Vandeesweek, soos periodiek die geval is, deel ek weereens met Feverlesers ‘n bydrae wat deur Afrikaans.com aan ons gestuur is. Dit handel oor ‘n hulpmiddel wat vroeër jare onontbeerlik in Afrikaanse huishoudings was. Word dit vandag nog gereeld gebruik? Tesame met die ander verwante hulpmiddels? Ek verwys na die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en minder spesifiek die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT ) en die Woordelys en Spelreëls.
Omdat mense in die ouderdomsgroep waarin ek is, hierdie hulpmiddels baie minder raadpleeg as vroeër in ons lewens agv. die veranderde lewensomstandighede, wonder ek of dit nog hoegenaamd die geval is by jonger mense, behalwe natuurlik skoliere en studente. Om die eenvoudige rede soveel mense, bekend, onbekend, sportlui, vermaaklikheids-kunstenaars, selfs die jonger geslag uitsaaiers, maak hulself deesdae gereeld skuldig aan growwe grammatikale foute, regstreekse vertalings uit Engels, oftewel Anglisismes, in Afrikaans. Soos onlangs in hierdie rubriek uitgewys, word Engelse woorde soos ‘awesome’, ‘great’ en talle ander kwistig in gesprekke gebruiik, veral op radio en TV. Daarom die vraag: word die WAT nog hoegenaamd geraadpleeg?
Annelie van Jaarsveldt verwys na die WAT se geskiedenis, en haal Jana Luther, die mederedakteur van die WAT,’n gesoute taalpraktisyn en iemand wat ook haar eie woordeboek begin het (die Woordeboek van Afrikaans Vandag) in ’n onderhoud met Murray La Vita van Netwerk24: “Ek is totáál verknog aan woorde. Ek het aan verskillende soorte woordeboeke gewerk, maar my groot belangstelling, wat my vlam die hoogste laat brand, is verklarende woordeboeke, waarvan die WAT, vir Afrikaans, die toppunt is.” In dieselfde artikel noem Jana ook die trajekte waarvoor sy as mederedakteur maandeliks verantwoordelik is. “Een trajek bestaan uit ongeveer 1 500 kaartjies – ’n materiaalversameling wat dateer van ongeveer 1900 tot 1980 – en wat sedert die vyftigerjare deur skarewerwing bekom is toe die land deelgeneem en veral streektaalwoorde ingestuur het.” Die WAT se versameling staan tans op 3,5 miljoen indekskaartjies.
Van Jaarsveldt het ook gesels met die eindredakteur van die WAT, dr. Frikkie Lombard, wat reeds 41 jaar by die woordeboek betrokke is. Hy sê die opneemproses van woorde het oor die jare verander. Toe hy begin het, moes hulle alles wat hulle gedoen het, met die hand uitskryf. Daarná het hulle met rekenaars wat slapskywe gehad het, begin werk. Hy het homself leer tik, en sy dogter het, as sy gevra is wat haar pa doen, geantwoord dat hy ’n tikker is! Aanvanklik het hulle maar in Word gewerk, maar later is daar ’n spesiale program vir hulle deur ’n Sweed geskep. Die uitgebreide redaksionele stelsel is ook aangepas sodat vinniger vordering gemaak kon word. Hulle het pas T voltooi en moet teen 2028 klaar wees tot by Z.
’n Woord word opgeneem wanneer dit deurgedring het na gewone Afrikaans en in ten minste vyf bronne of die werk van vyf verskillende skrywers voorkom. In ’n omvattende, meerdelige woordeboek soos die WAT word daar natuurlik baie meer woorde opgeneem as in handwoordeboeke soos die HAT. Ook die leksikografiese bewerking van woorde is baie meer uitgebreid, en die redaksie maak ook van aanhalings gebruik. Definisies bly maar ’n uitdaging: Sommige woorde het tot 50 en meer verskillende betekenisonderskeidings. Dit word gemaak deur noulettend te kyk na die materiaal wat jy kry op die indekskaartjies en dit wat alles aanlyn beskikbaar is. Dit is ’n geweldige taak. ’n Omvattende woordeboek, eintlik enige woordeboek, is nooit volledig nie. Woordeskat brei uit en taal bly nie altyd dieselfde nie.
Die geskiedenis van die WAT het meer as 100 jaar gelede begin. In 1920 stel prof JJ Smith voor dat Afrikaanse woorde bymekaargemaak moet word om uiteindelik ’n verklarende eentalige Afrikaanse woordeboek saam te stel. Na ’n draai in die parlement waar daar besluit is dat dit ’n goeie idee is en daarom staatsteun verdien, word die samewerking tussen prof JJ Smith, die Nasionale Pers en die Universiteit Stellenbosch formeel in 1926 bekragtig en begin die werk aan die woordeboek – destyds in Keeromstraat, Kaapstad. In 1929 word die verantwoordelikheid van die opstel van die woordeboek die van die Universiteit Stellenbosch en in 1930 skuif die woordeboekkantoor Stellenbosch toe – waar hy tot vandag toe is – deesdae in Banhoekweg.
In 1987 en met die oog op versnelling van die saamstel van die woordeboek, begin die Buro met sy rekenariseringsprogram en strategiese ontwikkelingsplan om die WAT so vinnig moontlik tot by Z te voltooi. Vanaf 1990 versnel die tempo inderdaad met die implementering van ‘n rekenaardataprogram en in 1991 verskyn Deel VIII (KOS-KYW). In Maart 1994 word Deel IX (L) gepubliseer – dit is slegs drie jaar na die vorige deel. In 2016 vier die WAT 90 bestaansjare en word daar behoorlik makietie gehou. Een van die hoogtepunte is ’n kompetisie saam met RSG en die ATKV om Suid-Afrika se gunstelingwoord te bepaal. En die wenner? Lekker – hoe dan nou anders – want Afrikaans is mos ’n lekker loslittaal.
Bg. is ‘n kort oorsig van die WAT se geskiedenis. Gaan kuier gerus by Afrikaans.com vir meer inligting oor die WAT , asook verskeie ander interessante onderwerpe wat met ons taal Afrikaans te doen het.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
