Rassie het ernstige probleme
Rassie sit boonop met ’n beduidende aantal van sy sleutelspelers wat beseer is, en sal vir seker nog baie hieroor wroeg.
Die lekker weer van die afgelope tyd het baie gedoen om ons algemene gemoedstoestand hier in die Watergat ’n hupstoot te gee. Ons kyk deur die dag nogal gereeld na die verskeie nuusdienste om tred te hou met wat in die wêreld daarbuite aan die gang is, en dit het ’n kwaai depressiewe uitwerking op almal wat sit en kyk. Sowel die buitelandse as die Suid-Afrikaanse nuus is meer dikwels ontstellend en bekommerenswaardig as opbeurend. Van ons besoekers sê hulle kyk nie na die TV-nuuskanale nie want ‘dis alles net negatief en sensasie’, en lees ook nie die koerante nie want hulle ‘verdraai die nuus’ en voer ons ‘linkse, liberale propaganda’. Hulle maak eerder staat op digitale bronne, sowel hier as in die buiteland, om by die waarheid uit te kom.
Baie mense met hierdie siening vermy die sg. hoofstroommedia want hulle hou nie van wat hulle daar sien, hoor of lees nie, en soek bronne wat by hul eie sienngs pas. Moet net nie probeer om hulle daarop te wys nie. Oom Pottie het dit by geleentheid gedoen, maar dit het so ’n onaangenaamheid veroorsaak dat ons hulle laat begaan. Nietemin duidelik laat verstaan ons hou minstens een van ons TV’s op ’n nuuskanaal want daar is mense, insluitend onsself, wat wil kennis neem van wat gebeur, al is dit hoe neerdrukkend. In verskillende interaksies oor die onderwerp het ek nietemin besef hoe groot die kloof tussen twee hoofgroepe in ons samelewing is wanneer nuus, inligting en politieke sienwyses ter sprake is. En een van die grootste redes hiervoor is ’n baie senior politikus in Washington wat mense se menings oor wêreldgebeure radikaal beïnvloed. No names, no packdrill.
Aan die sportfront was ons verheug dat die Stormers en Bulle deur is na die halfeindronde van die VRK. Jammer vir die Lions, ook vir Pottie, wie se drome weereens aan skerwe lê. Hulle speel fantasties tuis, maar het geen wegwedstryde gewen nie. ’n Spesifieke groot teleurstelling die naweek was die besering wat die Springbok- en Stormers-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu opgedoen het. Hy gaan mintens drie maande buite aksie wees, en dis ’n ope vraag of hy fiks gaan wees vir die All Blacks. Rassie sit boonop met ’n beduidende aantal van sy sleutelspelers wat beseer is, en sal vir seker nog baie hieroor wroeg. Hopelik kan hy terugval op planne B, C en D.
Ons loopstorie kom uit Pottie se argief.
Die sersant lê vier aansoeke van mense wat hulle by die Franse Vreemdelinge-legioen wil aansluit, voor aan die kaptein.
Sersant: “Hierdie aansoek kom van Langvingers Steelman, veedief, smokkelaar en brandstigter.” Kaptein: “Hy kan gerehabiliteer word – aanvaar hom.”
Sersant: “Goed Kaptein. Die volgende aansoek kom van Jakkalsgevreet Skelmloer, verraaier, renosterstroper en swendelaar.”
Kaptein: “Hy kan gerehabiliteer word – aanvaar hom.”
Sersant: “Goed Kaptein. Die derde aansoek kom van Skuinskyk Skurkenaar, juweeldief, kluisoopbreker en vervalser.”
Kaptein: “Hy kan gerehabiliteer word – aanvaar hom.”
Sersant: “Goed Kaptein. Die vierde aansoek is van ‘n baie senior ANC-politikus, Goodwill Mbeki.”
Kaptein: “Kan hom nie rehabiliteer nie. Too bad. Ons kan nietemin nie kla nie. Drie uit vier is darem nie te sleg nie.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
