Sharks se duur spelers help nie veel nie
’n Driftige gesprek het Maandag plaasgevind tussen Oom Pottie en van ons gereelde besoekers wat almal stoere ondersteuners van die Sharks is. Dit het begin toe Oom Pottie sy ontevredenheid uitgespreek het met wat hy genoem het die Sharks se ‘strooptogte op ander franchises’, en hy het spesifiek verwys na die mees onlangse ‘kopie’, Edwill
’n Driftige gesprek het Maandag plaasgevind tussen Oom Pottie en van ons gereelde besoekers wat almal stoere ondersteuners van die Sharks is. Dit het begin toe Oom Pottie sy ontevredenheid uitgespreek het met wat hy genoem het die Sharks se ‘strooptogte op ander franchises’, en hy het spesifiek verwys na die mees onlangse ‘kopie’, Edwill van der Merwe van die Lions. Verlede week is aangekondig dat Van der Merwe, een van die sterre van die Lions en ’n groot gunsteling op Ellis/Emiratespark, nie sy kontrak met die Lions aan die einde van die seisoen gaan hernu nie, en hom by die Sharks gaan aansluit.
Pottie was drifting hieroor. ‘Natuurlik het die eienaars van die Sharks, die Amerikaanse miljardêr, die KZN-rugby-unie en Supersport hom ’n aanbod gemaak wat hy nie kon weier en wat die Lions nie kon troef nie. Kyk hoeveel van ons spelers het julle reeds gekoop. Onder andere die Tsithuka-broers, die Hendrickse-broers, Ruan Dreyer en van ons beste jong spelers oor die afgelope jare. Die Lions se rugbyunie bestuur hierdie spelers met sorg na die topspan, net om hulle te verloor. Dis nie regverdig nie. Om nie te praat van die groot Springbokname soos Kolisi, Etzebeth en andere nie. SARU moet iewers beperkinge instel. Geld kan nie alles oorheers nie.’
Ek het simpatie met Pottie se sentimente, maar soos die ander besoekers ook uitgewys het, dis hoe beroepsport werk. Oral in die wêreld. Geld praat. Borge het ’n groot invloed. Lojaliteit aan ’n span word bepaal deur die moontlikhede wat ’n speler het om finansiële sekuriteit te verseker. Die Lions se eienaars, die miljoenêr Robert Gumede en mede-sakeman Ivor Ichikowitz, en die borg Emirates, kan ooglopend nie die Sharks se eienaars en die borg Hollywood Bets se finansiële vermoëns ewenaar of oortref nie. Dis die realiteit. Soos die geval ook is met die Blou Bulle en ander unies, bv. die Stormers. En die arme Cheetahs. Die Pumas. Ewenwel, die gesprek het in ’n goeie gees geëindig, hoewel daar baie vrae was oor die Sharks se onvermoë, om ten spyte van hul spul duur spelers, beter te presteer. Maar dis ’n ander gesprek.
Ons loopstorie is uit Pottie se argief.
Twee ouens gaan na die een se huis nadat die kroeg toemaak. Daar is nog twee biere in die een se yskas. Hulle slinger die straat af tot by die huis. Die een sluit sy huis oop. Hulle stap in die huis in en hy sê: “Sien jy hierdie sitkamer, dis my sitkamer. Sien jy daardie TV, dis my TV en daardie stoel voor die TV, dis my stoel.”
Hulle stap die gang af en hy maak die slaapkamerdeur oop en sê: “Sien jy die slaapkamer, dis my slaapkamer. Sien jy die vrou in die bed, dis my vrou en sien jy die ou langs haar in die bed, dis ek.”
Hulle stap verder kombuis toe en sy pêl sê: “Die ou langs jou vrou is nie jy nie.”
Die ander een sit sy vinger voor sy mond. “Sjuut, hou jou bek, moet hom nie wakker maak nie, ons het net twee biere.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
