Amerikaanse Veghonde – moet hulle verbied word?
Die groot kompliserende faktor is die gebruik van hierdie diere in hondegevegte, wat onwettig is in talle lande, onder meer Amerika en Brittanje.
Vir die soveelste keer is Amerikaanse Veghonde (Pitbulls ) in die nuus weens dodelike aanvalle op mense in Suid-Afrika. Gevolg deur die voorspelbare openbare aandrang dat die ras in die land verbied word, tesame met die pleidooie van eienaars en verenigings van die honderas dat mense koelkop moet bly. Die liefhebbers van hierdie honde erken daar is Veghonde wat probleemdiere is, maar hulle meen sommige eienaars van hierdie honde is die probleem, nie die diere self nie.
Die uwe wil nie voorgee hy is ‘n deskundige op die gebied nie, maar wat hy oor baie jare by hondeskole en deskundiges geleer het, is dat die genetika, soos met ander diere op aarde, ‘n beslissende rol in die gedrag van honde speel. Hoeveel mense koop nie ‘n klein Siberiese Husky met oulike blou ogies nie, net om uit te vind hierdie ras is nie geteel om in huise of tuine te bly nie, maar om elke dag ure te hardloop en as lid van ‘n span slee te trek. Of ‘n Skotse skaaphond, en dan besef hierdie ras is hiper-intelligent en -aktief, wil aanhoudend besig gehou word en het ‘n baie groot tuin nodig.
In die geval van die Amerikaanse Veghonde is hulle afstammelinge van Bulhonde en Terriers wat in die 19e eeu in Engeland, Skotland en Ierland vir jag-doeleindes geteel is, meer spesifiek om half-wilde kuddes plaasdiere aan te keer en in bedwang te hou. In Amerika is die honde in 1898 die eerste keer deur die United Kennel Club as ‘n ras erken. Die ras word ook deur die Amerikaanse Hondetelervereniging erken, maar nie deur die American Kennel Club nie. In Amerika, en ook hier is Suid-Afrika, is eienaars beindruk deur die honde se lojaliteit, toewyding en atletiese kenmerke.
Die groot kompliserende faktor is die gebruik van hierdie diere in hondegevegte, wat onwettig is in talle lande, onder meer Amerika en Brittanje. In Amerika, en elders, is hierdie honde deur sommige eienaars in ‘gate in die grond’ teen mekaat laat veg met groot geld op die spel. Vandaar die ‘Pit’-konnotasie. Onverantwoordelike telers het hulle dus daarop toegespits om aggressiewe diere te teel, en hulle inderwaarheid te mishandel sodat hulle boosaardige temperamente ontwikkel het. Van hierdie kenmerke is uiteraard aan hul nasate oorgedra, en is waarskynlik een van die redes waarom daar so baie gevalle van Vegond-aanvalle op mense regoor aangemeld word. Kenners van die ras ontken nie dat daar probleemdiere is nie, maar plaas die blaam op die betrokke eienaars. Hulle hou vol enige honderas wat onverantwoordelik hanteer word, sal soortgelyke probleme veroorsaak.
Ongelukkig is dit ‘n feit dat mense in Suid-Afrika, met sy skrikwekkende misdaadsyfers, Amerikaanse Veghonde aanskaf om hulle te beskerm, die honde op hul eiendomme laat rondloop sonder om hulle doelbewus deel van hul huishoudings te maak, met die gevolg dat die geringste provokasie of ‘n hek wat per ongeluk oopgelaat word, lei tot aanvalle op mense, en veral kinders, met noodlottige gevolge. ‘n Baie belangrike faktor is dat talle honde met veghondbloed in hulle Pitbulls genoem word. Professor Sandra Swart, ‘n hondekenner van Stellenbosch wys in ‘n artikel in die Daily Maverick daarop dat die term ‘Pitbull’ nie ‘n duidelik-gedefinieerde kategorie is nie.
Volgens haar is daar minstens tien honderasse wat dikwels ‘Pitbulls’ genoem word weens blote persepsies en nie bloedlyne nie. Sy is daarteen gekant dat die ras in Suid-Afrika verbied word want dan sal ‘n aansienlike aantal honde onnodig ‘n genadedood sterf. Sy vra ‘n goeie vraag: Wat moet gedoen moet word met kruistelings? Moet hulle ook ‘uitgesit’ word? ‘n Verbode honderas kan bloot ‘n ander naam gegee word en die probleem laat voortduur. Sy wys daarop dat daar in die verlede ook soortgelyke probleme was met Duitse Herdershonde, Rotweilers, Boerboele en Dobermanns. Baie strenger teelvoorwaardes vir die rasse is ingestel.
Die uwe onthou spesifiek dat die Duitse Herdershond-federasie in die middel van die tagtigerjare van die SA Kennel Club af weggebreek het, en streng regulasies gegrond op Duitse beginsels ingestel het ivm. die teling van die ras. Wangedrag is binne enkele jare in hierdie ras drasties verminder weens die streng regulasies oor onder meer temperament waaraan telers moes voldoen.
Volgens professor Swart is daar twee opsies. Die eerste een is ‘n verbod op ‘n spesifieke ras, bv. die Veghonde. Of streng regulasies tov. gevaarlike honde in die algemeen, ongeag hulle ras. Die geskiedenis het in verskeie lande bewys die eerste opsie werk eenvoudig nie. Mense skaf bloot aggressiewe honde van ‘n ander ras aan. Die tweede opsie, waarmee die uwe saamstem, is die logiese uitweg. Benewens die feit dat regulasies tov. gevaarlike honde kompleks is, is dit duur en benodig dit harde werk, wisselend van spesiale permitte, verpligte sterilisasie, rekords van gedrag, tot strawwe vir nalatige eienaars. Dit sal beteken die verantwoordelikheid word vierkantig op die skouers van die eienaar geplaas en honde sal dan individueel gestraf word vir hul oortredings, pleks van ‘n honderas in die algemeen.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page