’n Paar dae gelede was die uwe in ’n gesprek betrokke waartydens seeverdrinkings in die algemeen en skeurstrome in die besonder bespreek is.
’n Mens sien dikwels hoe mense, veral kinders, by afgeleë strande waar geen lewensredders aan diens is nie, swem.
Ongelukkig geniet hulle hulself dikwels so baie in die water dat hulle vergeet die see kan binne ’n oogwink hul lewens neem.
Dit gebeur gereeld wêreldwyd, en die gesprek het gevolg op ’n mededeling van ’n vriend dat hy onlangs op vakansie aan die Suidkus amper deur ’n skeurstroom die see ingetrek is.
Die Afrikaanse woordeboeke noem die verskynsel ‘rip tide’ of ‘rip current’ ’n stygende-, groeiende gety of strome, of skeurstrome.
Ek verkies laasgenoemde benaming – die grootste oorsaak van verdrinkings aan die Suid-Afrikaanse kus, en dié van verskeie ander lande.
Omdat die maan se swaartekrag die water in die rigting van die gebied van die aarde reg teenoor die maan op ’n gegewe tyd trek, veroorsaak dit dat die water hier en aan die teenoorgestelde kan op die aardbol twee keer per dag ‘opswel’, en by die ander twee punte sak.
Dit veroorsaak ‘hoogwater’ en ‘laagwater’ twee maal per dag, wêreldwyd.
Springgety word een maal per maand veroorsaak omdat die son en die maan dan saamwerk vir ’n groter swaartekrag-effek.
Tydens vol- of nuwemaan is die aarde, son en maan reg teenoor mekaar.
Hier ekstra swaartekrag op een punt veroorsaak groter springgetye en laer laagwater.
Die sogenaamde ‘dooie gety’ of ‘neap tide’ gebeur twee keer per maand wanneer die maan in sy eerste of derde kwartier is, met die son en maan reghoekig teenoor mekaar.
Die son se swaartekrag-effek verminder dus die effek van die maan se swaartekrag op die aarde.
Daar is dwarsdeur die maand skeurstrome, maar is op hul kragtigste tydens springety.
Skeurstrome word veroorsaak wanneer die water wat die kus in golwe bereik, geweldig toeneem, en op ’n manier terug die see in moet vloei.
Dit beweeg dus deur die inkomende water binnetoe met geweldige stukrag. Mense wat hierin beland, word eenvoudig saamgesleur.
Daar is permanente skeurstrome, gewoonlik by eilande, rotse in die see, tussen riwwe en by hawemure.
Hulle is gewoonlik maklik herkenbaar en kan maklik vermy word.
Die probleem is die spontane skeurstroom wat skielik op enige plek kan ontstaan en mense wat selfs net in die vlak water loop, kan meesleur.
Strandwagte is gedurig op hul hoede hiervoor, en sal baaiers betyds waarsku om weg te beweeg.
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut is dit met geduld en noukeurige observasie redelik maklik om ‘n skeurstroom te identifiseer.
Dis nie moeilik om te sien dat water in ‘n kanaal of ‘rivier’ tussen brekende golwe van die strand af weg beweeg nie. Hierdie stroom sal nie noodwendig loodreg terug van die strand af vloei nie.
Van hulle vloei skuins, soms met ’n ‘elmboog’ of twee voordat tot agter die branders.
Wees bedag op ‘n strook water van ’n verskillende kleur as die omringende water, ’n verandering in die inkomende patroon van golwe (dikwels breek die golwe nie in ’n skeurstroomkanaal nie), seegras ‘sandwolke’, puin wat terug die see in beweeg, of algemene onstuimige water wat in ’n rivierformaat terugvloei.
Die NSRI wys daarop swem met die minimum risiko is daar waar lewensredders aan diens is, maar indien iemand skielik deur ‘n skeurstroom meegesleur word, moet die persoon nie paniekbevange raak nie.
Probeer die volgende doen, al is dit makliker gesê as gedaan. Indien jy kan, hou jou voete op die grond. Moenie jou energie mors nie, en skree of gee tekens dat jy hulp nodig het. Bly kalm en dwing jouself om te ontspan.
Jy kan nie ’n geveg met die oseaan wen nie. Swem stadig, dwars, en indien jy nie uit die stroom kan beweeg nie, laat die gety jou inneem tot agter die branders waar die skeurstroom normaalweg stadig kalmeer en verdwyn.
Indien jy nie kan swem nie, trap water of probeer om op jou rug te dryf. ’n Skeurstroom sal jou nie onder die water intrek nie.
Solank jy kan dryf is jy veilig. Wanneer jy nie meer meegesleur word nie, swem stadig en rustig, en indien nodig. diagonaal terug totdat hulp jou bereik of jy by die strand uitkom.
Hoe kan ’n mens ’n skeurstroom herken? Kyk vir gapings tussen die inkomende branders. ’n Kalmer stuk water in ’n andersins rowwe see is waarskynlik ’n skeurstroom.
Let op vir donker gekleurde water by die strand. Dit kan ’n skeurstroom wees met sand, sediment of puin op pad terug die see in. Vermy ook water by getymure, hawehoofde of visvangplatforms.
In my studentejare het ’n ou visserman op Kalkbaai in die Kaap op ’n dag aan my en ’n meisie gesê toe ons naby die hawe ’n entjie die see wou ingaan om ’n gevlekte snoek af te was: ‘Daa’s ’n kraan. Moetie met die ocean sukkel nie, djulle, hy’s nie djulle spielmaat nie.’
Inderdaad.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram