Die atmosfeer hier in die Watergat was die afgelope week heelwat anders as ander weke.
Ons kon sien baie van ons besoekers was diep bekommerd.
Soos een van hulle verklaar het: ‘Ons beleef nou die lotsbepalendste week sedert 1994. As dinge hier verkeerd loop, is dit ikabod’.
Lanklaas daardie woord gehoor, maar ek stem saam.
Duim vashou en asem ophou.
Vrydag se verrigtinge in die parlement sal ons ‘n goeie aanduiding gee waarheen ons op pad is. Dit sal ook ‘n groot invloed hê op wat hier in KZN gaan gebeur. Dis waaroor ons die meeste bekommerd is.
Ewenwel, dit help nie om daaroor te tob nie.
Ons gaan vandeesweek ook nie sport gesels nie, maar ‘n ‘gesprek’ wat Oom Pottie en ‘n besoeker uit Gauteng, Piet Hamman, gehad het om ‘n ligstraaltjie in ons donker te laat skyn, met ons lesers deel.
Dit het begin toe Oom Pottie ‘n Harvey Wallbanger-mengeldrankie volgens Piet perfek gemaak het.
Piet: “Kon nie beter nie. Jy’s nes Jan van der Wath.”
Pottie: “Wie?”
Piet: “Jan van der Wath. Hy het altyd alles presies reg gedoen. Soos jy met jou Harvey Wallbanger. Dinge het altyd perfek vir hom verloop.”
Pottie: “Nee wat, niemand is perfek nie.”
Piet: “Jan van der Wath, beslis. Hy was ‘n fantastiese atleet, het Ernie Els op die gholfbaan opdraend gegee. As hy net die tyd gehad het om te oefen kon hy een van die Grand Slams van tennis gewen het. Met sy fantastiese baritonstem kon hy in operas gesing het as hy net tyd gehad het. Hy kon dans soos Fred Astaire van ouds. Sy klavierspel was ook onverbeterlik. Blykbaar beter as Richard Clayderman’.
Pottie: “Ek kan dit nie glo nie. Iemand baie besonders.”
Piet: “Hy was. Hy het ook ‘n fantastiese geheue gehad. Soos ‘n rekenaar. Hy het almal se verjaardae onthou. Hy het alles van wyn af geweet. Kultivars, oesjare, landgoedere oor die hele wêreld, watter kos om saam met watter wyn te eet, ook die eetgerei wat by watter maaltyd pas. Hy kon ook enigiets herstel. Van wasmasjiene tot motors. Nie soos ek nie. Wanneer ek ‘n gloeilamp omruil, blaas die hele straat se ligte. Nie Jan nie. Hy het altyd alles perfek reg gedoen.”
Pottie: “Is jy ernstig? Trek jy nie my been nie?”
Piet: “Glo my. Hy het altyd geweet presies wagtter roete om te ry om verkeersknope te vermy. Ek beland altyd in hulle. Maar Jan, hy het nooit ooit ‘n fout gemaak nie. Hy het geweet hoe om ‘n vrou te behandel en haar te laat goed voel. Hy sou nooit teëpraat nie, selfs al het hy geweet hy was reg en die vrou verkeerd. Sy klere was altyd net die beste, en stylvol, met die mooiste, blinkgepoleerde skoene. Jy kon hom deur ‘n ring trek. Hy het nooit, ooit ‘n fout gemaak nie, en was die perfekte eggenoot. Hy het eenvoudig nie sy gelyke gehad nie.”
Pottie: “Hoe en waar het jy hierdie fenomeen ontmoet?”
Piet: “Ek het hom nooit ontmoet nie. Hy is oorlede en ek is met sy weduwee getroud.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
