit? ‘Man, mens delf maar so bietjie in jou eie lewe en ander s’n. As ek eers begin, kry die storie ‘n lewe van sy eie, en voor ek weer sien, is dit klaar. Ek geniet dit vreeslik. Om die waarheid te sê, ek kan nou nie ophou nie!”
René se boeke is by die meeste bekende boekwinkels en ook aanlyn beskikbaar.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
