As ‘n groot hondeliefhebber wat van geboorte af met honde grootgeword en daarna nooit sonder een of twee, drie, van hulle was nie, het ek enkele dae gelede ‘n leserskommentaar in ‘n tydskrif raakgelees waarin ‘n ouerige man gal braak omdat mense na hul ‘hondekinders’ verwys, en hulle, volgens hom, inderwaarheid beter as hul mensekinders behandel. Hy is ook lief vir honde en diere, het hy verklaar, maar daar is perke.
Dis nie nodig dat jy jou, veral groot honde, in die huis toelaat nie, en klein hondjies op ‘n bed in sy slaapkamer is vir hom taboe. Ek het terselfdertyd onthou dat ‘n prominente ANC-politikus, kan net nie onthou wie nie, dalk Julius Malema, destyds verklaar het een van sy probleme met blankes is dat hulle hulle honde beter behandel as hul swart bediendes, veral wat kos aanbetref. Dit terloops, maar ‘n ander gesprek.
Dit het my laat dink aan my kinderjare toe groot honde goed behandel is, maar in hondehokke buite moes slaap ‘want hulle moet moes die plek oppas’. Klein hondjies het in spesiale bedjies op die vloer geslaap en nie naby die beddens gekom nie. Ek praat nie van my ouerhuis nie, maar talle van my ouers se vriende. Hul honde is nie mishandel nie, en het baie liefde en versorging gekry, maar van ‘hondekinders’, en die gepaardgaande bederf, was daar geen sprake nie. Soos ons almal weet, het dinge oor die jare verander, hoewel daar vandag nog mense is wat ‘n hond, en spesifiek die groot rasse, beskou as dierewat kos en slaapplek moet hê, maar hulle ‘plek moet ken’ en die eienaar se eiendom moet oppas. In ons voorstede merk ons almal oral van hierdie arme diere in eiendomme op.
Blaf vir almal op straat want niemand is by die huis nie, kry saans kos en ‘n kort vryf op die kop voordat die eienaar in die huis in verdwyn, die hond die nag in sy hok deurbring, en waarskynlik almal periodiek wakker hou met ‘n geblaf vir die maan. Gaan praat maar met mense van die Dierebeskermingsvereniging. Almal van hulle het ervarings met diere van hierdie soort eienaars. Erger nog, talle van die honde wat by hulle beland, is mishandel en uit miserabele omstandighede gered. Dis egter nog ‘n gesprek op vir ‘n ander dag.
Soos reeds genoem, dinge het oor die jare baie verander. Alhoemeer mense behandel hul honde soos kinders. Dan die onvermydelike vraag: Is dit verkeerd? Ek het verskeie gesaghebbende bronne op die internet geraadpleeg, kan hulle nie almal noem nie weens gebrek aan ruimte, maar die antwoord was ‘n oorweldigende ‘Nee. Daar is niks daarmee verkeerd om jou vierpotige baba of kind soos ‘n mensekind te behandel nie’. Die voorwaarde is egter dat daar dissipline moet wees, soos met mensekinders, sodat hulle verstaan waar die grense is wat hul gedrag betref.
Hulle moet geleer word om te verstaan wat hul rol in hul ‘ouers’ se huis is. Deur hulle te veel ‘speelgoed’ te gee, te bederf en hulle toe te laat om bv. die hele huis vol te hardloop, gaan dit baie moeilik maak om hulle op te lei of te dissiplineer. Die kenners is dit eens dat eienaars aan hul honde se basiese behoeftes moet voldoen, maar tyd saam met hulle moet deurbring. Hulle leer om minstens basiese opdragte te verstaan en te gehoorsaam. Of, ideaal gesproke, minstens drie maande se basiese opleiding by ‘n hondeskool soos die Hibiscus Kennel Club te laat ondergaan, saam met die eienaar.
Hulle wys daarop hoewel mense, veral afgetredenes en bejaardes, deurentyd by hul ‘kinders’ wil wees, is dit wenslik dat daar tye afstand tussen hulle moet wees. Omdat honde, behalwe die heel klein rasse, nie oral met hul eienaars kan saamgaan nie. Hulle moet geleer word om tye alleen by die huis deur te bring sonder om weens angstigheid dinge te verwoes. ‘n ‘Honde-ouer’ doen sy ‘kind’ geen guns om hom of haar bv. klere aan te trek en in waentjies oral rond te stoot nie. Die hond se persoonlikheid kan dan ‘versmoor’ word, en baie van hulle sal liewer tuis wil bly vir ‘n rustige slapie.
Anders as mensbabas, wat deurentyd by hul ouers moet wees, moet ‘honde-kinders’ verstaan hul eienaars gaan nie altyd by die huis wees nie om te voorkom dat die honde bv. angsaanvalle weens die skeiding kry. Wanneer daar ook mense-kinders in die huis is, is daar bykomende reëls wat moet geld. Die honde moet verstaan hulle is deel van ‘n groep kinders, en nie die hoof-attraksie nie. Hulle moet in so ‘n groep goed-aangepas wees om ernstige probleme soos jaloesiebyte te voorkom, want peuters en jong kinders beweeg soms onwillekeurig en onverwags en die hond moet dit verstaan. Wanneer spanning wel ontstaan, moet sowel die mense- as ‘honde-kind’ met geduld geleer word om mekaar te verdra en aanvaar.
‘Honde-ouers’ moet ook verstaan indien hulle ‘n ‘eersgebore’-hondekind het, gaan ander mense hom of haar nie noodwendig as sodanig beskou nie. Wanneer hulle dus gaan kuier en die hond saamneem, is dit goeie maniere om te vra of dit in die haak is. Dus: Dis heel aanvaarbaar om jou hond as jou kind te behandel. Moet net nie vergeet nie, hy bly ‘n hond, en toepaslike reëls moet geld.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
