South Coast Fever

Wat doen Engelse woorde soos ‘awesome’ en ‘stunning’ in Afrikaans?

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die korrekte gebruik van Afrikaans is weer oral in die media ter sprake, en ek bieg swak Afrikaans is iets wat my daagliks mateloos irriteer. Dit kom baie selde in gevestigde Afrikaanse publikasies voor, maar wel gereeld in radio- en TV-uitsendings, veral in gesprekke met mense soos sangers en akteurs, in advertensies, en bydraes op die sosiale media. Die uwe is nie ‘n ‘taalbul’, of hipersensitief vir ‘n Engelse word hier en daar nie, maar het bloot ‘n hekel daarin dat mense weens watter rede ookal, nie respek vir Afrikaans het nie.

Dis regstreekse vertalings uit die Engels soos ‘uitmis’, ‘gaan groot’, ‘dis dit vir die nuus’, en dan die ewige blatante, konstante gebruik van ‘awesome’, ‘great’, ‘stunning’, ‘songs’, ‘actually’ en talle ander. Hiermee bedoel ek nie dat iets soos ‘Kaapse Afrikaans’ of ander variante nie ‘n plek in ons taalspektrum het nie. Inteendeel. My probleem is met ‘n soort onkunde, onwilligheid of dalk luiheid om in Afrikaans te kan dink en nie Engelse uitdrukkings regstreeks te vertaal, of Engelse woorde goedsmoeds te gebruik nie.

Pleks daarvan om persoonlik ‘n relaas hiervan te maak, haal ek, soos voorheen, iemand aan vir wie se vermoë om in Afrikaans te skryf, ek groot respek het, naamlik Dana Snyman, die bekende joernalis. Hierdie nostalgiese skryfsel van hom verwys na die dae toe ons nog werklik probeer het om die taalgoggas uit te skakel:

“Dit was die jaar toe ons suiwer en korrekte Afrikaans probeer praat het – baie meer as nou. Ek onthou Pa het so ’n klein, geel boekie van die Taaldiensburo in Pretoria af bestel. Met Afrikaanse motorterme in. Daar was ook ander sulke geel boekies, ook opgestel en gepubliseer deur die Taaldiensburo, ’n afdeling van die Departement van Onderwys: Afrikaanse ekonomieterme, Afrikaanse landbouterme, Afrikaanse kunsterme. Daar was ook die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks woordeboeke: ’n Fisikawoordeboek, ’n Aptekerswoordeboek… Daar was selfs ’n brandweerwoordeboek, met Afrikaanse vertalings van Engelse brandweerwoorde in.

Oorlede Pa, trotste Afrikaner wat hy was, was veral besorg oor hoe ons Afrikaans versaak wanneer ons oor motors gesels. Let wel, dit is ’n “motor”. Nie ’n “kar” nie. ’n Kar is daardie ding wat ’n donkie of ’n perd trek. En Pa het nie ons Valiant in die garage by die huis geb?re nie. Die woord “garage” is as ’n Franse indringerwoord beskou. Die Valiant het in die “motorhuis” gestaan. Ons het ook nie die Valiant se tenk by oom Bennie se “garage” vol brandstof laat tap nie. Ons het die Valiant by oom Bennie se “vulstasie” laat volmaak. En jy hou nie by ’n “robot” stil nie, dis ’n “verkeerslig”. Sulke verkille en onderskeide was vir ons belangrik. Ek sien Pa nog met daardie geel boekie vol Afrikaanse motorterme in die hand. “Toe, s? vir my,” sou hy vra. “Wat is ’n motor se carburettor in Afrikaans?” “Ek weet nie, Pa. Wat?” “’n Vergasser.” “En ’n distributor?” “Nie ’n idee nie, Pa.” “’n Vonkverdeler.”

Dan was daar daardie ander een wat byna niemand reg kon kry nie: “Wat is ’n motor se starter in Afrikaans?” “’n Aansitter, Pa.” “Nee. ’n Knormoer.” Oom Dries het ges? ’n knormoer klink vir hom meer na die regte benaming vir sy skoonma, tog het hy probeer om van ’n knormoer eerder as ’n “starter” te praat. ’n “Tube” was vir ons ’n “binneband”, en ’n “tyre” was ’n “band”, wat jy nie oor ’n “rim” getrek het nie, dit was ’n “velling”. Ons het T-been-biefstuk en beeshaas geëet, en nee, daardie beenlose homp vleis was nie “rump” nie. Dit was kruisskyf. En Kerfees het ons nie “trifle” geëet nie, dit was nie “koekstruif”’. Niks was ooit vir ons “amazing” of “awesome” nie. Dit was “mooi” of “verruklik” of “uitsonderlik” of… Afrikaans was ons erns.

Dit was of daar ’n soort paniekerigheid onder ons was wanneer ’n vreemde ding of iets in die land verskyn het waarvoor ons nog nie ’n Afrikaanse woord gehad het nie. Oorlede Ma het tot met haar dood nog van “jannas” gepraat – die Taalburo-woord vir ’n denimbroek. “Jy moet vir jou nuwe jannas kry, Seun. Daardie een is gedaan.” Toe die eerste TV-uitsendings in ’76 in die land begin het baie van ons gepraat van “beeldradio” eerder as “televisie”. Later in daardie jaar, 1976, toe duisende kinders in Soweto – en later ook grootmense, oor die land heen – in opstand kom, soldate in die strate, Hector Pieterson dood in die stof, omdat hulle verplig was om Afrikaans op skool te leer, was dit vir soveel van ons ’n verrassing en kon ons dit nie mooi verstaan nie.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button