‘Manne met baarde het meer kieme as hul honde’
Die verspreiding van siektes word meesal veroorsaak deur kontak tussen mense, of deur iets in te neem wat ‘n patogeen bevat.
‘n Onlangse TV-program oor manne en hul baarde het my herinner aan ‘n ervaring wat ek enkele jare gelede op die Suidkus gehad het. Dit was die motivering vir ‘n destydse rubriekbydrae in die Fever, en ek neem die vrymoedigheid om dit in herinnering te roep vir diegene wat dit nie destyds gelees het nie.
Daar is baie dinge wat jy ‘n stoere, ‘manlike’ man met ‘n spogbaard kan toevoeg wat hom sal kwaad maak, maar seker niks erger nie as om hom te vertel dat hy meer bakterieë saam met hom ronddra as ‘n hond nie. Die uwe het dit eerstehands ervaar toe ‘n groepie ou vriende verlede week by een van die plaaslike watergate bymekaar gekom het om een van ons se verjaardag te vier. Van die ses van ons, het net twee baarde: Een volbaard wat liefdevol versorg word volgens die jongste mode met allerhande fieterjasies soos olie en lekkerruikgoed, en die ander een met ‘n groeisel wat redelik kort gehou word deur dit elke tweede dag met ‘n spesiale knipper en skêr te versorg.
Ek het ‘n terloopse vraag, in die bondel in, gevra of iemand die berig gesien het van Switserse wetenskaplikes wat bevind het dat al 18 mans wie se baarde getoets is, bakterieë bevat het, en slegs 23 uit 30 honde dieselfde hoë mikrobiologiese tellings soos die mans gehad het. “Wat se nonsens is dit?”, was die reaksie van ‘n bekende inwoner van Shelly Beach met ‘n matige baard waarop hy baie trots is. “Is dit weer ‘n voorbeeld van daardie ‘fake news’ waarmee julle joernaliste julle deesdae besig hou?”
Ek het verduidelik die berig was heel geloofwaardig en is die hele wêreld ingestuur deur betroubare nuusagentskappe. Monsters is van die hare op die honde se nekke verkry. Die hoofnavorser, Professor Andreas Gutzeit van die Hirslanden-kliniek, het verklaar die studie bewys onteenseglik ‘dat bebaarde mans betekenisvol meer patogeniese mikrobes en mense-siektekieme saam met hulle dra as honde’. In gewone taal beteken dit eenvoudig dat honde ‘skoner’ is as mans met baarde. Die rede vir die span se navorsing was om te bepaal of dit higiënies is om honde in dieselfde moderne X-straalmasjiene te toets as mense. Al die bebaarde mans tussen die ouderdomme van 18 en 76 het hoë mikrobiese lesings gehad. Sewe van die mans se baarde het kieme bevat wat skadelik vir hul gesondheid kon wees. Die sewe honde wat nie dieselfde hoë lesings gehad het nie, het wel bakterieë gehad, maar baie minder as hul 23 maats en die bebaarde mans. Die professor het verduidelik ‘baardhare’ is growwer en krulleriger en onsuiwerhede klou makliker daaraan vas, met neushare en dié om die mond ‘n vrugbare teelaarde vir bakterieë.
Ek het die volgende dag ‘n paar bronne oor bakterieë geraadpleeg. Verskeie kundige medici op verskeie plekke op aarde wys daarop dis onmoontlik om van bakterieë af weg te kom, maar ons moet ook nie in vrees lewe nie. Een het onomwonde verklaar die meeste bakterieë is onskadelik, en indien ons daaraan blootgestel word, kan dit ons inderwaarheid help om ons immuunstelsels te versterk en gesonder te wees. Nog ‘n medikus se mening was “dit is ’n wêreld van bakterieë. Ons leef bloot daarin.” Daar is meer as een triljoen mikrobes op aarde, en die maklikste verdediging is gesonde verstand en om bloot om jou hande baie gereeld met seep en water te was. ‘n Oordrewe en soms patologiese strewe na higiëne is soms ‘n groter probleem. ‘n Professor van ‘n bekende Amerikaanse universiteit sê baie min mense word werklik siek deur aan iets te vat. Die verspreiding van siektes word meesal veroorsaak deur kontak tussen mense, of deur iets in te neem wat ‘n patogeen bevat.
Wat wel beklemtoon word, is dat voorsorg geneem moet word om onnodige risiko’s te voorkom. Soos om byvoorbeeld die spons-skoonmakers in jou kombuis-wasbak gereeld te vervang. Hoewel betroubare navorsing ook bevind het jou selfoon het meer bakteriee as ‘n toilet-sitplek, is dit nie nodig om nou skielik jou selfoon elke uur te ontsmet nie. Wees net bewus daarvan dat dit ‘n bron van bakterieë kan wees. Spyskaarte in restaurante wat met plastiek oorgetrek is, is feitlik onmoontlik om deurentyd skoon te hou. Indien jy dit nodig ag, was jou hande nadat jy jou bestelling geplaas het. Omdat daar sowat 700 soorte bakterieë in jou mond is, moet jy minstens elke twee of drie maande ‘n nuwe tandeborsel kry, al lyk die oue nog heel bruikbaar. Onthou ook dat die knoppies in ’n hysbak deur duisende mense gebruik word. In ‘n Amerikaanse hospitaal was die hysbak-knoppies erger besmet as die toiletsitplekke. ‘n Gebruik wat hier in Suid-Afrika alhoemeer toeneem, is die ontsmetting van die handvatsels van supermark-waentjies. Wat van openbare deurknoppe, veral in toilette? Jou eie rekenaar-sleutelbord, of gevaarliker, ‘n gemeenskaplike rekenaar by jou werk? En wat van geld? Hoeveel (honderd)-duisende mense het nie reeds sekere note of muntstukke gehanteer nie?
Gegrond op bg. is dit moeilik om nie paranoïes te raak nie. Maar ‘n deeglike bewustheid van gereeld hande was behoort die meerheid van ons te beskerm. Of dit ons gaan help teen die manne met die baarde, is ‘n ander saak. Of hoe, dames?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
