Kom ons handel die rugby sommer gou af. Die Sharks het weer een van daardie vertonings gelewer wat ons laat dink daar is iewers ‘n groot skroef los. Verkeerde spankeuses? Swak afrigting? Gebrek aan toewyding? John Plumtree sal ons span moet regruk vir die halfeindronde Saterdag in Durban teen die Pumas, die verdedigende Curriebeker-kampioene. Ek dink nietemin die Pumas sal nie opgewasse wees teen die Durbaniete nie. In Bloemfontein speel die Cheetahs teen die Bulle, en is die oorweldigende gunstelinge. Hulle het die Bulle verlede week gewen, en Saterdag se wedstryd is op hul tuisveld. Alles dui op ‘n eindstryd tussen die Sharks en die Cheetahs. In Bloemfontein.
Daar het die afgelope tyd min noemenswaardig in die Watergat gebeur, behalwe dat Nols Neethling, ‘n prokureur van Nelspruit, die eerste keer in vyf jaar weer kom kuier het. Ons het gepraat oor ‘n belewenis van hom waaroor hy destyds baie sleg gevoel het. Ek herhaal dit vir diegene wat nie toe daarvan kennis geneem het nie. Nols was in sy tuisstad langs sy motor. ‘n Omie met ‘n geplooide gesig, stukkende skoene, haar-slierte in die wind, dowwe blou oë en met ‘n verkreukelde hoed in sy hand vasgeklem het na hom aangeskuifel gekom. ‘Boetie, Boetie’ het hy geroep. Nols het hom geïgnoreer. Die ou man het krom na hom toe aangestap nadat hy van die sypaadjie afgestruikel het. Nols het aanvaar dis van al die drank. Hy het die ou man in die truspieëltjie gesien met sy hande omhoog.
By die huis vertel hy vir vroulief Santa van die ou man. Sy was onmiddellik kwaad. ‘Hoe kon jy die ou man net so los?’. Santa skielik in die deur. ‘Ek het vir die man ‘n pakkie kos gepak, en ons vat een van die kinders se komberse vir hom’. ‘Santa,’ antwoord Nols, ‘die man is waarskynlik reeds onkapabel gesuip’. Santa is onverbiddellik. ‘As jy nie wil ry nie, sal ek’. ‘Kom saam, dan gee jy dit vir hom.’ By dieselfde plek kry hulle die ou man, sittende op die sypaadjie, kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond. ‘Sien, klaar dronk,’ dink Nols. Santa maak die deur oop, gaan na die man toe, vat sy hande in hare en gee hom die kos.
Die omie se lyf ruk, en hy huil dat die trane deur die plooie op sy gesig stroom. ‘Dis nie ek nie, mevrou. Dis die tannie by die huis. Sy het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk twee weke lank reeds nie meer nie. Ek het asma, en kon nie verder nie. Ek het ‘n man probeer stop, maar hy het weggejaag. Al wat ek kon doen was om te bid. En hier het God nou vir my ‘n Engel gestuur.’ Santa en Nols hardloop die omie se huis oorkant die straat binne. Met die ambulans se sirenes nog steeds in hul ore, het Nols vertel, ry hulle terug huistoe. Hulle was te laat om die tannie te red.
Nols vertel die voorval spook steeds by hom. So-iets iets vergeet ‘n mens nooit, Woutie. Nooit.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page