Wouter se Watergat
Org het waarskynlik al die pad plaas toe met ‘n glimlag op sy varkbakkies gesit.
Sjoe, maar was ons besig oor die laangnaweek wat eintlik nie een moet wees nie maar, tipies Suid-Afrikaans, een gemaak is deur Vrydag ook as ‘n werksdag te ignoreer. Nietemin, ons het nie gekla nie. Baie besoekers, lekker gekuier. Voulief het die deel van ‘n vark waarvoor ek die liefste is, ‘varkmaagrol’, het my ma dit altyd genoem, in groot hoeveelhede as ons ‘special’ gaargemaak, soos net sy kan. Met die kraakvel, Duitse mostert en appel mousse daarby. Ek kwyl soos ek skryf.
‘n Varkboer van Kokstad het verlede week hier ingeloer en ons groot hoeveelhede teen ‘n baie billike prys aangebied as ‘n insentief om van nou af ons varkvleis by hom te koop. Ons kon skaars voorbly. Lekker winsie, ekskuus wins, gemaak.
Met die bediening van die vark is daar verskeie stories met varke as onderwerp vertel. Dit het my laat besluit om vandeesweek al die ander onderwerpe te vermy, insluitend sport, en om die beste storie te kies. Johan Brand, ‘n eerste keerbesoeker van Kroonstad, het met die beste weergawe van ‘n redelik bekende verhaaltjie vorendag gekom: Twee broers, nie die aantreklikste ouens op aarde nie, het saam met hul ouers geboer. Ben en Len. Veral Len, die arme man, het het meisies laat skrik. Hulle was varkboere, nogal welgesteld, en hoor van ‘n prag-varkbeer wat te koop is. Hulle ry na ‘n plaas so 100 kilometer weg, koop die dier, en kom met hom terug. Hulle stop by ‘n dorpie vir ‘n middagversnapering by die hotel, en hoor die slegte nuus daar is ‘n padblokkade op pad huis toe weens ‘n skielike uitbraak van varkpes daardie oggend.. Wat nou gemaak? Sonder ‘n permit sou die dier gekonfiskeer word.
Blink plan. Hulle haas hulle Koöperasie toe, koop drie oorpakke, trek vir hulle, ook die vark, elkeen een aan, veiligheidshelms en al. Die drie sit voor in die bakkie, die vark in die middel. By die blokkade stap ‘n hardekwas-sersant nader. ‘Enigiets om te verklaar?’, vra hy. ‘Niks’, antwoord Ben. ‘En wat is jou naam?’ verneem die sersant. ‘Ben Koster’, antwoord hy. ‘En joune?’ vra hy die vark in die middel. Ben stamp die vark met sy elmboog hard in die ribbes ‘Orgggh’, sê die vark. ‘En jy?’ verneem die sersant van die bestuurder. ‘Len’, kom die antwoord, ‘ons is drie broers.’. Die sersant verkyk hom aan die drie, loop weer om die bakkie, maak seker daar is niks agter nie, en kondig aan ‘ry maar’, onderwyl hy sy kop krap. Len skakel die enjin aan, en net voor hy vorentoe beweeg hoor hy hoe die sersant aan sy kollegas sê: ‘Julle weet, ek het nog nooit in my lewe drie sulke lelike broers bymekaar gesien nie. Hulle lyk en ruik nes varke. Die een in die middel, Org, is nou nie ‘n ‘oil painting’ nie, maar hy is die aanvaarbaarste van die drie. Die ander twee moet nie naby klein kindertjies kom nie.’
Org het waarskynlik al die pad plaas toe met ‘n glimlag op sy varkbakkies gesit.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
