Waarom word ‘blikleeujag’ nie onmiddellik verbied nie?
Gewetenloosheid seëvier weens geldgierigheid? Het ons rêrig so laag gedaal?
Die beleidsdokument wat die Demokratiese Alliansie saamgestel het om druk uit te oefen op die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Greecy, om die jag van leeus in aanhouding, bekend as ‘geblikte leeus’, en ‘n boodskap van ‘n joernalisvriend het die gevoel van weersin in hierdie praktyk weer in my laat opstoot. Die DA meen die minister ‘sleep voete’ na haar aankondiging twee jaar gelede dat die bedryf moet sluit. Daar word ook gewonder oor haar versoek aan leeuboere om die bedryf ‘vrywillig’ te verlaat. Die DA eis dat die praktyk onmiddellik gestaak en ‘n spesiale taakspan aangestel word om ‘n deurtastende ondersoek te doen.
My weersinvlak is ‘n kwaai hupstoot gegee toe De Wet Potgieter, ‘n afgetrede ondersoekende joernalis van weleer, op Facebook geskryf het , na aanleiding van die DA-versoek, dat hy destyds deel was van ‘n geheime internasionale ondersoek na die bedryf. Hy skryf: “ Ek moes elke liewe, grusame diepdekkingsvideo wat deur agente opgeneem is, deurgaan. Ek moes luister na my eie mense, Afrikaanssprekende boere, wat hierdie gruweldade teenoor diere pleeg, en dit in Engels vertaal. Toe daardie bewyse en hele ondersoek aan die Valke aangebied is, is die ondersoekers gedreig met tronkstraf omdat hulle kwansuis onwettig opgetree het. Ek noem dit maar net uit radeloosheid.” Ek het hom gekontak en hy het bevestig hy probeer om hierdie material uit die buiteland te kry sodat die saak weer prominensie kan kry.
Die uwe het oor die afgelope paar jaar gereeld oor hierdie bedenklike bedryf berig, en dis moeilik om te aanvaar dat die betrokkenes, wat miljoene daaruit verdien, nie die een of ander houvas op die regering het nie. Wat kan nou so moeilik wees om te doen wat gedoen moet word, indien die politieke en morele wil daar is? En daar geen houvas op die regering is nie? Die redes wat die bedryf in die verlede aangevoer het, onder meer dat dit baie vir Suid-Afrika in buitelandse valuta beteken, kan mos nie belangriker wees as die absolute onmenslikheid van die praktyk nie?
Een voorbeeld van hoe verwerplik dit is, is die spesifieke ervaring wat onlangs in die Daily Maverick deur die ervare omgewingsjoernalis, Don Pinnock, genoem is. Dit handel oor die leeu Jabula van die Predators Pride-safaripark op Hatbeespoort in Noordwes. Toe Jabula slegs ‘n paar weke oud was, is hy van sy ma af weggevat en na Chameleon Village geneem waar mense betaal het om hom te troetel. Toeriste en vrywillige werkers is vertel sy ma is dood en hy moes met die hand grootgemaak word totdat hy gereed was om na sy wilde staat terug te keer. Dit was ‘n leuen. Agt maande later, toe hy te groot was om te troetel, is hy na sy geboorteplek teruggeneem vir ‘toeriste-wandelings’. Daar is ‘n spesiale band gevorm tussen hom en sy oppasser, Armand Gerber. Toe Jabula 18 maande oud was, het Gerber verneem Jabula gaan weggestuur word. Hy het met onderhandelings begin om die leeu te koop.
Op 22 April 2018, met die transaksie steeds hangende, het ‘n span van die Wag ‘n Bietjie-plaas naby Bloemfontein Jabula kom haal, ondanks Gerber se besware. Daar was geen permitte nie, en geen veearts in sig nie. Jabula is amateuragtig verdoof en weggeneem. Op 23 April het Gerber toestemming gekry om Jabula te koop. Hy het met Wag ‘n Bietjie in aanraking gekom, maar vasgestel Jabula en sy broer, Star, wat vroeër saam met 19 ander leeus soontoe gebring is, word aangehou in klein kratte, sonder kos of water. ‘n Desperate Gerber het met die Dierebeskermingsvereniging in Bloemfontein in aanraking gekom en hulle gevra om ondersoek in te stel.
Inspekteur Reinet Meyer het op 24 April op Wag ‘n Bietjie aangekom. Sy het buite die plaas in ‘n skuur ‘n groot hoeveelheid vleis, bedek met vlieë, opgemerk. Op die plaas het sy ‘n bestuurder en sowat agt werkers teëgekom wat besig was om die vel en vleis af te stroop van 26 leeus, onder meer Jabula en Star. Die vleis is afgekook sodat net die skelette oorgebly het. Dieselfde middag het ‘n vragmotor met nog 28 leeus opgedaag. Hulle sou die volgende dag doodgemaak word. Hulle is deur ‘n vee-arts verdoof, en deur die oor met ‘n lae-kaliber .22-geweer geskiet sodat hul kopbene nie beskadig word nie. Die veea-arts het haar meegedeel oorsese kopers wil nie ‘n kopbeen met ‘n gat daarin hê nie’. Meer as 240 leeus het in daardie stadium gewag op dieselfde lot. Meyer het toevallig afgekom op ‘n leeu-slaghuis wat die Asiatiese aanvraag na leeuskelette help bevredig het. Sy het dieremishandelingklagtes by die polisie gelê. Dit was bekend dat Suid-Agirka die uitvoer van leeu skeletbene toelaat, maar hierdie slagting was iets ongeëwenaard.
Toe begin die verskonings, en ontduiking van verantwoordelikhede. Woorvoerders van verskillende departemente het die blaam onder mekaar verskuif. Niemand wou veranwoordelikheid aanvaar nie. Niks is gedoen nie, en daar kan met sekerheid aanvaar word dit duur voort. Gewetenloosheid seëvier weens geldgierigheid? Het ons rêrig so laag gedaal? Ons eie mense?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
