BlogsOpinion

Kerstyd-gewaarwordinge, irritasies met ‘n goedvoelstorie

Ons word lankal reeds nie meer 'n Geseënde of selfs 'n Gelukkige Kersfees toegewens nie, maar wel Happy Holidays of Festive Season en die ekwivalente Afrikaans.

Die uwe is nie lief vir hierdie tyd van die jaar nie. Nie omdat dit Kerstyd is nie, maar wel omdat hierdie belangrike dag vir die Christene so blatant gekommersialiseer is. Dis asof dit jaar na jaar erger word. Op TV en radio, in die winkels en ander besighede, deesdae bitter min te sien van ‘n krip in ‘n stal in Bethlehem, maar ‘n veelheid van simbole afkomstig uit Amerika. Sleë, takbokke, sneeubedekte dennebome en my grootste irritasie, ‘n groot, vet ou man met ‘n baard in rooi en wit warm klere, die skepping van Coca-Cola met die maatskappy se 50e verjaardag in 1936, en nog steeds met ons in sy volle glorie.

Ons word lankal reeds nie meer ‘n Geseënde of selfs ‘n Gelukkige Kersfees toegewens nie, maar wel Happy Holidays of Festive Season en die ekwivalente Afrikaans. Ons mag mos nie ander gelowe of nie-gelowiges aanstoot gee of Kersfees in hul keelgatte afdruk nie. Op Supersport sing bekendes ‘It’s the most wonderful time of the year’ en die gepaardgaande beeldmateriaal is onder meer die een sportsoort na die ander se toernooie of wedstryde. Ja, ek besef dis dalk ‘n oorreaksie of oordrywing, maar dis tot daarnatoe. Ek voel presies soos Bill Watterson, ‘n bekende Amerikaanse spotprenttekenaar: ‘O, kyk, nog ‘n spesiale Kersfees-TV-aanbieding! Hoe aangenaam om die betekenis van Kersfees aan ons te bring deur Cola-Cola, kitskos en bier. Wie sou ooit raai dat produkverbruik, gewilde vermaak en spiritualiteit so harmonieus sou meng?”

Ek hou van goedvoel-Kersfeestories. Soos die verhaal wat ek jare gelede in die Dolder-hotel in Zürich, Switserland, by ‘n Oostenrykse joernalis gehoor het. Dit het net na die Tweede Wêreldoorlog in haar land afgespeel. ‘n Jong pastoor en sy vrou word net na die oorlog beroep na ‘n klein maar ou plattelandse gemeente in Oostenryk. Dis die arm deel van die dorp, en die kerkie lyk erg verweer. Die pastoriepaar besluit om in te spring, en hulle verf en herstel en gaan tekere.
Net toe dinge begin beter lyk, tref ‘n kwaai winterstorm die dorpie twee dae voor Kersfees en ‘n groot deel van die muur agter die kansel tuimel in. Wat nou? Die twee van hulle gaan van veiling na veiling… by die laaste een van die dag maak die afslaer ‘n houer oop en haal ‘n tafeldoek daaruit met ‘n lengte van so vyf meter.
Dis iets besonders. Ou ontwerp, maar ‘n lieflike stuk materiaal. Die afslaer verduidelik dis deel van iemand se eiendom waarop nooit beslag gelê is nie, en moet nou verkoop word. Die pastoor kan sien dit is nommerpas vir die gat agter die preekstoel. En die patroon-ontwerp is perfek vir ‘n kerk. Niemand bie juis nie, en hy besluit om ‘n aanbod te maak. Ses dollar. Die afslaer slaan die bod onmiddellik toe, en die egpaar is baie gou terug kerk toe. Daar sien hulle die tafeldoek pas perfek, en lyk fantasties.

Op ou Kersdag net na twaalfuur die middag sien die pastoor ‘n vrou in die koue op die sypaadjie voor die kerk vir ‘n bus staan en wag. Hy vra haar om in die kerk in te kom en warm te bly tot die bus kom. Sy bid eers, en terwyl sy sit en haar hande vryf, sien sy die tafeldoek. Met ongeloof staar sy daarna. “Dis my banket-tafeldoek!” Sy staan verbluf op, loop soontoe en vryf dit tussen haar vingers. “Kyk hier, hier is my voorletters in die hoek.” Die pastoor-egpaar is verstom. Hulle begin opgewonde met die vrou praat.

Sy vertel hulle was voor die oorlogsjare as Jode groot teenstanders van die Nazis, en hulle is aangeraai om so gou as moontlik in Switserland te probeer kom. Haar man het haar op ‘n trein soontoe gestuur, en sou haar volg sodra hy hulle besittings kon uitsorteer. Sy het nooit weer van hom gehoor nie, behalwe toe sy net na die oorlog ingelig is hy is gevang en in ‘n konsentrasiekamp dood. Sy wou die die tafeldoek saamneem nie, het dit aan die kerk geskenk, en is toe later die dag terug na Wene.

Daardie aand tydens die Kersdiens lyk daardie banketdoek baie spesiaal en gee atmosfeer aan die geleentheid. Na die diens staan mense rond in groepies en gesels. Feitlik almal oor die tafeldoek. Selfs die horlosiemaker van die dorp vra die pastoor uit oor die tafeldoek. Dis vir hom wonderlik, vertel hy, want hy en sy vrou het net so ‘n tafeldoek gehad wat hy vir haar in Brussel laat maak het. Hulle vertel hom van die vrou, en al wat hy bewend kon uitkry is ‘Kan dit wees dat sy nog lewe?’ Hy het uit die kamp ontsnap, en gehoor sy vrou het iewers in Switserland verdwyn. ‘Ek kon my nog nooit daarvoor vergewe nie!’

Saam is hulle later die aand Wene toe na die adres waar die vrou gesê het sy bly. Vyf minute ná middernag, op Kers-oggend, klop hulle aan ‘n deur. Iemand maak oop, en twee mense staan mekaar in ongeloof en aankyk voordat hulle mekaar vir minstens vyf minute lank omhels, sonder om enigiets te sê. Twee wat daarna nog dertig jaar hul lewens saam deurgebring het. Weer bymekaar gebring op Ou Kersdag….deur ‘n tafeldoek.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button