Waarom is dit so moeilik om jou maag te verloor?
Die uwe het as ’n Nuwejaarsvoorneme besluit om gewig te verloor, my maag te laat kleiner word sodat driekwart van die items in my klerekas, wat nie veel is nie, maar tog, my weer sal pas. En ek het, wonder bo wonder, daarmee volgehou tot nou deur die ou beproefde (vir my altans) ‘Drinking man’s
Die uwe het as ’n Nuwejaarsvoorneme besluit om gewig te verloor, my maag te laat kleiner word sodat driekwart van die items in my klerekas, wat nie veel is nie, maar tog, my weer sal pas.
En ek het, wonder bo wonder, daarmee volgehou tot nou deur die ou beproefde (vir my altans) ‘Drinking man’s diet’ te volg. Die reëls is eenvoudig. Jy eet net proteïne en slaai of sekere groente, en sny stysel en suiker heeltemal uit. Behalwe so nou en dan wanneer die energievlakke te laag daal. Die goeie nuus is ’n glasie whisky/wyn of twee wanneer die son sak is heel toelaatbaar. Waarskynlik die hoofrede waarom ek reeds drie-en-’n half-maande met die dieët volhou. Dis die goeie nuus, Die slegte nuus is, ek het nog net agt kilogram afgeskud.
’n Doktersvriend van my sê die twee redes daarvoor is omdat my metabolisme weens my hoë ouderdom baie stadiger is as vroeër, en die belangrikste faktor is ek kry nie genoeg oefening nie. Ek is bevrees die tweede rede is ongelukkig baie geldig, en ek gaan nou doelgerig elke dag moet oefening kry deur redelike ente te gaan stap.
Met die twee Maltesers wat self twee redelike pensies het. ’n Interessante verskynsel wat ek opgemerk het, is dat ek in die (redelik verre?) verlede met ’n gewig van 84kg baie min ekstra gewig om my maag gehad het, maar nou is die maag nog redelik prominent. My doktersvriend sê dis logies want bejaardes se spiermassa is baie minder as in hul jonger jare, daarom moet hulle minder weeg as in die verlede om van oortollige vet ontslae te raak. Wat dit dus beteken het hy verklaar, die uwe sal nou sowat 74 kg moet weeg om dieselfde te lyk as 78 kg, my ‘fighting weight’ van so 10/15 jaar gelede. Dus nóg 10 kilos om af te skud. Sug. Ek gaan egter vasbyt.
My jongste poging om gewig te verloor herinner my aan ’n vorige episode sowat vyf jaar gelede, en wat ek destyds geskryf het: “Gedurende die skoolvakansie het ons kleinkinders en hul ouers hier gekuier, en ons is Ramsgate toe vir die dag. Na die swemmery sit ons by een van die strand se eetplekke, terwyl die kinders hul roomyse geniet, en ons volwassenes elkeen ’n wafel met room en heuning eet, kyk ek na die mense op die strand. Wat my dadelik opval is hoe oorgewig die meeste van hulle is. Veral dié wat nie meer jonk is nie. Selfs van hulle wat nog nie dertig jaar oud kan wees nie. Selfbewus kyk ek af na my eie maag wat die afgelope paar jaar gegroei het. Ek eet nie baie nie, drink nie bier nie, maar wyn en whisky wanneer die geleentheid daar is. Ek kry egter geen oefening nie, waar ek in my jonger jare muurbal gespeel, gereeld gedraf en basies dieselfde eetgewoontes gehad het.
Ek was in 1988 vier maande lank op kursus by ’n militêre kursus in Taipei in Taiwan. Wat my onmiddellik opgeval het, was hoe maer en fiks die mense daar was. Die Taiwanese het drie keer per dag volle maaltye genuttig, die meeste van hulle by straat-restaurantjies of -eetplekke, en selfs in hul tagtigs en negentigs, geen vet aan hul liggame gehad nie. Hulle is baie lief vir vars roerbraai-groente. Die generaals by wie ons klas geloop het, in hul sestigs en sewentigs, van Tsjiang-Kai Sjek se oorblywende offisiere, was almal soos lunsrieme.
In die strate het ek egter heelwat oorgewig Taiwanners opgemerk, veral onder die jonger ouderdomsgroepe, en selfs kinders. Waarom sou hulle dan so oorgewig wees? Navraag by die geneesheer van die kollege het aan die lig gebring dis die mense wat nie meer tradisionele Chinese kos eet nie, maar McDonalds en Kentucky Fried Chicken-etes.
Die tradisionele Chinese, ook op die vasteland, se daaglikse kos bevat geen sout nie, en hulle gebruik Sojasous. Ook geen of bitter min suiwelprodukte nie. Hulle eet baie vars groente, vars en soms rou vis, nooit gevries nie, en meesal hoender en eend. Geen suiker nie, en gebruik vrugte-ekstrakte as versoeters. Hul stysel is hoofaaklik rys en noedels. Hul tradisionele nageregte word van vrugte, plante en selfs blomme gemaak.
Die Chinese sê die Chinese kitskos wat oorsee beskikbaar is, is ‘San Francisco-kos’. In ’n stadium was Chinese en Japanners, veral lg., die langslewende mense op aarde. Maar soos die Westerse invloede en ‘gemorskos’ meer gewild geraak het, het hul lewensverewagting ook afgeneem. Daar sit ek toe by die strand op Ramsgate met al hierdie gedagtes in my kop, my wafel en my boep. Net daar besluit ek om hom vaarwel toe te roep. Dit gaan dalk ’n lang afskeid wees, maar hy gaan my verlaat. Weens soveel vorige pogings was vroulief se siniese kommentaar egter: ‘Dag Nella’. Wat dit ookal mag beteken.”
Dit was destyds. En vroulief was reg. Ek het die gewig wat ek daarna verloor het, weer geleidelik opgetel. Die rede vir my 2025-nuwejaarsvoorneme. Wat ek nie gaan verbreek tot nog 10kg, en my gehate boep, verdwyn het nie. Njannies.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
