Adriaan Vlok – een van die min wat verantwoordelikheid aanvaar het
Verlede week het die uwe met leedwese verneem van die dood van oud-minister Adriaan Vlok. Ons het jare lank met mekaar te doen gekry tydens my diens in die Persgalery, en ek kan met oortuiging verklaar hy was een van die aangenaamste, eerbaarste en vriendelikste politici met wie ek in my lewe te doen gekry
Verlede week het die uwe met leedwese verneem van die dood van oud-minister Adriaan Vlok. Ons het jare lank met mekaar te doen gekry tydens my diens in die Persgalery, en ek kan met oortuiging verklaar hy was een van die aangenaamste, eerbaarste en vriendelikste politici met wie ek in my lewe te doen gekry het. Ongelukkig het hy, veral as minister van wet en orde, vasgevang geraak in die donkere dade van ons veiligheidsmagte in hul stryd teen die ANC.
Hy was ook een van die min ministers van daardie dae wat volle verantwoordelikheid aanvaar het vir dade wat gepleeg is deur mense wat onder hom as minister gedien het, asook vir die optrede van die regering waarvan hy deel was. Ek kan nie met oortuiging verklaar dat hy nie geweet het wat alles deur veral die Veiligheidspolisie aangevang is nie, maar wat ek wel eerstehands weet, is dat hy op sekere stadiums nie van alles bewus was nie, en dat hy in ‘n groot mate noodgedwonge met die stroom meegesleur is. Dit beteken nie dat die uwe hom wil verontskuldig nie. Hy het self by verskeie geleenthede verklaar hy was as minister verantwoordelik vir duistere dade. Adriaan Vlok is deur talle kritici verguis, en uitgelag, toe hy besluit het om verskeie mense wat hy om verskoning wou vra, se voete gewas het. Tog het hy bloot voortgegaan om te doen wat sy gewete hom genoop het om te doen.
Die Fever se lesers weet teen hierdie tyd dat een van my gunsteling skrywer/joernaliste Dana Snyman is. Omdat hy gedagtes op ‘n baie besonderse manier oordra, herhaal ek hier sy skrywe op sy Facebookblad net na hy van mnr. Vlok se dood verneem het:
“8 Januarie 2023
Dankie Oom Adriaan,
Vroegoggend op Facebook: oud-minister Adriaan Vlok is oorlede. Stuur dadelik vir Stefaans Coetzee ’n WhatsApp-boodskap: Het hy gehoor? Is dit waar? ’n Rukkie later laat weet Stefaans: Is waar, ja. Oom Adriaan is drie-uur vanoggend weg. Hy wil net huil, sê Stefaans. Stefaans, meer as die meeste van ons, het oom Adriaan geken vir die opregte, goeie man wat hy was. Stefaans, die Wit Wolf, die regse bomplanter wat n soort dapper liefde op ’n duisend-en-tien maniere begin leef het. Oom Adriaan het baie daarmee te doen. Stefaans was in die tronk toe oom Adriaan in sy lewe verskyn het. In 2007. Was bevoorreg om oom Adriaan ’n bietjie te kon ken. Het iewers in 2015 die eerste keer by hom in sy huis in Centurion gaan kuier saam met Niel Van Deventer-hulle. Sit onder ’n afdakkie op tuinstoele. Hy was ’n verskriklike mens, sê hy. Hy het verskriklike goed aan mense gedoen. Eenkant staan ’n ou Nissan 1400-bakkie – die bakkie waarmee hy daardie genadige dag na die Uniegebou gery het, met langs hom op die sitplek ’n drafhanddoekie en ’n skottel wat hy by Metro gekoop het. In ’n Nissan 1400 op pad na die kantoor van eerwaarde Frank Chikane in die Uniegebou – die man wat hy jare tevore saam met ander wou vermoor. Dieselfde 1400-bakkie wat hy daagliks vol kos gelaai en die townships in gery het om die evangelie van groente en pap en vleis te gaan bedien. Feed a Child. Ry daardie dag by oom Adriaan weg, en dink: F*k, f*k, f*k, ek het pas ons voormalige minster van wet en orde in ’n sentimentele oomblik omhels en vir hom gesê ek is lief vir hom. Twee jaar later gaan my verloofde weg. Selfdood. Ry tussen Victoria-Wes en Britstown, stukkend. Foon lui. Adriaan Vlok wat praat, sê die stem aan die ander kant. Seën my met sagte, wyse woorde. Depressie het ook sy vrou, Corrie, jare tevore gesteel. Was in November verlede jaar weer by oom Adriaan. Die minister wat in ’n swart pak en outokratiese swart hoed op poliseparades geparadeer het, sit met ’n verbleikte kêppie op die kop op ’n kombuisstoel, met ’n paar crocs aan – gestroop van alle waan. Ek word oud, sê hy en glimlag sy byna kinderlike glimlaggie. Soos die vorige keer is daar allerhande mense op die werf. Sukkelmense vir wie oom Adriaan herberg gegee het. Die minste onder ons het vir hom die meeste geword. In ’n vertrek is koelkaste vol kos. Steeds het hy die hongeres help voed. Ek wil saam met jou verdrietig raak, Stefaans. Uit nederige dankbaarheid vir iemand soos oom Adriaan, maar veral ook vir die mens – jy, ek, ons – se vermoë om te kan verander, om opregte berou te toon vir ons vergrype en nie lamgelê te word daardeur nie, maar om die wêreld ’n meer genadige plek vir ander te probeer maak. (Sterkte aan mnr. Vlok se nabymense. Baie mense dink aan julle.)”
Rus in Vrede Adriaan Vlok. Jy het my lewe ook verryk.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
