South Coast Fever

Gemorskos: So lekker maar so sleg vir jou

Ek het so ses jaar gelede oor hierdie onderwerp geskryf, en vandeesweek besluit om weer self-ondersoek te doen: Eet ek nou minder gemorskors of nie?

Ek het so ses jaar gelede oor hierdie onderwerp geskryf, en vandeesweek besluit om weer self-ondersoek te doen: Eet ek nou minder gemorskors of nie? Destyds het ek besluit om gesonder te eet omdat ek slegte gewoontes aangeleer het na my jonger jare waartydens ek nogal daarin geslaag het om my gewig in toom te hou deur kieskeurig te eet en om gereeld oefening te kry.

Die uwe het in 2017 besef ek het deel geword van die mensdom wat weens nalatigheid ongesond eet, en geen noemenswaardige oefening kry nie. Ek het op ‘n strand by ‘n eetplek rondom my gekyk terwyl die kleinkinders hul roomyse geniet, en ons volwassenes elkeen ‘n wafel met room en heuning geëet het. Wat my opgeval het was hoe oorgewig, van min tot totaal, die meerderheid van die omstanders was.

Vandeesweek was een van ons seuns en ek ‘n paar dae lank in die Kruger-wildtuin, en daar het ek weer van die oorgewigkwessie bewus geraak. Om die braaivleisvure saans was daar baie min besoekers wat nie oorgewig was nie. Sommige van hulle met bierboepe en vetrolle op verskillende plekke. Selfbewus, gedagtig aan my onderneming aan myself vyf jaar gelede, het ek weer na my eie maag gekyk wat die afgelope tien jaar gegroei het. Nie groter as ses jaar gelede nie, maar daar is geen teken van verslanking nie. Ek was nooit ‘n groot bierdrinker nie, maar hou van wyn en whisky wanneer die geleentheid daar is.

In die Wimpy op Pretoriuskop het ek op ‘n reënerige aand toe niemand kon braai nie, weereens van die gemorskosfaktor bewus geraak. My seun ek ek, en talle ander in die oorvol restaurant, het gesmul aan hamburgers, kaasburgers en die gewone Wimpy-spyskaartitems. Oorkant ons was daar ‘n groep Chinese toeriste. Maer en meesal middeljarig, besig om met vurke dit wat op hul borde was, te eet. Nie die gewone spyskaart-items nie. Heelwat blaarslaai, uie en tamatie, kaas en hamburgervleis. Ek besef toe hulle het waarskynlik hamburgers bestel sonder die broodrolletjies en souse, gevra vir meer blaarslaai en tamaties, en hul maaltyd in die proses baie gesonder gemaak. Ook dalk duurder, ja.

My seun, wat reeds nege jaar in China woon, het my ingelig Chinese se tradisionele kos bevat geen sout nie, hulle gebruik Sojasous. Rou sout is taboe. Hulle gebruik ook geen of bitter min suiwelprodukte. Hulle eet baie vars groente, vars en soms rou vis, nooit gevries nie, geen geprosesseerde vleis nie, meesal hoender en eend. Hulle gebruik nie suiker soos ons nie, en versoet hul kos, wanneer dit nodig is, met vrugte-ekstrakte. Die Chinese eet nie brood nie, en hul stysel is hoofaaklik rys en noedels. Saam met verskillende soorte groente. Hul tradisionele nageregte het effens vreemde smake, en word van vrugte, plante en selfs blomme gemaak. Die Chinese sê die oorgrote meerderheid van die Chinese disse wat ons in lande soos Suid-Afrika kry, soos byvoorbeeld ‘beef chop suyi ’ is ‘San Francisco-kos’ wat gemaak is om by Westerse ( Amerikaanse? ) smake te pas.

In 1988 was ek vier maande lank op kursus in Taipei in Taiwan. Wat my onmiddellik opgeval het, was hoe maer en fiks die mense daar was. Die Taiwanese het drie keer per dag volle maaltye genuttig, die meeste van hulle by straat-restaurantjies of –eetplekke, en selfs in hul tagtigs en negentigs, geen vet aan hul liggame gehad nie. Hulle is baie lief vir vars roerbraai-groente. Die generaals by wie ons klas geloop het, in hul sestigs en sewentigs, van Tsjiang-Kai Sjek se oorblywende offisiere, was almal so dun soos lunsrieme. In die strate het ek egter heelwat oorgewig Taiwannese opgemerk, veral onder die jonger ouderdomsgroepe, en selfs kinders. Navrae het aan die lig gebring dis die mense wat nie meer tradisionele Chinese kos eet nie, maar McDonalds en Kentucky Fried Chicken besoek, en versot op is aartappelskyfies, ‘French fries’ en pizza’s.

In ‘n stadium was Chinese en Japanners die langslewende mense op aarde. Maar soos die Westerse invloede en ‘gemorskos’ meer gewild geraak het, het hulle afgesak op die lys. Die Japanners is nog steeds daar, veral op hul eiland Okinawa waar die langslewende mense in die wêreld gevind word en waar hulle net natuurlike en vars kos eet. Langslewendheid hang natuurlik ook af van mediese sorg ensovoorts, maar navorsing bewys hoe meer items soos hamburgers, aartappelskyfies, sjokolade, roomys, poedings, pizza’s, vet rooivleis, geprosesseerde vleis jy eet, en natuurlik bier of ander alkoholiese dranke drink, hoe groter is jou kanse om oorgewig te wees, en natuurlik lewensgevaarlike siektes op te doen.

Om op te som: Ek is weereens, op amper 80-jarige ouderdom, deeglik bewus dat ek meer gesond moet eet en minstens 8 kilogram moet afskud. Ook dat ek, ten spyte van die pyne op verskillende plekke, meer oefening moet kry. Toe ek my vrou verlede keer van my voorneme vertel het, was haar antwoord: ‘Dag Nella’. Wat dit ookal mag beteken het. Hierdie keer bly ek stil, want nou weet ek wat dit beteken.

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button