South Coast Fever

Wouter se Watergat

Aan die sportfront is dit ‘business as usual’, en die vertonings van die Sharks die afgelope tyd doen ook nie veel om ons swaarmoedigheid te verlig nie.

Hier in die Watergat is ons besig om ons jaarlikse verlof te neem – eers die kombuispersoneel, dan ons jong kelners, en onsself, vroulief, Pottie en ek, kom aan die einde van die maand aan die beurt. Gelukkig was dit redelik stil, soos gewoonlik hierdie tyd van die jaar. Die fase-ses beurtkrag eis egter sy tol. Ons het ‘n opwekker, maar omdat ons so baie yskaste, vrieskaste en kombuis-toerusting het wat van elekktriese krag afhanklik is, maak ons tydens die onderbrekings beurte om van die toerusting af te skakel. Ons opwekker kan net soveel krag voorsien, wat ons dan hoofsaaklik vir die vrieskaste gebruik. Van die yskaste, behalwe een waarin ons ‘n klein voorraad van die gewildste biere hou, kry dan vier uur lank nie krag nie. Gelukkig verstaan ons besoekers wanneer ons die situasie verduidelik.

Dis opmerklik hoe swartgallig ons klante is. Wanneer hulle hul sit kry, begin hulle verwys na die toestand in die land. Die beurtkrag, die verwoesting wat die ANC aangerig het, en nog steeds doen, President Ramaphosa se teleurstellende leierskap, of gebrek daaraan, die swak rand, die dom hantering van die Russiese wapen-episode, gebrek aan werksgeleenthede, duur verbruikersartikels waarvan die pryse feitlik daagliks styg, ens. ens. ‘n Plaaslike geneesheer wat kom kuier het, het ons ingelig hy het nou baie meer pasiënte met angsversteurings. Sy kollegas het aan hom bevestig hulle ook. Dis erg.

Aan die sportfront is dit ‘business as usual’, en die vertonings van die Sharks die afgelope tyd doen ook nie veel om ons swaarmoedigheid te verlig nie. ‘n Ligpunt is die Stormers wat weer in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap is. Pottie was in die wolke oor die Lions se oorwinning oor die Cheetahs in die Curriebeker-kompetisie.

Ons ligter oomblik van die week kom van Jan Stander van Pietermaritzburg: ‘n Suid-Afrikaanse toeris in Alaska wil graag die yswoestyn oorsteek met ’n slee wat deur ’n sterk sleehond getrek word. Hy huur dus ’n hond met ’n slee en die nodige toerusting, maar hy weet nie heeltemal hoe om die dier aan die loop te kry nie. ”Dis heel eenvoudig,” sê die Eskimo wat alles aan hom verhuur het, ”praat net Eskimo-taal met die hond, meneer. As jy `Sjoe’ sê, sal die hond begin loop en as jy `Sjoe-Ai Me ‘Nsig Da Rem” sê, sal hy hardloop dat hy bars.” ”En as ek wil hê hy moet stop?” vra die Suid-Afrikaner. ”Dan sê jy bloot A Me ’N,” antwoord die Eskimo. Die hond staan ingespan voor die slee en wag, en die Suid-Afrikaner klim op die slee. ”Sjoe,” sê hy, en die hond begin loop. ’n Entjie verder die yswoestyn in sê die man: ”Sjoe-Ai Me ‘Nsig Da Rem”, en die hond laat waai oor die ys.

Skielik sien die man ’n reusagtige afgrond voor hom opdoem. En paniek pak hom beet. Hy het vergeet wat hy moet sê om die hond te laat stilstaan. Hy weet dat hy hom saam met die sleehond te pletter gaan val, en hy het nog net tyd vir ’n skietgebedjie. Aan die einde daarvan sê hy: ”Amen” en wonder bo wonder, die sleehond gaan staan botstil. Vlak voor die rand van afgrond steek die dier in sy vier spore vas. Die verligte Suid-Afrikaner vee die sweet van sy voorkop af en sê:”Sjoe! Ai, mensig, darem!”

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button