‘Black Friday’: Nog ‘n aangenome Amerikaanse gewoonte
Die Suid-Afrikaanse bemarkers het ook behoorlik ingeklim, en van die groot winkelgroepe en kleiner sake-ondernemings glimlag breed.
Die uwe het eers ‘n jaar of twee gelede die eerste keer kennis geneem van die sogenaamde ‘Black Friday’-koopkoors aan die einde van November. Vanjaar was die advertensies baie meer prominent as voorheen. Alles was ‘Black Friday’. Van hamburgers tot motors en yskaste is teen spesiale aanbiedinge ge-adverteer as deel van ‘Black Friday’.
Met die eerste kennismaking van die naam het ek vlietend gewonder of daar nie aanvanklik ‘n rasse-konnotasie is nie. Daarna gedink dit herdenk die dood van iets of iemand. Verlede Vrydag het ek vergeet van die dag en in ‘n supermark hier op die Suidkus beland tussen ‘n horde mense in toue by die kasregisters met trollies vol goedere. Oral in die winkel was baniere met die woorde ‘Black Friday Specials’. Toe was my gemoed sommer swart. Van die baniere het dit duidelik gemaak ‘Black Friday’ sou hopelik ontaard in ‘n ‘Black Week’.
Na ‘n gesukkel om in ‘n groot verkeersknoop by die huis uit te kom met my bakkie jogurt en ‘n brood, het ek die oorsprong van ‘Black Friday’ gaan ‘Google’. Verskeie bronne gee verskillende verduidelikings. Almal stem saam die dag het ontstaan as gevolg van die Amerikaanse ‘Thanksgiving’ of Dankseggingsdag aan die einde van November. President Lincoln het destyds, nadat Dankseggingsdag op verskillende dae op verskillende plekke in Amerika gedenk is, bepaal dat dit op die laaste Donderdag in November sal wees. Die eerste keer toe die Vrydag na Dankseggingsdag ‘Black Friday’ genoem is, was in 1869 toe twee goudspekulante by name Jay Gould en James Fisk ‘n ineenstorting van die aandelemark veroorsaak en talle mense skielik op ‘n Vrydag bankrot was.
In eu het groot afdelingswinkels soos Macy’s op Dankseggingsdag straatparades gehou om verkope op die daaropvolgende Vrydag aan te moedig. Soos die jare verby gegaan het, het verwarring oor wanneer die dag gehou moet word, weer toegeneem, tot 1941, toe die Amerikaanse Kongres bepaal het dit moet op die vierde Donderdag van November gehou word. In die vyftigerjare het alhoemeer mense van die werk af weggebly en ‘n langnaweek geskep. Dit het hulle ook die geleentheid gegee om op die Vrydag te gaan inkopies doen. Die naam ‘Black Friday’ het in 1966 die eerste keer in die gedrukte media bekend geraak toe die naam gebruik is as verwysend na die verkeersknope en ongelooflike samedromming in die winkels van verskillende stede. Die dag was die nie-amptelike begin van die Kersvakansie-seisoen, en mense het die geleentheid benut om ‘n groot deel van hul Kers-aankope te doen. Die omsette van winkels het oor hierdie naweek die hoogte ingeskiet, wat die eienaars genoop het om hul deure op Dankseggingsaand reeds te open met ‘n paar ongelooflike goedkoop aanbiedinge om geesdrif te skep. Van 2013 af is dit ‘n algemene gebruik, met die gevolg dat ‘Black Friday’ in verskeie stede die beste verkoops- en drukste verkeersdag van die jaar is. Ook in baie lande van die wêreld.
Sommige bronne beweer hierdie massiewe finansiële hupstoot is die belangrikste rede vir die naam. Omdat die handelaars soveel geld moes uitgee om voorraad op te bou vir die dag, was hul finansiële state op Dankseggingsdag ‘in the red’, soos die Engelse uitdrukking lui. Met die koms van die Vrydag, het dit skielik verander na ‘in the black’. Een van die kenmerke van ‘Black Friday’, veral in Amerika, is die stormlope en gevegte wat uitbreek. Mense wag ure lank wag vir winkeldeure om oop te gaan en bv een van tien yskaste teen $50 dollar te koop. Hulle storm in soos soldate wat ‘n veldslag moet wen. Vroue-kopers ruk mekaar rond en pluk klere of ander goedere uit mekaar se hande. Die sekuriteits-afdelings van Amerikaanse winkels het hul hande vol om orde te handhaaf, maar die kasregisters werk oortyd.
Die Suid-Afrikaanse bemarkers het ook behoorlik ingeklim, en van die groot winkelgroepe en kleiner sake-ondernemings glimlag breed. ‘Black Friday’ is dalk die redding van baie kleiner ondernemings. Wie weet. Net jammer dit het nie ‘n minder depressiewe naam nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
