South Coast Fever

Coalbrook – die ramp wat SA 64 jaar gelede geskud het

Meer as 430 mynwerkers het op ’n diepte van 180 meter ondergronds in die Coalbrookskag van die Clydesdale-steenkoolmyn naby Sasolburg in die Vrystaat toegeval toe die skagpilare in duie gestort het.

Die uwe het die afgelope paar dae deur ou skoolboeke wat jare lank in ‘n ou liasseerkabinet vergete was, geblaai, en afgekom op ‘n inskrywing in ‘n standerd nege huiswerk-
aantekeningboek van 1960. Tussen die gewone griffelwoorde het ek afgekom op een sinnetjie in ‘n vreemde handskrif, waarskynlik ‘n skoolmaat, met die woorde ‘Die mynwerkers is lankal dood. My pa sê so’.

Dadelik is my gedagtes teruggevoer na ‘n tyd toe ek net vier maande vantevore vyftien jaar oud geword het, baie bewus was van die politieke spanning in die land, en in Januarie/Februarie van 1960, saam met miljoene Suid-Afrikaners die erge trauma van die Coalbrook-mynramp deurleef het. Virseker een van die traumatiesste rampe in die land se geskiedenis.

Ek het my tot die internet gewend om meer inligting oor hierdie baie donker dae, wat groot neerslagtigheid in ons huis veroorsaak het, te soek, en afgekom op die bekende oud-SAUK-man en geskiedenis-liefhebber Albè Grobbelaar se rubriek ‘Vandag in die Geskiedenis’ wat op 19 Januarie deur Radio Pretoria uitgesaai is. Dit het my onmiddellik teruggeneem na daardie onheilspellende rampgevoel in my tienergemoed, teen die agtergrond van politieke onstuimigheid in die land waarvan ek terdeë bewus was agv. my pa se groot belangstelling daarin:

“Op Donderdag, 21 Januarie 1960, het koerante nog in voorbladartikels verslag gedoen oor die Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, se verrassende aankondiging in die Parlement die vorige dag oor ’n referendum om te bepaal of Suid-Afrika ’n repububliek sou word. Maar daardie aand om half agt is alle gedagtes oor die omstrede referendum verdring toe die nuus oor die ergste mynramp in die geskiedenis van die Unie van Suid-Afrika bekend geword het.

Meer as 430 mynwerkers het op ’n diepte van 180 meter ondergronds in die Coalbrookskag van die Clydesdale-steenkoolmyn naby Sasolburg in die Vrystaat toegeval toe die skagpilare in duie gestort het. Die ongeluk is deur ‘n kaskade van gebreekte pilare veroorsaak, wat die las op aangrensende pilare verhoog het, totdat hulle ook ingegee het. Die effek het uiteindelik oor ‘n gebied van 324 hektaar versprei. Oor die wêreld heen het die naam Coalbrook die volgende dag in groot swart letters op koerantvoorblaaie verskyn. In die volgende twee weke sou Coalbrook ’n huishoudelike naam word. Dag na dag, terwyl die wêreld asem opgehou het, het reddingswerkers probeer om by die slagoffers onder in die myn uit te kom. Dodelike metaangas ondergronds het reddingswerk bemoeilik, en daar moes die allergrootste versigtigheid aan die dag gelê word om te verhoed dat ’n ontploffing sou plaasvind.

’n Reuse diamantboor van YSKOR is inderhaas na die ongelukstoneel gebring, ’n boor wat die vermoë gehad het om binne agt uur tot op die nodige diepte van sowat 180 meter te boor. Die gat van sowat 33 sentimeter in deursnee sou gebruik kon word vir ventilasie en ook om met mynwerkers ondergronds te kommunikeer en kos by hulle te kry. Maar dit was nie so bestem nie. Eers het ’n dolorietlaag die boorwerk belemmer. Toe was daar tegniese probleme met die boor. Die minute, die ure, en later die dae het verbygesnel. Sewe dae na die ramp, terwyl moeë, bleek familielede en reddingswerkers toekyk, bereik die boor maar ’n diepte van sowat 40 meter. In die volgende 24 uur vorder die boordery maar ’n skamele twee meter. Daar word inderhaas ’n spesiale boorpunt uit Amerika ingevlieg. Op die 3de Februarie lewer die Britse Eerste Minister, Harold McMillan, sy beroemde Winds of Change-toespraak in die Parlement in Kaapstad, terwyl die boorwerk by Coalbrook onverpoos voortgaan. Die volgende dag, 4 Februarie, presies twee weke na die ramp, bereik die tonnel wat geboor is uiteindelik die plek waar die mynwerkers toegeval het.

’n Spesiale mikrofoon word in die gat laat sak, maar die enigste geluid wat die gespanne skare bo op grondvlak kan hoor, is die klank van water wat drup. Op Vrydag 5 Februarie 1960 maak dr. Verwoerd bekend dat alle hoop laat vaar is. Daar was geen lewe onder in die skag by Coalbrook nie.”

Die skoolmaat wat die woorde vroeër in die berig genoem, aan die einde van Januarie in my huiswerkboek geskryf het, se woorde is bewaarheid, en die hele Suid-Afrika, ook die wêreld, was verslae. Die familielede van die ontslape mynwerkers ontroosbaar. ‘n Gevoel van algehele verslaentheid het in die land geheers. My eie gemoedstoestand is destyds meer swartgallig gemaak, was die koerant- en radioberigte oor die druk wat besig was om teen Suid-Afrika op te bou, gevolg deur die eerste sluipmoordpoging op Premier Verwoerd later daardie jaar. Moeilike grootwordjare.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button