Wouter se Watergat
Die seun was deurentyd heel kalm, het mooi met sy pa gepraat, en hy het sy seun ewe vriendelik en ooglopend verstaanbaar geantwoord.
Vroulief en ek moes vandeesweek dringend vir ‘n familiebegrafnis al die pad Bloemfontein toe, Pottie was in Johannesburg, dus het ons die Watergat vier dae lank noodgedwonge gesluit, die eerste keer in 25 jaar. Daar is bitter min waaroor ons kan terugrapporteer, dus herhaal ek vir vandeesweek ‘n rubriek van so vyf jaar gelede wat tydloos, en myns insiens herhalenswaardig is. Ons sal aanstaande week weer op ons pos wees.
‘n Gautengse besoeker, Johann Gerber, het ons vertel van ‘n ervaring van hom en Estelle in ‘n restaurant in Derdelaan, Melville. Dit was een van daardie moderne, besige jappie-plekke met meesal studente en middeljarige mense as klante. Hulle het vroegaand daar gaan eet, en was reeds ‘n rukkie daar toe ‘n seun en sy erg bejaarde pa by ‘n sytafel teen die muur gaan gaan sit. Die pa was kwaai verswak, bril half skeef op die gesig, en terwyl hy sukkel-sukkel geëet het, soms met die hulp van sy seun, het van die kos op sy hemp en broek en selfs die grond geval. Die seun het dit bloot opgetel asof niks gebeur het nie.
Na ‘n ruk het van die jonger mense in die restaurant ongemaklik begin word, onder mekaar gepraat, en Johann het gehoor van hulle kon nie verstaan hoe ‘n seun sy bejaarde pa na ‘n restaurant soos daardie kon neem nie, al was die twee buite die sig van baie en eenkant. Die seun was deurentyd heel kalm, het mooi met sy pa gepraat, en hy het sy seun ewe vriendelik en ooglopend verstaanbaar geantwoord. Hulle het in ‘n stadium baie lekker gesels, en die seun het hom nie aan died ander eters gesteur nie.
Pa en seun het net een dis bestel en was redelik gou klaar, waarna die seun sy pa stadig na die toilet-waskamer begelei het. Toe hulle terugkom, was dit duidelik dat die seun die stukkies kos op sy pa se klere verwyder en die vlekke afgewas het. Alles was mooi skoon. Die ou man se hare was netjies gekam en sy bril weer mooi stewig op sy gesig. Die seun het die rekening betaal, en op pad uitgang toe het ‘n bejaarde man onder die restaurantgangers die seun luid gevra: ‘Het julle nie iets hier agtergelaat nie?’ ‘Nee meneer, ek het nie’ het die seun geantwoord. ‘Ek verskil van jou’, het die bejaarde man geantwoord. ‘Wat julle agtergelaat het is ‘n les vir elke seun en hoop vir elke pa!’ Daar was daarna ‘n geruime tyd lank redelike stilte in die eetplek.
Ons moet darem met ‘n glimlag afsluit: ‘n Blondine koop drie swangerskapstoetse en al drie wys positief. Sy vee die trane af en sê: “Jissie, ek weet nie hoe ek vir ‘n drieling gaan sorg nie!” En in Brakpan sit drie seuns sit en spog oor hul huislike omstandighede. Seun van Benoni: “Ons is vier kinders en elkeen het sy eie bed”. Seun van Boksburg: “Ag, ons is vyf kinders en elkeen het sy eie kamer.” Seun van Brakpan: “Daai’s niks. Ons is ses kinders en elkeen het sy eie pa.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
