South Coast Fever

Verstomming oor die brand-verwoesting in Los Angeles

Iets wat by my groot ontsteltenis veroorsaak het, was die politici wat hierdie ontsettende natuurramp gebruik het om punte aan te teken.

Die groot besprekingspunt die afgelope week hier in die Watergat was die verskriklike brande in die Amerikaanse glansstad, Los Angeles. Ons het hier in ongeloof na die oorsese TV-nuusdienste sit en kyk na ellelange video-opnames van die ongelooflike verwoesting wat aangerig word. Toe hierdie rubriek geskryf is, was daar nog geen teken dat die brande onder beheer gebring sou word nie.
Iets wat by my groot ontsteltenis veroorsaak het, was die politici wat hierdie ontsettende natuurramp gebruik het om punte aan te teken. Veral die Republikeinse Party onder die leiding van julle weet wie wat die Goewerneur van Kalifornië en ander hoogeplaasde amptenare sleg te sê omdat hulle kwansuis verantwoordelik is dat die brande buite beheer is. Kom ons aanvaar dat daar dalk ’n element van waarheid in is, waarom nie wag tot ná die gebeurtenis nie? Pleks daarvan om ’n bekgeveg te ontketen onderwyl duisende mense se wonings en besittings verwoes word nie? Die nuwe president is mos reeds verkies.
Nog ’n steen des aanstoots, en baie van ons gaste het hierna verwys, is die beskuldigings van veral die ‘evangelicals’ dat die brande ’n straf van God is weens die onaanvaarbare gedrag van die mense van Los Angeles. Daar is spesifiek verwys na ’n toespraak op die Golden Globes-geleentheid in die stad waartydens opmerkings gemaak is wat volgens hulle Godslasterlik is. Soos Oom Pottie opgemerk het, ‘waarom sal God almal straf, ook gelowige Christene, vir iets wat deur een moontlik ongelowige mens kwytgeraak is? Maak eenvoudig nie sin nie.’
Die bykomende aspek van hierdie saak is die videos wat met kunsmatige intelligensie vervaardig is wat deur hierdie kritici gebruik word om hul standpunt te ondersteun. Ons het van hulle op ons rekenaars en slimfone te siene gekry, en was verstom oor die gewetenloosheid van hierdie klomp fanatici. Ons het opnuut besef hoe gevaarlik KI en die snel-ontwikkelende digitale era is wanneer dit misbruik word. Nog ’n voorbeeld hiervan is die totale gebrek aan meganismes om feite van versinsels te onderskei. Op Facebook gaan daar binnekort geen meganisme wees om onwaarhede en versinsels te keer nie. Dis egter ’n gesprek vir ’n ander dag.
Ons het natuurlik ook sport gesels, maar weens die swak vertoning van die meerderheid Suid-Afrikaanse spanne, veral ons Sharks, los ons dit vir later. Nie lus om nou daaroor te praat nie. Het egter lekker gekyk na die wedstryde van die huidige SA T20-krieketreeks.
Ons loopstorie kom uit Pottie se argief:
’n Man vertel ’n vriend van sy wedervaringe die vorige aand, toe hy op ’n kollega se verjaardagviering in ’n kuierplek te veel gedrink het.
Hy het besef hy het ’n probleem, al was sy denke ietwat deurmekaar.
Daar en dan besluit hy hy kan nie met sy motor ry nie, en neem ’n bus huistoe.
Netsowel, sê hy, want onderweg huistoe is hy verby ’n polisieblokkade waar bestuurders afgetrek is en in toestelle moes ‘blaas’.
Die polisie het die bus laat verbygaan, en hy het sonder enige voorval by die huis aangekom.
‘Nogal ’n verrassing, want ek het nog nooit ‘n bus bestuur nie, en weet nie waar ek dit gekry het nie’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button