South Coast Fever

Die ikoniese rugbystadion Ellispark: ‘n juweel omring deur verval

Ek het al die jare ‘n stoere Transvaal/Leeu-ondersteuner gebly, selfs tydens my verblyf van 22 jaar hier op die Suidkus.

Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse rugby-geesdriftiges het hul gunsteling rugby-stadions – baie van hulle in ander provinsies as dié van hul gunstelingspanne, weens ‘n verskeidenheid sentimentele redes. My gunstelingstadion is Ellispark. Ek noem dit moeilik Emiratespark want die oorspronklike naam is sedert my klein kinderjare in my geheue ingegrafeer. Die oorspronklike stadion is in 1928 gebou, en vernoem na mnr. J.D.Ellis, wat die grond vir die veld beskikbaar gestel het, en is oor die jare verskeie kere opgegradeer en vernuwe.

As laerskoolkind het my pa my aan die hand gevat en ons het saam die afdraende van Madelinestraat in Florida die halwe kilometer na die stasie afgestap, op ‘n trein geklim en in Johannesburg se rigting gery. Twee stasies na Parkstasie het ons op Ellisparkstasie by die stadion afgekilm,en na ‘n reeks voorwedstryde gekyk, meesal klubkragmetings, voordat die hoofwedstryd om 15h30 die middag begin het. Ons het gereeld aan die oorkant van die hoofpawiljoen gesit, in die son om die koue te help verdryf, met die ou Quinns-bakkerygebou aan ons linkerkant. Die laatmiddagson in ons oë was ‘n klein prys om te betaal vir die ekstra warmte.

Daardie jare was dit bekende provinsiale en Sprinbokspelers soos Hennie Muller, Wilf Rosenberg, Natie Rens, Mannetjies Gericke, Joe Kaminer en talle ander wat my helde was. My gunstelingklub was Diggers, een van die talle mynklubs soos Simmer and Jack, Rand Leases, Durban Deep wat aan die ligareeks, Saterdag na winter-Saterdag, deelgeneem het. Ook in voorwedstryde vir ‘n provinsiale kragmeting, met destydse klubhelde soos ‘Scrappies’ Pretorius, Pale van der Westhuizen, Jakkals van der Westhuizen en talle ander ons groot plesier verskaf.

My pa was ‘n geesdriftige ondersteuner van die Vrystaatse span, en een van ons twee het na die jaarlikse ‘derby’ dikbek huis toe gery. By een van hierdie geleenthede het ‘n vliegtuig ‘n destydse fliek geadverteer, en met ‘n banier oor die stadium gevlieg met die woorde ‘The Dam Busters’. ‘Kyk wat noem hulle ons!’, het ‘’n Vrystaatse ondersteuner dit uitgegil. Hy was een van die gereelde ‘kommentators’ met kwinkslae in die pawiljoene. Oral was daar draers van penswinkeltjies met versnaperinge wat almal dieselfde kreet gehad het: ‘Sweets, penauts and biltong!’. Buite die stadion het boere uit die Laeveld hul vragmotors met nartjies geparkeer. Die suur, goedkopes vir nie-eet-doeleindes, en die duurder, lekker losskilvariante om te geniet. Aan die einde van die dag het die veld vol suur nartjies gelê wat op die skeidsregters of spelers, wat volgens die gooiers drooggemaak het, neergereën het.

Ek het al die jare ‘n stoere Transvaal/Leeu-ondersteuner gebly, selfs tydens my verblyf van 22 jaar hier op die Suidkus. Lange jare waatydens die Transvaalspan swaargekry het, maar ook in die glorietye van Louis Luyt, Jannie Breedt, Francois Pienaar, Kitch Christie, en Johan Ackerman, jare waartydens ek gereeld na wedstryde gaan kyk het. Op die oomblik sukkel die Lions om hul stempel op die kompetisies af te druk, hoewel hulle ‘n groep baie talentvolle jong spelers het wat vanjaar ‘n paar skitterende oorwinnings behaal het. Die unie het ooglopend nie die geldbronne van ander unies nie. Ellispark bly egter ‘n rugby-ikoon, en spelers vanoor die hele wêreld beskou dit as een van hul gunsteling-speelvelde. Suid-Afrika het die Wêreldbeker in 1995 daar gewen in ‘n onvergeetlike wedstryd, en dit bly ‘n feit dat ‘n vol Ellispark, ‘n atmosfeer het soos geen ander stadion in die land nie, as een van die bastions van Springbokrugby.

Ongelukkig daar is ernstige omgewingsverval in Doornfontein, waar die stadion geleë is. Ek het verlede naweek na die wedstryd teen die Blou Bulle gaan kyk, en is opnuut getref deur die algemene agteruitgang rondom Ellispark. Dis erg. Daar was die afgelope tyd sprake daarvan dat die unie dalk na ‘n ander stadion sou verskuif, maar uiteindelik is besluit om te bly, grootliks agv. die geskiedenis van die plek. Nof ‘n negatiewe faktoris die toeskouergetalle.

Tydens Saterdag se wedstryd was daar skaars twee-duisend. Vergelyk dit met ‘n tjok-en-blok vol Kingspark en Kaapse stadion die vorige weke. Ek het daar gesit met al die herinneringe van die verlede, en gewonder of daar hoop is dat dinge sal verbeter. Selfs al begin die Lions weer gereeld kompetisies wen, en die toeskouers kom terug, sal die beletsel van die omgewing bly voortbestaan. Mense kan nie, soos by ander stadions, na die wedstryde rustig vleis braai en kuier nie. Dis net te gevaarlik. Om jou motor tydens ‘n groot wedstryd in een van die strate te parkeer, is ‘n risiko, veral na sonsondergang.
My dag se donker gemoed, veral na die neerlaag teen die Bulle net een punt, is vererger toe ‘n jong seuntjie, so sewe jaar oud, koud, vuil ,met verflenterde, besoedelde klere en uitgestrekte hand by die hekke na my toe kom, en vra: ‘My oom, het jy nie ‘n rand vir my nie. Ek is honger’. Ek het hom nie geld gegee nie, want uit ons gesprek het ek afgelei die geld gaan na sy pa in ‘n bouvallige huis langs die veld wat nie kos daarmee gaan koop nie. ‘n Sweetie Pie-sjokolade is al wat ons by ons gehad het. Op pad terug het ek tydelik heeltemal van Ellispark se probleme vergeet.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button