South Coast Fever

Interessante feite oor die ontstaan en viering van Paasfees

Luther wys daarop vir baie Christene én nie-Christene, Jode én nie-Jode, is Paasfees vandag ook ’n tyd van eiers en hase.

Aan die vooraand van vanjaar se Paasnaweek het die uwe besluit om sy geheue te verfris oor die ontstaan daarvan. Tydens ‘n soektog op die internet het ek afgekom op ‘n artikel deur Jana Luther op die webblad van die Virtuele Instituut vir Afrikaans, wat ek met die Fever se lesers deel.

Luther wys daarop met Paasfees, ook Pase genoem, vier Christene die opstanding uit die dood (Opstandingsondag) van Jesus Christus nadat hy op Goeie Vrydag op Golgota aan ‘n kruis gesterf het. Christene vier Paastyd met plegtige kerkdienste en seremonies. In die Joodse geloof, daarenteen, is Paasfees – oftewel die Pasga of Pesach – die Fees van die Ongesuurde Brood. Die Joodse Paasfees herdenk die uittog van die Israeliete uit Egipte – die Bybelse verhaal wat in die boeke Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium van die Ou Testament vertel word. Tydens die Joodse Pasga wat sewe tot agt dae duur, word onder meer ’n lam geslag en ongesuurde brood geëet. Baie spesifieke eetvoorskrifte geld vir hierdie tyd. Die belangrikste viering in die Pasgaweek is die Seder, ’n feestelike ete op die eerste aand van die fees.

Die Sedermaal bestaan uit ses simboliese kosse: Haroset is ’n mengsel van appels, neute en wyn. Dit stel die mortel, die messel- of pleisterklei voor (die “dagha”) wat die Joodse slawe gebruik het om vir die Egiptenare hul piramides te bou. Daarby word ’n niebitter wortelgroente soos gekookte aartappel geëet, wat die slawe se harde werk verteenwoordig. ’n Lams- of bokboud op die tafel simboliseer die offer van die lam tydens Paasfees. ’n Hardgekookte eier vergestalt die offer in die tempel. Bitter kruie, soos peperwortel, pietersielie, groen ui of seldery, word geëet om aan die bitterheid van slawerny te herinner. Saam met dié maal word matso, ongesuurde brood, geëet. Die geskiedenis van die Joodse Pasga en die gebede en reëls vir die Seder is vervat in die Haggada, die boek wat Joodse gesinne en families by die tradisionele huisgodsdiens op die eerste twee aande van die Paasfees gebruik.

Luther wys daarop vir baie Christene én nie-Christene, Jode én nie-Jode, is Paasfees vandag ook ’n tyd van eiers en hase. Waar kom dié paashaas vandaan? Uit die Christene se Bybel of die Jode se Tora(h) kom hy tog nie. Die paashaas het sy oorsprong in Duitsland. In Afrikaans praat ons van “Paasfees”, soos in Nederlands ook, maar in Engels word dié tyd van die jaar “Easter” genoem, en in Duits “Ostern”. Die Duitse woord Ostern is die meervoud van Ostara, wat volgens sommige, onder andere die Duitse taal- en letterkundige Jacob Grimm, in Oudhoogduits die naam van die Duitse godin van die lente en vrugbaarheid was. Sy heet soms ook “Eostra”. Die woorde ?star?n en ?ostron en hul moderne ekwivalente (die Duitse Ostern en Engelse Easter) het dieselfde wortel. Al twee is afgelei van die Oergermaanse woord vir die ooste, *austr?n-, wat op sy beurt verwant is aan die Litouse woord aušrà wat die ‘aanbreek van die dag’ of ‘dagbreek’ beteken. Ostern was in Germaans die naam van die Lentefees wat in die Noordelike Halfrond gevier is lank voordat die Christene daar aangekom het. Taalkundig lyk dit dus asof dié fees na die opkoms of die terugkeer van die son genoem is. Toe die Christene hulle in Germaanse gebied vestig, het die Germane se Lentefees en die Christene se Paasfees saamgeval.

Terug na die paashaas: Kevin Shortsleeve, verbonde aan die Christopher Newport Universiteit in Amerika, vertel van ’n ou Duitse legende . Op ’n dag vind ’n meisie ’n voël in die sneeu. Die voël het seergekry en is sterwend. Die meisie bid dat die godin Ostara moet kom help. Ostara verskyn uit die lug op ’n reënboogbrug wat die sneeu voor haar voete laat wegsmelt. Toe die godin sien hoe erg die voël beseer is, verander sy hom in ’n haas en maak aan die meisie ’n belofte: Een maal per jaar sal dié haas terugkeer – met reënboogeiers!. Van die 16de eeu af word in Duitsland verskillende weergawes van dié mite opgeteken. In omstreeks 1680 duik die eerste verhaal op van ’n konyn wat eiers lê en dié eiers dan in ’n tuin versteek. Volgens Shortsleeve het Duitse en Nederlandse emigrante dié stories saamgebring na die Amerikaanse staat Pennsylvania. In die 1680’s begin kinders van Germantown in Pennsylvania met hoede en musse neste om hul huise maak, en Paasoggend is dié neste skielik vol kleurryk versierde eiers! Hoendereiers. Pennsylvania word Ostara se haas die Paashaas.

Vroeg in die negentiende eeu maak die eerste eetbare paashase hul verskyning in Duitsland. Eers hase van koek. Maar sjokoladehase, én eiers, volg vinnig. Nes paasbolletjies, wat tradisioneel 40 dae voor die begin van Paasfees vir Rooms-Katolieke en Anglikane se vastyd gebak is.. Oor die oorsprong van dié geurige gisbolletjies met hul kenmerkende broodkruis word ook verskeie stories vertel. Die geskiedenis van die paasbolletjie word tot die 12de eeu teruggevoer, toe ’n Anglikaanse monnik glo sulke speserybroodjies gebak en hulle ter ere van Goeie Vrydag met ’n kruis versier het.

Dankie aan Jana Luther en VIA. ‘n Geseënde Paasfees word aan die Fever se Christenlesers toegewens. Mag julle die ware betekenis daarvan ervaar.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button