Die vakansiegangers is hier, en ons is baie besig…..vroulief se ‘specials’ verkoop goed, bv. bobotie of hoenderpastei en ‘n bier teen R55, ons sien weer ons gereelde Junie/Julie-besoekers, en geniet die sardiens wat plek-plek hul opwagting maak. Lekker tye.
Saam met ons vakansiebesoekers het ‘n prominente ANC-lid, ‘n periodieke klant van die Watergat, hier ingeloer en ‘n indringende gesprek met my gehad oos die politieke situasie. Hy wou om ooglopende redes nie hê ek moet sy naam noem nie, en ek verwys na hom as mnr. Mol. Hy het my meegedeel die ANC was altyd van mening dat slegs die ANC en van sy lede die party kan vernietig. Dis presies wat nou gebeur het, en veral in KZN.
Mnr. Mol het daarop gewys dat verskeie politici in KZN met die hulp van korruptiewe aksies die politieke leer opgeklim het, en in die proses na Jacob Zuma se invloedsfeer beweeg het. ‘n Invloedsfeer waar die etniese Zoeloekultuur in die party sterk beklemtoon is, tesame met regstellende aksie en die oordrewe klem op swart.
Mnr Mol gee toe Zuma is ‘n briljante, opportunistiese politieke organiseerder, en het in die laaste maande voor die stigting van sy party, ANC-strukture gebruik om die MK-party te organiseer en uit te bou. Hy is steeds besig daarmee. Daar is hooggeplaasdes in die ANC wat binnekort gaan oorloop.
Hy verwys na munisipale tussenverkiesings wat vandeesweek Woensdag gehou is, waarvan die uitslae sal feitlik vir seker in MK se guns sal wees. Mnr. Mol weet van verskeie ander raadslede in die Ugu-distrikmunisipaliteit wat gaan bedank en dan as MK-kandidate verkiesbaar sal wees. Op hierdie manier, sê hy, kan MK die UGU-munisipaliteit, en ander munisipaliteite, stadig maar seker oorneem, en talle amptenare gaan hul werk verloor. ‘Vir ons is dit nag’, het hy verklaar. Hy wonder hoe lank bv. Ray Nkonyeni en Umzumbe gaan uithou, en het onderneem om my op die hoogte te hou.
Vlugtige sport: Ons hou styf duim vas vir die Springbokke en Bulle vir Saterdag se wedstryde. Ons gaan tjok-en-blok vol wees. Hoop nie ons moet ons verdriet later die aand verdrink nie.
Stoute Melanie van Biljon van Roodepoort se loopstorie: ‘n Man stap’n kroeg binne en vra die kroegman hoeveel ‘n bier kos. Die kroegman antwoord dis vyf rand vir plaasliike biere en R10 vir ingevoerde biere. Die klant is heeltemal uit die veld geslaan. ‘Trek jy nie my been nie?’. ‘Dis die pryse’, antwoord die kroegman. ‘Gee my dan ‘n Namibiese skuimkop, en ‘n bord met biefstuk, twee eiers, aartappelskyfies en slaai, asb.
Wat kos dit?’ ‘Dis R15’, verklaar die kroegman. Die klant is weer verbaas. ‘Vyftien rand?? Jy speel.’ ‘Nee, ek speel nie, dis wat dit kos’. Die klant bestel die dis, bly uit die veld geslaan, en baie beïndruk met die kuierplek. Nadat hy ‘n fantastiese maaltyd geeët en nog ‘n bier bestel het, vertel hy die kroegman hoe hy voel. ‘Ek sal die eienaar van die plek baie graag wll ontmoet.’ ‘Hy is in sy kantoor hierbo met my vrou’, antwoord die kroegman. Die klant frons. ‘Wat doen hy in sy kantoor met jou vrou?’ Die kroegman antwoord meewarig: ‘Dieselfde wat ek met sy besigheid doen.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
