Laat ek met die spreekwoordelike deur die huis in val. Die nederlaag teen die All Blacks spook nog te kwaai by ons. Gaan dit vandeesweek vermy. Ons praat weer oor ‘n week, want ek is bang ek sê dinge waaroor ek later spyt is.
Dit was ‘n baie rustige week na die skoolvakansie: Lekker weer, nie te besig nie, en Pottie en die ander personeel het die toerusting getakel en die yskaste, gasstowe, Bain Marie en Salamander in die kombuis goed skoongemaak. ‘n Mens hoor skrikwekkende stories by die gesondheids-inspekteurs oor die toestand van restaurant-kombuise.
Ons het by die huis tot so drie jaar gelede ‘n ou buurman van Duitse afkoms gehad met die tipiese Pruisiese mentaliteit. Alles moes presies en perfek wees. Hy was ‘n oud-restaurateur in Hyde Park in Johannesburg, het ook ‘n haarkappersalon gehad met ‘n landwye reputasie soos min. In die proses het hy, en terloops, sy polse was nie slap nie, ‘n welgestelde man geword. Hy was ‘n wewenaar, en het feitlik sonder uitsondering elke dag vir homself kos gemaak. Somtyds het hy vroulief en myself op Sondagaande oorgenooi om saam te eet.
Uit die boonste rakke, en nie net Duitse kos nie. Provence en Toskanje se beste. Hy het ons vertel die hoofrede waarom hy feitlik altyd self kos gemaak het, is omdat hy weet hoe ‘n restaurantkombuis nie moet lyk nie. Hy het altyd ‘n verskoning gehad om by ‘n restaurant se kombuis uit te kom, en het dan eers besluit of hy daar sou eet of nie. Volgens hom was daar net enkele restaurante op die hele Suidkus waar hy dit sou waag om ‘n dis te bestel nadat hy die kombuis besigtig het. Ek sou wou kon verklaar die Watergat is een van hierdie, maar hy het nooit hier kom eet nie. Seker omdat ons nie Steak Tartare of Créme Brule op ons spyskaart het nie. Ek troos my daaraan dat sy standaarde waarskynlik te hoog was vir ‘n plek soos die Suidkus. Of was dit?
Ons loopstorie van die week kom van Bert Bothma, ‘n besoeker van Phalaborwa. Hy is ‘n loodgieter, en het vertel van die Skotse doedelsakspeler wat gevra is om by die begranis van ‘n hawelose boemelaar, sonder vriende of familie, op te tree. Hy het ingestem, maar gesukkel om die begraafplaas te kry weens swak aanwysings. Uiteindelik kom hy by ‘n plek aan waar mense ‘n gat toegooi, en hy aanvaar die begrafnis is verby en die lykswa het vertrek. Die grafgrawers sit eenkant. Hy hou stil, kyk in die graf af, en sien dis feitlik al toegegooi. Hy besluit toe om maar sy onderneming gestad te doen, en speel aandoenlike geestelike liedere op die doedelsak. Die werkers kom staan om hom, en toe hy ‘Amazing Grace’ speel, huil almal onbedaarlik.
Hy groet en vertrek, en die werkers kyk na mekaar. Uiteindelik sê een van hulle: ‘Kêrels, ek installeer nou al 35 jaar riooltenks, maar ek het nog nooit so iets beleef nie’.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
