Ons selfaangestelde Afrikanerleiers wat die volk wil red
Opinion piece by Johan Pretorius.
Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is baie lief vir my mense, my taal, die Afrikaanse kultuur en geskiedenis. Wat my egter mateloos irriteer, is die selfaangestelde leiers wat hulle om elke hoek en draai voorhou as die redders van die Afrikanervolk.
Jy kry hulle oral op die sosiale media. Ernstig. Afgemete. Vertel jou onder meer van die ‘Boervolk’, hoe die Afrikaner verraai is, hoe ons deur ‘n bende terroriste geregeer word, waarom ons nooit moes oorgegee het nie en aanhou veg het, ens. ens.
Een van die verskeidenheid is ene Louis Liebenberg, wat mense onder meer aanmoedig om in sy ‘diamantpakkies’ te belê, ontken dis ‘n Ponzi-skema – daar is reeds op verskeie van sy bates beslag gelê – gestaan het as onafhanklike kandidaat in gister (Woensdag) se verkiesing, die Afrikaanse media en joernaliste in die onwelvoeglikste taal denkbaar uitskel, ‘n groot vriend van oud-president Zuma is, selfs groot bedrae geld aan Zuma se regskoste bestee, dinees vir hom en ander Afrikaner-randeiergroepe aangebied het, en verklaar het hy steun Zuma om weer president te word, ‘want Zuma was ‘n skitterende staatshoof’.
In van hierdie videoboodskappe sit hy nakend op sy toilet of staan in die stort en gebruik die vieslikste en Godslasterlike taal. Daarbenewens finansier en bedryf hy ‘n radiostasie en koerant met die naam ‘Die Waarheid’.
Benewens Liebenberg, is daar verskeie ander groepe, onder meer die jeugbeweging Bittereinders, die Suidlanders en die Z.A.R. Boervolk. Onder hulle is bekende name soos Devon Hofmeyr, die seun van Steve die sanger, en Steve self wat gereeld sy sienings en ontledings van die politiek per video op die internet deel.
Dan is daar die trolle wat gereeld by elke geleentbeid deelneem aan gesprekke op Facebook en elders, en geen geleentheid laat verbygaan om onder meer gal te braak oor hul mede-Afrikaners wat ‘verraaiers’ is nie. Talle van hulle is boonop ondersteuners van Donald Trump. Wanneer ‘n mens hiervan kennis neem, besef jy die Afrikanervolk is seker een van die mees verdeelde en gepolariseerde etniese groepe ter wêreld.
Soos reeds bekend, is Dana Snyman my gunsteling Suid-Afrikaanse joernalis/skrywer.
Hy het verlede week ‘n rubriek oor selfaangestelde Afrikanerleiers in Netwerk 24 se koerante geskryf. Met erkenning aan hom en Netwerk 24, deel ek dit met Feverlesers wat dit nog nie gelees het nie:
“Hy is ‘n man wat sy man kan staan. ‘n Vegter vir sy mense. Gereeld plaas hy ‘n video op Facebook of TikTok waarin hy oor die een of ander saak gesels. Soms ry hy sy bakkie terwyl hy praat, ander kere sit hy op sy huis se stoep. In die agtergrond sal dalk ‘n papegaaihok staan en dalk ‘n skildery van ‘n Bosveldtoneel teen ‘n muur hang. Jy sal nie sommer ‘n rak volgepak met boeke sien nie.
Hy dra graag ‘n kamoefleerbaadjie of kakiehemp, en sy baard kom nou mooi aan. Soms het hy ‘n hoedjie op, soos diè wat vee-inspekteurs en van-diens-af- staatsamptenare lank gelede gedra het. Gewoonlik begin hy deur te sê: “Ek wil graag iets met julle deel.” ‘n Mens neem aan hierdie ‘julle’ met wie hy praat, is sy aanhangers. Hy wil die indruk skep dat hy ‘n man vol wysheid is, ‘n diep mens wat die lewe al diep geleef het, ‘n generaal De Wet vir ‘n nuwe era. Hy is nie suinig met sy wyshede nie. Hy vermaan graag jongelinge, en dan praat hy van homself in die derde persoon. “Dat oom nou vir jou sê jy kan die media nie vertrou nie, hulle probeer jou die grond intrap.” Al waarvan hy hou in ‘n koerant, is dit waarmee hy saamstem.
Hy het nie juis ‘n aanvoeling vir ironie nie. Hy is ‘n voorvegter vir Afrikaans, maar skryf hy iets op Facebook, is dit vol taal- en spelfoute. Hy kritiseer graag mens, dier en politieke party, maar kritiseer jy hom, raak hy dreigend en verban jou van sy Facebookblad af. Wanneer hy humoristies probeer wees, laat hy sy innerlike Tolla van der Merwe vry en praat met ‘n aangeplakte Namakwaland-aksent.
‘Volksgenote’ noem hy soms die mense met wie hy praat, soos ‘n spreker op ‘n Geloftefeesbyeenkoms in 1973. Wanneer hy oor God praat, praat hy van ‘die God van Abraham, Isak en Jakob’. Asof hy vir jou probeer sê sy geloof is suiwerder as joune.
Hy praat graag oor die Ou Testamentiese profete en terwyl hy oor Jesaja en Josua en die ander praat, kan jy nie anders dink as om te aanvaar hy beskou homself as ‘n profeet nie.
Sonder om te besef in hierdie land en wêreld is dit nie moeilik om ‘n profeet te wees nie: Jy kan net dit herhaal wat jy in die koerant lees of op ander nuusplekke hoor en sien. Ons leef reeds ons eie profesieë. Hy verwys dikwels na ‘n vrou as ‘n ‘dame’ of ‘dametjie’.
Hy hou van almal wat van hom hou en stem saam met almal wat met hom saamstem, oor watter saak ookal. Hy sê graag vir iemand: “Jou yster.”
Hy sal moontlik vlugtig met ‘n bedelaar, ‘n wit bedelaar, uiteraard, op ‘n straathoek gesels en die gesprek afneem. Hy is ‘n vegter vir sy mense, ‘n man wat ‘n bars in sy selfoon se lens kan kyk.
Hy is een van ons vele selfaangestelde Afrikanerleiers.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page



