Meimaand is verby. Ons begin wonder wanneer kom die sardiens. Indien hulle wel vanjaar hulle opwagting gaan maak. Oom Pottie gaan die afgelope paar dae gereeld na ons hout-uitkykplatform en tuur oor die see. Hy het reeds verslag gedoen oor walvis-aktiwiteit, sommer naby aan die strand, maar van die seemeeue wat gewoonlik saam met die vissies beweeg, is daar geen teken nie. Nietemin, dis nog vroeg, en ons hou duime vas.
Die Watergat was maar stillerig, soos normaalweg hierdie tyd van die jaar voor die skoolvakansie, en ons gebruik dit as ‘n ruskans om te ‘chill’, soos deesdae se jong mense sê. Ook om rustig rygby te kyk sonder om bont te staan met die drankbestellings. Die goeie nuus vir ons Sharks-ondersteuners is die span se laaste klompie stewige vertonings in die Curriebeker-kompetisie. Lyk my enigiets kan nog gebeur, met die Cheetahs en Pumas wat skielik nie so dominant is nie, die Lions wat met ‘n goeie oorwinning oor die WP nog ‘n buitekans het, en die Blou Bulle met al hul spelers beskikbaar.
Daar is nog net twee naweke se rugby oor voor die uitspeelwedstryde begin, en die Sharks moet nog teen die Lions speel, die komende naweek, en daarna teen die WP. Hulle is bo-aan die punteleer, en ons kan aanvaar hulle sal in die uitspeelstadium wees. Die Lions se laaste wedstryd is teen die Griffons, die kompetisie se melkkoei, en indien hulle albei hulle wedstryde wen, kan hulle dalk by die agterdeur inglip. Afhangend van wat met die Bulle, die Cheetahs en die Pumas gebeur.
Die besprekingspunt van die week was uiteraard die Stormers se nederlaag teen Munster, en die redes daarvoor. Ons was dit eens die spelskeppers Manie Libbok, Damian Willemse, tesame met Herschell Jantjies, het die wedstryd total verkeerd gelees. Libbok was nie ‘n skadu van sy normaalweg briljante self nie, sy skoppe was swak, en die Stormers kan bly wees hulle het nie verder verloor nie. Libbok het waarskynlik sy kanse om aan die Wêreldbeker-kompetisie deel te neem, ‘n groot knou gegee.
Ons glimlag van die week kom van Klasie en Gerda Hanekom van Harrismith wat Dinsdag vroulief se beesstert kom proe het. Gerda het die storie opgekikker met ‘n vonkel in die oog: Blondie staan en wag by ‘n baie besige busstop. Toe die bus uiteindelik opdaag, besef sy dat sy nie met haar baie nou minirokkie op die eerste trappie van die bus kan kom nie. Sy glimlag verleë terwyl sy die rits van haar mini so bietjie aftrek agter haar rug. Sy probeer weer maar met dieselfde resultate. Weereens laat skiet sy haar rits so bietjie en probeer weer op die bus kom. Die volgende oomblik vat ‘n groot boerseun haar om die middeltjie en tel haar moeiteloos tot op die boonste trappie. Vererg draai Blondie om en skree onsteld: “Hoe durf jy aan my liggaam raak – ek weet nie eers wie jy is nie!”
Die boerseun glimlag en sê: “Normaalweg sou ek met jou saamstem maar nadat jy my gulp tweekeer afgetrek het, het ek gedog ons is vriende!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
