Bultrug-walvisse – ‘n groot aantrekkingskrag aan ons kus
Opinion piece by Johan Pretorius.
Saam met die jaarlikse skole sardiens hier aan die KZN-Suidkus, is daar die talle Bultrug-walvisse wat ons kom besoek en wanneer ons gelukkig is, vir groot vermaak sorg met hul toertjies in en uit die water. Een van die indrukwekkendste tonele vir my is wanneer ‘n walvis skielik met harde blaasgeluide uit die see oprys, en soms heeltemal uit die water lyfrolle doen voordat dit met ‘n groot geplas en geruis terugval in die onstuimige seewater.
Hulle is gewoonlik hier tussen Mei en November, en vanjaar was daar reeds indrukwekkende vertonings op verskeie plekke langs die kus tot groot vermaak van die gelukkige toeskouers. Die Bultrug-walvis is ‘n groot en stewige soogdier, en hy word so genoem omdat hy sy lyf op ‘n bult of boggel trek wanneer hy uit die water opskiet. Die bokant van sy lyf is donkergrys of swart ( met ‘n blou skynsel), en die onderkant kan óf lig óf donker wees. Die skraal kop het knoppe bo-op en op die onderkakebeen. Die kenmerkende bult of boggelrug van die spesie is net voor die klein dorsale of rugfin. Die pektorale of borsfinne is lank en slank en die stertvinne is breed met knopperige rante. Hulle het twee luggate.
‘n Volwasse Bultrug-walvis word tussen 11.5 en 15 meter lank, en weeg tussen 25 en dertig ton. Soos met ander walvisse, is die vroulike diere groter as die manlike eweknieë. Hulle is migrasiediere, en word oral in die wêreld se oseane op verskillende tye van die jaar aangetref. Hulle is ewe tuis in die ysige water van Antarktika as in die warm Indiese Oseaan hier by ons. Hulle paar in die warmer water, en die kalfies word gebore na ‘n draagtyd van 11 maande. Die kalfies bly vir die eerste jaar naby die ma, en word gevoer op ‘n dieët van proteïnryk, hoëvet-melk. Die Bultrug kan begin voortplant op die ouderom van 5 jaar, en hulle word tussen 40 en tot 100 jaar oud. Baie van hulle swem alleen, maar kan ook lede wees van groepe van tot 15. Die manlike diere baklei gereeld met mekaar, veral tydens paartyd, en littekens kan dikwels op hul lywe gesien word.
Die Bultrug-walvis swem normaalweg stadig, en ongelukkig het die dier se natuurlike nuuskierigheid en neiging om ondersoek in te stel wanneer bote hulle nader, hom in die verlede maklike prooi van jagters gemaak. Een van die redes waarom dit my gunsteling-spesie is, is die mooi ‘liedjies’ wat hulle sing met huil-, tjank-, piep- en kermgeluide, wat vir ure kan aanhou soos hulle swem. Kenners meen dis ‘n integrale deel van die kommunikasieproses tussen hulle, en speel ‘n rol wanneer potensiële paarmaats gesoek word. Die Bultrug is ‘n balein-walvis (balein is ook bekend as walvisbaard ) wat beteken hulle neem voedsel in deur groot hoeveelhede water deur die balein in te suig. Klein visse, skaaldiere en plankton bly agter wanneer die water deur die bek teruggestoot word in die see. Ongelooflik soos dit klink, eet hulle tussen 2 000 en 2 500 kilogram kos per dag.
Met elke waarneming van ‘n walvis oor die jare was en is daar ‘n opwellende afkeer van die Japanners wat nog steeds jag maak op hierdie diere. Dit ten spyte van streng internasionale bewaringsmaatreëls, met die belaglike verskoning dat dit gedoen word om wetenskaplike navorsingsredes.
Vandat die Internasionale Walviskommissie, wat in 1946 gestig is en waaraan 88 lande behoort, ‘n verbod op walvisjag ingestel het, het die Bultrug-walvis se getalle drasties toegeneem nadat dit deur uitwissing bedreig is. Die Bultrug se getalle neem jaarliks met sowat 10% toe. Die bykomende bedreiging vir hulle die afgelope jare is die groot hoeveelhede plastiek-afval wat oral ter wêreld verwoesting saai onder die seelewe. Talle van hierdie diere raak bv. verstrengel in visnette en sterf ‘n wrede dood indien hulle nie verlos word nie. Daar is gelukkig oral ‘n toenemende bewuswording van hierdie vloek van ons moderne tyd, maar daar word nog hopeloos te min gedoen om die planeet se seelewe te beskerm. Dooie walvisse spoel gereeld op strande uit en wanneer nadoodse ondersoeke gedoen word, word groot hoeveelhede plastiek in hul mae gekry.
Die goeie nuus is egter alle aanduidings is daar dat ons vanjaar gereeld deur hierdie indrukwekkende en wonderlike diere vermaak gaan word. Besoek gerus die verskeidenheid walvis-besigtingingsplatforms aan die kus met ‘n verversingkie of twee, drie in ‘n verkoelingsakkie. Dit bly altyd ‘n groot ervaring om hulle hier voor jou uit die water te sien kom as op ‘n TV-video-opname.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
