South Coast Fever

Suidkus-inwoners slagoffers van ernstige Facebook-bedrog

Opinion piece by Johan Pretorius.

‘n Boodskap van ‘n goeie kennis van my hier aan die Suidkus verlede week het my weereens laat besef hoe ernstig en wydverspreid bedrog op Facebook deesdae is, en hoe baie mense derduisende rande verloor.
Die gewilde Facebook-komponent vir bedrog is Messenger, waarmee ekself ‘n jaar of wat gelede geteiken is.

Toe ek die persoon, wat naamloos wil bly se verhaal hoor, het ek onmiddellik besef dis soortgelyk aan wat met my gebeur het, toevallig ook met die gekloonde profiel van ‘n ander FB-vriend aan die Suidkus.

Ek het gelukkig vroeg besef dis ‘n bedrogspul, maar nie voordat ek dit aanvanklik gesien het as ‘n moontlike geleentheid om my bank-oortrekkingsbedrag uit te wis nie.

Daar is verskeie maniere waarop mense ingeloop word.

In my geval het die vriendin my uit die bloute op Messenger gekontak en gevra hoe dit met my gaan.

Nadat ek geantwoord het, het die volgende boodskap gekom:

“Het jy jou geld al gekry?”

‘Watter geld?” het ek geantwoord.

“Die geld wat deur die Staat se spesiale fonds aan gekeurde kandidate uitbetaal word. Jou naam is op die lys. Kontak hulle voordat dit te laat is. Hier is hul kontak-adres op Messenger.”

Ek het die adres gebruik, en is meegedeel R1.5-miljoen rand is as ‘n spesiale uitbetaling aan my, ook aan ander, toegeken.

Ek moes ‘n bedrag, ek dink dit was R5 000, in ‘n spesiale rekening inbetaal om die bankkostes te dek, waarna die geld onmiddellik uitbetaal sou word.

Ek het my ‘FB-vriendin’ op Messenger gekontak en gevra sy moet my haar selfoonnommer stuur.

“Kan nie,”antwoord ‘sy’, “ek is op die oomblik in die hospitaal na ‘n groot operasie, en my selfoon is by die huis. Boodskappe word aan my oorgedra. Maar bly in kontak met die fonds sodat jy nie al daardie geld verloor nie. Ek is in my noppies met my uitbetaling.”

Om ‘n lang storie kort te maak, my vermoedens is net daar bevestig.

Ek het die ‘spesiale fonds’ beveel om warmplek toe te gaan, Facebook in kennis gestel en die valse profiel is verwyder, maar nie voordat die ‘spesiale fonds’ my, in baie goeie Afrikaans, steeds probeer oorreed het om op te dok nie.

Ek het die FB-vriendin uiteindelik per selfoon in die hande gekry.
Sy het niks van enige uitbetaling geweet nie, en my meegedeel presies dieselfde het vantevore met haar gebeur.

Toe die ander FB-vriend my verlede week bel, kom ons noem hom Fred, en meedeel die nodige geld sal inbetaal word, was ek uiteraard uit die veld geslaan.

“Waarvan praat jy? Watter geld?”

In die opvolgende gesprek het Fred met ‘n skok agtergekom dis ‘n bedrogspul en baie van sy geld is reeds verlore. Ek het Fred gevra om my dmv. ‘n stemboodskap te vertel wat gebeur het:

“Ek is deur ‘n Suidkusvriend (Johan Pretorius) genader in verband met spesiale regerings-uitbetaling waarvolgens uitgesoekte persone elk R1.5-miljoen kry. ‘Hy’ het my die nommer gegee en ek het self die betrokke mense gebel, en toe ek hoor hoeveel administrasiekoste betrokke is om die geld deur die bank uitbetaal te kry, het ek geweier. Daarna het hulle my self gekontak en aanhoudend geld gevra (kwansuis weens onvoorsiene kostes), wat ek betaal het. Toe ek sê ek het nie meer geld nie, het hulle my ingelig ‘Johan’ sal die geld namens my inbetaal. Wat ‘hy’, volgens hulle, dan ook gedoen het.”

“Ek het ‘Johan’ per Messenger gekontak, ek het nie meer sy selfoonnommer gehad nie, en hom meegedeel ek het nie vertroue in die skema nie. ‘Johan’ my gekommunikeer, gerus gestel en oortuig dis alles waar, en ek sal die voordeel kry, ek moet hom net vertrou. Omdat ek hom al jare ken en hy ‘n betroubare en bekende hier aan die Suidkus is, het ek aanvaar hy kan nie werklik so dom wees as om vir ‘n ‘scam’ te val nie.”

“Die oorspronklike betaling is R37 700, en daarna word ‘n onmiddellike uitbetaling aan jou gewaarborg, daar word selfs op die Bybel gesweer dat die geld die volgende dag aan jou uitbetaal sal word. In ‘n stadium het ons ooreengekom dat ‘Johan’ R22 000 namens my sou inbetaal, en dat dit dan van die R37 000 afgetrek sou word. Omdat hy ‘n besigheid begin het en ek die indruk gekry het dat hy ook finansieël swaartrek, het ek onderneem om hom R500 000 van die R1.5-miljoen sou gee wanneer die geld uitbetaal word. Waarmee hy akkoord gegaan het.”

“Die ware Johan en ek het van die scam bewus geraak toe ek hom op sy egte Messenger-adres gekontak en meegedeel het ek is gereed om die volgende betaling te maak. ‘Hy’ het herhaalde kere nie die nommer wat ek op Messenger gekry het, geantwoord nie. Toe ek die regte Johan uiteindelik in die hande kry, het hy nie geweet waarvan ek praat nie, en hele bedrogspul is ontbloot. Ek het Facebook laat weet en die vals profiele is uitgewis. Die tragedie is dat talle mense landwyd so gevang word. Veral ou mense is die teikens, en die bedrieërs stuur selfs fop-videos van hulle wat hul dankbaarheid uitspreek vir die uitbetalings.”

Benewens hierdie episode, het Fred amper R2-miljoen verlede jaar in ‘n ‘crypto currency’ bedrogspul verloor.

Volgens internetbronne, een van talle ander wêreldwyd, ook in Suid-Afrika. Fred is op sy oudag is in ‘n uiters benarde finansiële posisie.

Kenners van hierdie ‘scams’ wys daarop dat dit in verskeie kategorieë gepleeg word: onder meer ivm. loterye, romantiese kontakte, skenkings, regerings-uitbetalings, soos genoem in bg. berig, fopkoepons en -kompetisies,

Die raad van die kenners is onder meer om gladnie vreemdelinge as FB-vriende te aanvaar nie.

Moet ook nie ‘kliek’ op skakels op Messenger waarvoor jy nie gevra het nie.

Moet nooit aan enige finansieël-verwante bedrywighede op Facebook deelneem nie.

Indien jy kennisse as Facebookvriende aanvaar, kontak hulle eers om seker te maak hulle is wel wie jy aanvaar dit is.

Indien jy vermoed iemand is besig om jou profiel te misbruik, moet jy dit by Facebook aanmeld.

Die adresse is die volgende: Webwerf: https://www.facebook.com/ E-pos: [email protected].

Ander stappe is: ‘Blok’ die person se boodskappe of die individu self. Ignoreer die gesprek of wis dit uit (delete).

Neem ‘n ‘screenshot’ indien jy dit wil gebruik wanneer jy dit wil aanmeld. Vir meer besonderhede, doen navorsing op die internet oor wat jou te doen staan.

Die goue reël is: Wees deurentyd op jou hoede. En aanvaar daar is geen manier om geld op Facebook te maak nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button