South Coast Fever

Wouter se Watergat

Opinion piece by Wouter Willemse.

Hoewel sport, en natuurlik veral rugby, steeds een van die hoof-onderwerpe van bespreking in die Watergat was, was daar die afgelope week ook vele uitsprake oor ons regering se manewales tov. van die oorlog in die Oekraïne. Ons is reeds die onderwerp van bespotting deur talle lande oor ons swak interne regering, en nou ook oor ‘n lagwekkende onbeholpenheid aan die internasionale front.

Hoe op aarde kan die president van ‘n land in Pole aankom met ‘n klompie joernaliste en ‘n skare soldate en veiligheidsmense, sonder dat die nodige protokolle en reisvereistes nagekom is? Benewens die militêre/sekuriteitsteenwoordigheid, het hulle soveel wapens by hulle gehad dat hulle ‘n klein oorloggie kon ontketen. En dit sonder die nodige, permitte, klaring en diplomatieke protokol wat daarmee saamgaan? Wat doen ons ambassadepersoneel in die buiteland? Behalwe van die een onthaal na die ander beweeg en hul middellywe laat groei? En die amptenare van ons departement in Suid-Afrika? Om alles te kroon, speel die president se veiligheidsdiens hoof die raskaart, In Pole, toe hy op die gemors reageer?

Ons weet almal dat President Ramaphosa en ander Afrikaleiers op ‘n sogenaamde vredesending is om die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne te probeer beëindig, te midde van groot internasionale kritiek onder belangrike lande weens ons onwilligheid om die Russe se aggressie te veroordeel, en die moontlike ernstige gevolge wat ons ekonomie verder kan knou. Nou blyk dit boonop dat die sending moontlik nie ons eie inisiatief was nie, maar diè van Rusland en sekere vennote. Hoe Suid-Afrika van hierdie gekkespul gaan herstel, weet nugter. Toe hierdie bydrae geskryf is, was die vliegtuig steeds in Pole, en het President Ramaphosa verklaar die sending was ‘n sukses. Sal graag wil hoor wat berig daardie joernaliste op die vliegtuig wanneer hulle terug in Suid-Afrika is.

Curriebeker-rugby. Die Sharks het dit toe weer reggekry om ‘n nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning te ruk. Die afrigter erken dit was sy skuld. Ons was verstom. Maar alle eer aan die Pumas. Hulle is ‘n spogspan met min hulpbronne maar wel durf en goeie afrigting, en verdien om weer in die finaal te wees. Die Bulle? Selfde storie. Saam met die Sharks die rykste unies in die land, en die Cheetahs looi hulle weer. Eisj!!

Ons loopstorie kom van Jana Swart van Port Edward. Oom Koos besit ‘n plaas reeds donkiejare lank. ‘n Wewenaar en redelik oud, maar nog nie ‘koud’ nie. Een aand, in sy eensaamheid, loop hy na sy plaasdam-lapa om te gaan sit en dink aan die goeie ou dae. Hy hoor vroulike stemme vrolik gesels en giggel. Hy val plat agter ‘n bloekomboom en loer deur die takke. Verbaas sien hy kaal meisies in die dam swem. Hy stap nader om hulle mee te deel hulle betree eintlik ‘n ander man se private eiendom. Hulle skrik en sak laag af sodat die water die nodige bedek. Een van hulle skreeu benoud: ‘Ons klim nie uit voordat oom loop nie!’ ‘Bedaar julle…ek is nie hier om te kyk hoe julle kaal swem of julle te verjaag nie,’ verklaar Oom Koos en hou ‘n emmer in die lug. ‘Ek is hier om die krokodil kos te gee…’

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button