South Coast Fever

Mymeringe in die Nasionale Krugerwildtuin

"Reg voor my op hierdie oomblik is 32 olifante van alle groottes en ouderdomme in en om die dam by die Mopani-ruskamp in die Nasionale Krugerwildtuin."

Reg voor my op hierdie oomblik is 32 olifante van alle groottes en ouderdomme in en om die dam by die Mopani-ruskamp in die Nasionale Krugerwildtuin. Ek sit by ‘n tafel op ‘n balkon teenaan die dam. Dit is die derde dag van ‘n besoek van vyf dae saam met my twee seuns vir die soveelste keer aan hierdie wonderlike plek. Sonder ons onderskeie familielede weens hul verskeie verpligtinge, maar waaraan ons kon ontsnap.

Hoewel ek in my amper tagtig jaar op aarde in feitlik al die kampe van die wildtuin oornag het, is dit my eerste oorslaapbesoek aan Mopani. Van kindsbeen af was Shingwedzi, van al die ander kampe my gunsteling, en het Mopani nou in die tweede plek ingeskuif. Die gerieflike akkomodasie, die dam, en bowenal die behoud van die natuurlike plantegroei in die kamp gee hom ‘n besonderse atmosfeer. Heel anders as die ander.

Weens die tyd van die jaar is die wildtuin en Mopani ‘leeg’, en ek ervaar weereens daardie wonderlike fenomeen wat eie is aan die Bosveld, naamlik ‘n oorverdowende stilte. Behalwe vir die periodieke geluide wat die olifante in die water maak. Ek het as kind verlief geraak op die Krugerwildtuin tydens jaarlikse besoeke van ‘n baie jong ouderdom af, wat na ‘n lang onderbreking tydens latere hoërskool- en studentejare, hervat is toe ons twee seuns nog klein was. Herhaalde besoeke van ses tot tien dae oor die Kerstyd was ons gunstelingvakansies, want ons kon die tyd in vrede, sonder ‘n gedrang van mense, verkeer en Boney M se musiek in winkels geniet. Daar is net plek vir ‘n sekere aantal mense in die kampe en dagbesoekers is beperk. Baie warm ja, maar rustige Kerstye na aan die natuur.

My gedagtes gaan terug na die vroeë vyftigerjare toe ons as jong kinders in die wintermaande in Shingwedzi, Letaba en Laer-Sabie in primitiewe maar lekker hutte gebly het met daardie sterk, kenmerkende geur van grasdakke. Daar was nie teerpaaie nie, ook nie elektrisiteit nie, en ons het ons weg saans met paraffienlampe na die opwasplekke en ablusiegeboue gevind. Die hutte het nie toilette of warm water gehad nie. Daar was groot, swart ketels bokant brandende stompe op strategiese plekke in die kampe waar kookwater 24 uur lank beskikbaar was.

Die motors het in die oggende tou gestaan voordat die hekke oopgemaak het want almal wou so gou moontlik die leeus gaan soek wat hulle die vorige aand hoor brul het, of by ‘n nabygeleë dam of watergat gaan wag op diere wat kom drink het. Ons ouers het destyds saam met vriende wildtuin toe gegaan, en daar was minstens twee motors, soms drie betrokke. ‘n grys Ford en ‘n groen Oldsmobile-koepee, albei 1948-modelle, en ‘n Hudson Terraplane van 1950, wat jare lank diens gedoen het.

My ouers was bevoorreg om vriende te wees van Oom Chris Odendaal, ‘n landdros van Roodepoort, en sy vrou Tannie Loekie, ‘n onderwyseres van Florida. Hulle was kinderloos, en het baie aandag aan ons gegee. Veral Oom Chris, wat ‘n natuurliefhebber van formaat was, en die destydse hoof van die wildtuin, Dr. Rocco Knobel persoonlik goed geken het, het sy ryke kennis en allerhande interessante inligting en staaltjies met sy vriende se kinders, soms vyf van ons alleen saam met hom in sy Ford, gedeel. Hy het ook ‘n Bolex-rolprentkamera, wat hy gereeld opgewen het, gereed gehad en het die wonderlikste kleurfilmbeelde daarmee opgeneem wat na die vakansie op ‘n spesiale braaivleisaand by sy huis aan ons vertoon is. Ons het ons dan weer verkyk aan die diere, maar veral aan die bewegende beelde van onsself aan die speel of in ander situasies. Die grootste lekkerte was die verrassings wanneer ons kinders op die skerm verskyn het in situasies in die kampe en nie bewus was daarvan dat Oom Chris ons met sy kamera bekruip en verfilm het nie.

Nog ‘n herinnering is die kos wat ons saamgeneem het wildtuin toe. Vleis in Consul-inmaakbottels met asyn, blikke beskuit, ingelegde groente en vrugte, ‘n verskeidenheid blikkieskos, en kondensmelk, ons gunsteling. Vandag nog drink ons, net in die wildtuin, in die oggende koffie met kondensmelk, hoewel ek normaalweg koffie sonder suiker drink. Ter viering van die herinnering.

Ons eie kinders het hul ouers se liefde vir die Krugerwildtuin geërf, wat dit aan die kleinkinders oorgedra het. Daar is uiteraard derduisende ander Suid-Afrikaners wat dieselfde oor hierdie wonderlike stuk erfenis voel, maar ook ander wat nooit die geleentheid gehad het om dit te besoek nie weens lang afstande en ‘n gebrek aan moderne vervoergeriewe, en dus nie dieselfde affiniteit het nie. Ook diegene wat die wildtuin besoek, lief is vir die natuur, maar nie hou van die roetine van vroeg opstaan, rondry, foto’s neem, slaap, lees, rondry, en vleisbraai in die aande nie. Te verstane, want hulle het nie die voorreg gehad om van kindsbeen af, soos ons, verslaaf daaraan te raak nie.

Die goeie nuus, te midde van al die algemene verval en agteruitgang oral in ons land, is die Krugerwildtuin is steeds ‘n plesier om te besoek. Daar is dinge wat aandag moet kry, ja, maar in die algemeen word dit goed bestuur, ten spyte van finansiële en ander probleme. Mag dit so bly, ongeag wat die toekoms andersins vir ons inhou.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button