South Coast Fever

Komende verkiesing anders as in die verlede

Opinion piece by Johan Pretorius.

Hoe nader ons aan die verkiesing op 29 Mei kom, hoe meer word daar in die Pretorius-huishouding gepraat oor die moontlike uitslag en wat dit vir die land se toekoms sal beteken. Dis nietemin ‘n ander gesprek en nie die besprekingsonderwerp vandeesweek nie. Waaraan ek wel wil aandag gee, is die veranderings aan die verskillende stembriewe en vir wie op elkeen van die drie gestem word.

Ek het skielik besef ek weet nie presies wat die veranderings is nie, en het gaan kers opsteek by die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Op stemdag sal kiesers by 22 296 stemlokale elkeen drie stembriewe kry, vergeleke by twee in die verlede.
Die verandering wat dit tot gevolg het, is belangrik, en kiesers sal hulle deeglik moet vergewis van hulle opsies wanneer hulle hul kruisies trek. Die OVK sal in die volgende weke voor stemdag deeglik moet seker maak dat soveel kiesers was wat moontlik is, op die hoogte van die veranderings is om bedorwe stembriewe tot die minimum te beperk.

In die vorige verkiesings van 1994 en daarna, was die persentasie bedorwe stembriewe nooit meer as 1.5% nie. Weens die veranderinge, sal alles in die stryd gewerp moet word met kiesersopleiding om hierdie persentasie binne perke te hou.

Nà die beslissing van die Grondwethof in 2020 dat onafhanklike kandidate ook toegelaat moet word om op provinsiale en nasionale vlak deel te neem, het politieke partye ooreengekom op veranderings aan die Kieswet, wat uitgeloop het op die stelsel van drie stembriewe – twee vir die Nasionale Vergadering en een vir die provinsiale wetgewers. Die eerste verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering sal die name van 52 geregistreerde partye bevat, en sal dwarsdeur die land presies dieselfde wees.

Die eerste stembrief sal feitlik dieselfde soos voorheen wees en behoort nie probleme op te lewer nie. Die eerste stemming sal wees om die 200 lede van die Nasionale Vergadering te kies wat slegs deur politieke partye op ‘n geslote lysgrondslag betwis word, en die tweede stemming sal wees om die oorblywende 200 lede van die Nasionale Vergadering te kies wat deur politieke partye en onafhanklike kandidate in elk van die nege provinsies betwis sal word.

Die tweede stembrief vir die Nasionale Vergadering is bekend as die Streekstembrief en sal in elke provinsie anders lyk met partye, en in sommige provinsies, ook onafhanklike kandidate se name daarop.

Die derde stembrief is vir die provinsiale wetgewers, en soos die Streekstembrief sal die provinsiale stembrief van provinsie tot provinsie verskil, die name van politieke partye bevat, en in sommige provinses, dié van onafhanklike kandidate.

Daar sal dus 19 verskillende stembriewe dwarsdeur die land wees. Een vir die Nasionale Vergadering, wat dwarsdeur die land dieselfde sal wees, tesame met nege streekstembriewe (provinsiale) vir die Nasionale Vergadering, en nege vir die provinsiale wetgewers.

Die hoeveelheid streeksetels per provinsie is die volgende: Gauteng 48, KwaZulu-Natal 41, Oos-Kaapland 25, Wes-Kaapland 23, Limpopo 19, Mpumalanga 15, Noordwes 13, die Vrystaat 11, en Noord-Kaapland 5.

Die nuwe stelsel stel kiesers in staat om hul stemme kreatief op drie stembriewe te verdeel tussen partye en onafhanklike kandidate. Ná die verkiesing sal die President van Suid-Afrika deur die Nasionale Vergadering verkies word.

Alhoewel daar van die President vereis word om ‘n lid van die Nasionale Vergadering te wees ten tyde van die verkiesing, moet ‘n persoon wat as President verkies word hul setel bedank om die amp te aanvaar. Die premiers van elke provinsie sal ook ná die verkiesing deur die onderskeie provinsiale wetgewers verkies word.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) bestaan uit 90 lede, tien verkies deur elk van die provinsiale wetgewers in verhouding tot die samestelling van die wetgewer. Die NRVP-lede sal die dag ná die eerste sitting van die Nasionale Vergadering ingesweer word.

Die verskillende partye sal natuurlik wil hê dat kiesers op elk van die drie stembriewe vir hulle stem. Maar, soos vroeër genoem, kiesers kan uiters kreatief wees met hul verdeling van stemme, na gelang van hul eie voorkeure.

Daarom is dit noodsaaklik dat daar voor stemdag deeglik kennis geneem van wie die kandidate en partye in op die verskillende stembriewe sal wees, en besin word oor wat die beste sal wees in hul spesifieke omstandighede. As daar nou een verskiesing is waarin alle stemgeregtigdes moet gaan stem, is dit vanjaar s’n.

Of die uitslag nou positief of negatief vir die land gaan wees, moet nog gesien word, maar een ding is duidelik: Dis een van die belangrikste verkiesings in die land se geskiedenis, en niks sal na 29 Mei meer dieselfde wees nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button