Vat die gaping – maklike skoonmaak tussen tande nou moontlik
September is Nasionale Mondgesondheidsmaand.
In ’n poging om twee van die wêreld se algemeenste siektes – tandbederf en tandvleissiekte – teen te werk, stem tandheelkundiges saam dat doeltreffende skoonmaak tussen die tande noodsaaklik is, tesame met borsel twee keer per dag.
“Borsel alleen verwyder nie plaak tussen die tande op plekke wat moeilik is om by te kom nie. Dit is waar gingivitis (tandvleissiekte) gewoonlik begin,” sê Angelique Kearney, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mondhigiëniste (OHASA). Volgens haar werk vlos en ander interdentale toestelle goed as dit korrek gebruik word. “My pasiënte wat gereeld tussen hulle tande begin skoonmaak het, se monde het baie verbeter – minder of geen bloeding, varser asem en skoner tande.”
Dirna Grobbelaar, Ivohealth se raadgewer oor mondhigiëne, sê die ideale interdentale toestel hang van elkeen se voorkeur en mond af. “Spasies tussen die tande, tande wat oorvleuel, brûe, inplantate, ortodontiese toestelle en selfs die vorm van die tande speel ’n rol.”
Mense met effe groter spasies tussen die tande kan dalk vind dat ’n interdentale borsel beter as vlos sal werk. “As daar geen kontakpunt tussen die tande is nie, kan die vlos te maklik uitglip, wat dit moeilik maak om albei kante van aangrensende tande skoon te maak.” Grobbelaar sê inplantate en brûe word die beste skoongemaak met spesiaal ontwerpte vlosse wat by tandartspraktyke en apteke beskikbaar is.

Kearney beveel aan dat jy raad by jou mondhigiënis of tandarts vra, en ook vra dat hulle die gebruik van die vlos of toestel demonstreer. “As die vlos of toestelle nie korrek gebruik word nie, sal jy nie die gewenste resultate kry nie, ongeag wat jy gebruik. Deur ’n tandheelkundige se raad te vra, sal jou help om die regte besluit te neem en jou op die lang termyn geld en tyd spaar.”
Volgens tandheelkundiges is een van die grootste probleme met vlos gereelde gebruik. Net sowat ’n derde van Suid-Afrikaners sê hulle vlos of maak daagliks tussen hulle tande skoon. “Om dit ’n daaglikse gewoonte te maak, kry ’n vlos of interdentale toestel wat jou sak, jou mond en jou leefstyl pas,” sê Grobbelaar.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
