
Vroulief moet my maar verskoon, maar ek gaan hierdie week weer rugby praat. Sy meen ek oordoen dit, maar hoe kan ek anders as die Sharks die Bulle in Pretoria in die VRK-kompetiaie trap, nadat almal verwag het die Bulle gaan wen? En dit dan so te doen dat daar geen twyfel is oor wie baas was nie? Hul bonuspunt-oorwinning van 29-19 het hulle het na die vierde plek, net een punt agter die Bulle laat opskuif, en wat dit soveel meet spesiaal maak, die oorwinning was sonder talle van hul grootnaam-Springbokke soos Eben Etzebeth en Siya Kolisi.
Die Sharks se agterlyn het net te veel venyn vir die Bulle gehad, met Lukhanyo Am wat ’n skitterwedstryd gespeel het. Die jong vleuel Ethan Hooker het gewys hoeveel puik rugby-talent daar in Suid-Afrika is. Hy is ’n meneertjie. Die Sharks se afrigtingspan het na die wedstryd verklaar die span het besluit hulle gààn die wedstryd wen, en het dit gedoen.
Die wedstryd wat ons egter groot plesier gegee het met die hardlooprugby wat tentoongestel is, was die stryd op Ellispark tussen die Lions en die Stormers. Wanneer die manne van Johannesburg eers aan die hardloop gaan, is dit ‘n plesier om te aanskou. Ongelukkig was dit basies net in die eerste helfte, maar dit was goed om te sien. Quan Horn, Edwill van der Merwe en Gianni Lombard was puik. Veral Horn. Lanklaas ’n speler gesien wat so blitsvinning van die merk af is.
Intussen het die onenigheid onder ons besoekers oor Donald Trump voortgeduur met die omstredenheid rondom Afriforum se rol in die toenemende spanning tussen Amerika en Suid-Afrika. Ek gaan die saak nie bespreek nie, behalwe om te sê dis bekommerniswaardig dat so-iets soveel diep verdeeldheid in Suid-Afrika, en veral onder Afrikaners kan veroorsaak. Dis erg. Oom Pottie en ek moes gereeld met van ons besoekers praat om nie so driftig met mekaar te redeneer nie. Ook dat ons nie kan toelaat dat ander mense se besoek hier versuur word nie. Gelukkig het die versoek nie op dooie ore geval nie, en van gister af was dit rustiger.
Anders as op die sosiale media, waar mense mekaar erg slegsê, beledig en vloek. Ongeag wat ’n mens se mening oor Trump is, kan oor een ding saamgestem word: Hy is ’n verdelende faktor, nie net in die VSA en die res van die wêreld nie, ook hier in SA. Dis bitter jammer, want onenigheid onder mekaar gaan niks help in die stryd teen die gemeenskaplike politieke vyand, die ANC nie. ’n Interessante vraag is hoe RNE hierdie tameletjie gaan hanteer. Die DA en Die Vryheidsfront, onder andere, sal ‘n rol moet speel. Maar wat? Dis moeilike tye wat voorlê.
Ons loopstorie kom van John Woodburn van Durban, wat hier gekuier het na ’n dag op die gholfbaan: Ek hou nog steeds daarvan om die liefde van my lewe te bederf! As sy laat werk in die aand, bel sy my en sê sy is oppad! Dan tap ek lekker warm water met skuim solank in, sodat, as sy instap, sy dadelik kan begin om die skottelgoed te was.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
