BLOG: Omskep jou bekommernisse in gebede
Ons leer egter ’n belangrike les uit Paulus se gesindheid en optrede: jou innerlike gesteldheid moenie afhanklik wees van jou uiterlike omstandighede nie.
Verbly julle altyd in die Here. Ek herhaal, verbly julle! So lui die bekende Filippense 4:4. Daar is egter so baie dinge in die lewe wat mens se vreugde kan steel. Dink maar aan dinge soos vrees vir die toekoms, onvergenoegdheid, gebrek aan ’n vertrouensverhouding met die Here, murmurering, om in die verlede te leef, biddeloosheid, ontevredenheid, die onvermoë of onwilligheid om jou seëninge te tel.
Dit is vreemd dat ’n man wat in die tronk sit, Paulus, vir ’n gemeente kan skryf om bly te wees. Ons leer egter ’n belangrike les uit Paulus se gesindheid en optrede: jou innerlike gesteldheid moenie afhanklik wees van jou uiterlike omstandighede nie. Paulus was bly en vol vreugde, omdat hy geweet het dat Jesus Christus met hom was, wat ook al sy omstandighede. ’n Hele paar keer moedig hy die Filippense aan om bly te wees, waarskynlik omdat hulle dié soort aanmoediging nodig gehad het. Dit is maklik om mismoedig te raak as dit sleg gaan. Dit gebeur ook maklik dat ’n mens toelaat dat onbelangrike dinge jou ontstel.
Jy ervaar egter volkome blydskap wanneer jy wéét dat Christus in jou is. Met Christus se terugkeer sal jy die volle impak van hierdie blydskap voluit ervaar. Dis egter ? feit dat ons in die hier en nou leef en met baie uitdagings te make het, sommige mense meer as ander. Elke mens bekommer hom immers oor iets: dinge by die huis, by die werk, by die skool. En tog sê Paulus dat jy jou bekommernisse in gebede moet omskep. As jy dus graag minder bekommernisse wil hê, bid meer! Elke keer as jy voel hoe die bekommernis oor jou toesak, moet jy eers halt roep en dit in gebed voor God lê.
Dán kom jy agter hoe God se vrede oor jou hart en gedagtes die wag hou (Filippense 4:7). Dit beteken ook nie maar net die afwesigheid van konflik, of dat jy heeldag kop in die wolke loop nie. nie. Nee, jy het ware vrede wanneer jy wéét dat die Here in beheer is, dat jy ’n burger is van die hemel, dat God jou veilig in sy hand het. Dan het mens rede tot blydskap.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
