South Coast Fever

Moederliefde: Is daar iets edeler op aarde?

Augustus is nou amper drie dekades Vrouemaand. Waarom? Om die gebeure in 1956 toe ‘n groep vroue uit protes teen die paswette ‘n opmars na die Uniegebou in Pretoria gehou het, te gedenk. ‘n Gebeurtenis wat destyds tydens die Apartheidsera deur die regering veroordeel is as ‘n opstand teen die staat, maar wat vandag, soos

Augustus is nou amper drie dekades Vrouemaand. Waarom? Om die gebeure in 1956 toe ‘n groep vroue uit protes teen die paswette ‘n opmars na die Uniegebou in Pretoria gehou het, te gedenk. ‘n Gebeurtenis wat destyds tydens die Apartheidsera deur die regering veroordeel is as ‘n opstand teen die staat, maar wat vandag, soos bv. die onluste in 1976, tereg beskou word as geskiedkundige gebeurtenisse in die geskiedenis van apartheid, en die stryd daarteen. Of ‘n mens nou daarvan hou of nie. Vrouemaand gedenk ook die reuse bydraes van vroue op ander vlakke van ons samelewing in sowel die verlede as die hede. Geen probleem nie.

Ek het egter ‘n afkeer daarin wanneer vroue- en ander organisasies, politieke partye, sportliggame en soortgelyke instansies, aandring op ‘n soort kwotastelsel moet om te verseker vroue neem hul ‘regmatige plek’ in die samelewingstrukture in. Wanneer vroue bv. noodgedwonge op liggame verkies word of in posisies aangestel word bloot omdat hulle vroue is, is dit myns insiens niks anders nie as ‘affirmative action’, met dieselfde rampspoedige gevolge as dieselfde beginsel wat op kleur gebaseer is

Toe die uwe dus vandeesweek besef dis vrouemaand, het ek besluit om iets te skryf, maar uit ‘n ander hoek. Deur te aanvaar dat die meerderheid vroue oor die wêreld heen ook moeders is, en die ou vrouemaand-clichès te vermy deur te konsentreer op moederliefde. Ek noem twee voorbeelde ter stawing: Na 21 jaar se getroude lewe, vra ‘n man se vrou hom om ‘n ander vrou uit te neem vir ete. ‘Ek is lief vir jou, maar ek weet sy is ook.’ Die ander vrou was sy moeder, 19 jaar reeds ‘n weduwee, en wie hy weens werksdruk en familieverpligtinge feitlik nooit sien nie. Hy bel haar, en sy vra ‘is iets verkeerd?’ Waarom anders sal hy haar dan bel? Hy vertel haar hy wil haar uitneem vir ete, en tyd saam met haar deurbring. Na ‘n stilte, stem sy in.

Die volgende Vrydag na werk, ry hy na haar huis toe. Sy wag vir hom, goed versorg, geklee in dieselfde rok waarin sy haar laaste huweliksherdenking gevier het. Op haar gesig die glimlag van ‘n engel. Toe hulle die restaurant binnestap, het sy haar arm by syne ingehaak, en hulle het by ‘n tafel gaan sit. Sy kon nie die spyskaart lees nie, en hy het dit gedoen. Sy het volg nostalgie na homgekyk en meegedeel dat sy dit gewoonlik vir hom as kind gedoen het. Hulle het lekker oor alles en nog wat gesels, en die aand terdeë geniet. Terug by die huis het sy hom meegedeel sy sal weer saam met hom gaan eet, maar sy sal dan die uitnodiging rig. Enkele weke later is sy ma aan ‘n massiewe hart-aanval oorlede. Binne dae kry hy ‘n brief van die restaurant met ‘n aanhehegde nota van sy moeder. “My seun, ek het hierdie rekening vooruit betaal, want ek was nie seker of ek daar sou kon wees nie. Indien nie, is dit vir jou vrou en jouself. Jy sal nooit weet wat ons aand saam vir my beteken het nie.” Op daardie oomblik het die seun verstaan hoe kosbaar moederliefde is. En hy het gehuil.

My tweede voorbeeld kom uit die diereryk. Jare gelede het die Fever ‘n brief ontvang van ene Chris van Barracudalaan, Leisure Bay, wat ek vandeesweek herhaal. Hy verwys na ‘n verhaal wat iewers tussen 1937 en 1943 in een van drie publikasies verskyn het, ‘Die Lig’, die ‘Huisvrou’ of die ‘Taalgenoot’. Die knipsel is deur Chris se pa in ‘n plakboek vasgegom, en hy kon dit nie loswikkel om te stuur nie. Daarom skryf hy dit woord vir woord, soos dit uit die pen gekom het van ene Willie Colling van Clairwood, naby Durban:

“Ek het op Glencoe-stasie, ‘n paar jare terug ‘n boklam gekry wat deur ‘n trein vermorsel was. Die koppie en voorpote het tussen die spore gelê en die agterlyfie buitekant die spoor. Die ongelukkige moeder het aanhoudend geblêr. Eers lek sy aan die een stukkende stuk van die lyfie, dan weer aan die ander stukkie. Ek het toe die twee stukkies van die lammetjie opgetel, weg van die spoor af neergelê omdat ek gevrees het dat die stomme ma ook dalk deur die trein doodgetrap sal word. Toe ek die stukkies wegdra, het sy onder my wou inkruip, en vreeslik tekere gegaan.

Met die neerlê van die ligaamsdele lek sy daaraan, storm terug na die bloedkol tussen die spoor, val vooroor op haar knieë en byt die grond. Daar in die vroeë ure van ‘n September-môre in die lig van my lamp was die toneel voor my, die van ‘n moeder in smart. Ek het weggestap, maar ‘n tydjie daarna weer gaan kyk met die bedoeling om die dier te verdryf voor sy ook onder die trein inspring, en wat sien ek? Sy is ook doodgetrap op die plek waar haar liefste se bloedvlek lê. Sy het gestaan en blêr weg van die spoor, maar toe die trein weer aankom, na die bloedkol gehardloop en is deur die trein doodgetrap. Dis moederliefde”.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button