South Coast Fever

Wouter se Watergat: Hendrickse was swak, Williams het kom red

Die Sharks se Jaden Hendrickse was een van die groot sondaars en het om die een of ander rede kwaai gesukkel.

Die groot besprekingspunt in die Watergat vandeesweek was die oorwinning van Donald Trump in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die omvang van die oorwinning het selfs sy grootste bewonderaars onder ons besoekers verbaas. Hulle was ekstaties oor die ‘groot klap wat die Hoofstroommedia en die liberaliste in Amerika toegedien is.’ Vir die anti-Trumpers wat dit ’n ‘ramspoedige gebeurtenis waarvan ons die nadelige gevolge binnekort gaan sien’, soos een dit gestel het. Ek moet erken, sowel Pottie as ekself was ook kwaai teleurgesteld, maar die Amerikaanse kiesers het hul keuse gemaak, en die wêreld sal daarmee moet saamleef.

Die rugbygesprekke het hoofsaaklik gehandel oor die Springbokke se oorwinning oor Scotland verlede Sondag. Hoewel almal bly was, was daar, veral vroeg in die wedstryd, die een kreun en negatiewe kommentaar na die ander wanneer die Bokke drooggemaak het. Veral met aanslane en ’n gebrek om oor die voordeellyn te kom. Die Sharks se Jaden Hendrickse was een van die groot sondaars en het om die een of ander rede kwaai gesukkel.

Die Scots losvoorspelers het hom kwaai ontsenu. Toer sy Sharks-spanmaat Grant Williams op die veld kom, was daar onmiddellik ’n verandering. Op die oomblik is die Lions se Sanele Nohamba ’n baie beter skrumskakel as Hendrickse. Ewenwel, die Bokke het uiteindelik, danksy die plofbare ‘bomb squad’ vier drieë gedruk en goed gewen, maar sal baie beter moet speel indien hulle Engeland die komende naweek wil klop.

Die Proteas was ook onder intense bespreking, en iets wat ons nie kan kleinkry nie is waarom hul ervare middelkolwers nie die mas in die T20-kompetisie teen Indië kan opkom nie. Heinrich Klaasen en David Miller is bekend as verwoestende slaners van die bal in hierdie soort krieket, maar het tot dusver nog nie veel uitgerig nie. Indien Tristan Stubbs en Gerald Coetzee nie die wa deur die drif getrek het nie, was die reeks reeds verlore. Boonop is dit nie die beste moontlike Indiese span nie. ’n Ander ooglopende faktor is die sg. kwota-balansering wat gedoen word wanneer spanne gekies word. Dis ’n werklikheid waarmee ons moet saamleef, solank die krieketbase net nie dink ons is pampoene nie. Dis baie ooglopend.

Ons loopstorie is vertel deur Jan Dorfling, ’n geesdriftige gholfspeler van Roodepoort wat hier vakansie hou.

’n Tawwe cowboy vertel sy kleindogter indien sy ’n lang, gesonde lewe wil lei, moet sy ’n teelepel buskruit elke oggend oor haar pap strooi. Die kleindogter het dit gedoen, en geleef tot die rype ouderdom van 103 jaar. Sy het 14 kinders, 30 kleinkinders, 35 agter-kleinkinders, 25 agter-agter-kleinkinders agtergelaat. Benewens die krater met ’n omtrek van 60 metre waar die krematorium voorheen was.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button