
Die hoogtepunt van die afgelope week was nie sport nie, maar die inhuldiging van die 47e Amerikaanse president, Donald Trump. Maandag, vroegoggend al, was hier mense wat verklaar het hulle het by die werk weggeglip of het hier na die seremonie kom kyk omdat dit om die een of ander rede by die huis nie moontlik was nie.
Hierdie keer is die seremonie weens die erge koue binne-in die Kongresgebou gehou, ‘n geskiedkundige en pragtig versierde plek. Dit was vroeg reeds duidelik dat ‘n groot aantal van ons klante Donald Trump aanhangers was wat hul held se groot terugkeer wou aanskou. Die anti-Trumpers het besef hulle sou hul woorde moes tel om nie ‘n onsmaaklike gestryery om tou te sit nie. Teen die tyd dat die uitsending begin het, was die Watergat meer as half-vol, en toe die nuwe president teen etenstyd met sy toespraak begin het, moes ons bontstaan om ‘n feitlik vol Watergat te bedien.
Ons het met die aanvang van die uitsending gevra dat geen opruirende kommentaar gelewer word nie. Daarna het almal rustig gesit en kyk, hoewel die Trumpbewonderaars se lyftaal openlik van stille bewondering gespreek het. Ons het, tussen die bediening deur, gesien hoe fantasties Melania Trump gelyk het, en hoe haar groot hoed verhoed het dat haar man haar op die wang soen. Hoe ‘n groep van die rykste mense op aarde bymekaar gestaan en opgewonde breed geglimlag het. Hoe oud-presidente Barak Obama en Mike Pence sonder hul wederhelftes opdaag. Hoe ‘n Swart pastoor soos ‘n besetene bid, met Donald Trump wat reg agter hom met ‘n glimlag op sy gesig staan. Hoe Trump tydens gebede met oop oë en Joe Biden met ‘n geboë hoof staan. Hoe Donald Trump die eed van getrouheid aflê sonder om sy hand op die Bybel in Melania se hande te lê. En hoe die nuwe president ‘n rits beloftes en uitsprake in sy toespraak maak, onder meer dat Amerika die Panamakanaal gaan terugneem en die Golf van Meksiko se naam gaan verander na die Golf van Amerika. Ook sy uitspraak dat sy regering net twee geslagte erken, manlik en vroulik. ‘n Uitspraak waarmee Oom Pottie en ek saamgestem het.
Vandeesweek gesels ons nie rugby nie. Die Sharks se powere vertoning maak my mismoedig, hoewel Pottie in ekstase was oor die Lions se klinkende oorwinning. Ons loopstorie kom van Santa Stander van Bethelehem in die Vrystaat, wat saam met haar man en skoonma hier vakansie hou: Dis die middel van die somer, Sondagmiddag. Jannie se pa het mense vir ete genooi. Een van daardie dae waarop ‘n mens nie anders kan as om te sweet en groot ongemak te verduur nie. Dis tyd om aan tafel te gaan sit en Jannie word deur sy pa beveel om die tafelgebed te doen. “Maar wat sê ek, pa?” wil Jannie vies weet. “Wat dink jy sou ek sê!” kom die antwoord.
Jannie buig sy hoof dramaties, soos sy pa altyd doen, en in ’n diep stem sê hy: “Liewe Heer, wat in hemelsnaam het ons besiel om hierdie mense te nooi op so ’n warm dag!”
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram